Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Die ANC is behep met ras en geslag

Swart Amerikaners wat die teikens is van polisiegeweld het twee onverwagte bondgenote bygekry: die ANC en die Nelson Mandela-stigting (deesdae maar een en dieselfde ding).

Die dood van George Floyd in Minneapolis asook aanvalle op dr. Nkosa­zana Dlamini-Zuma op sosiale media het die ANC genoop om Donderdag ’n veldtog teen rassisme van stapel te stuur wat onder meer die dra van swart T-hemde op Vrydae vereis.

Veral twee dinge kwel die party: Eerstens dat swart mense se lewens in Amerika klaarblyklik min waarde het, soos blyk uit polisiegeweld teen Floyd en ander Afro-Amerikaners; tweedens dat wit rassiste skuil agter die geniepsige kritiek teen Dlamini-Zuma, die vrou wat die nors gesig van die wêreld se strengste inperking is.

Eerstens oor die polisie: Min mense in ordentlike geselskap sal die optrede probeer goedpraat van Derek Chauvin, die polisieman wat op 25 Mei vir amper nege minute met sy knie op die nek van die ongewapende Floyd gedruk het selfs nadat Floyd sy polsslag begin verloor het. Ordentlike mense kan wel wonder wat die ANC laat dink hy het die morele gesag om hom hieroor uit te laat.

Die polisie in Amerika het verlede jaar 1 099 mense doodgemaak, volgens die projek Mapping Police Violence. 264 van hulle was swart.

In Suid-Afrika wys die jongste jaarverslag van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) dat 393 mense in onderonsies met die polisie dood is verlede jaar, asook 214 in polisieaanhouding. Dis 607 sterftes. Voeg hierby 270 klagte van marteling, 124 van verkragting in polisieaanhouding en 3 835 van aanranding.

Swart mense wat in konfrontasies met die polisie is, het ’n veel kleiner kans om so ’n konfrontasie in Suid-Afrika as in Amerika te oorleef.

Die ANC se gepreek oor polisiegeweld teenoor swart Amerikaners val ook op as vals omdat die party steeds nie die dood van Collins Khosa veroordeel het nie.

Tydens die Covid-19-inperking het die veiligheidsmagte se optrede al tot die dood van 11 swart mans in Suid-Afrika gelei.

In Suid-Afrika onder ANC-bewind word swart mense, wat in apartheid onberekenbare pyn moes verduur, verarm deur korrupsie, daagliks verneder in skole met puttoilette, en snags aangerand deur misdadigers wat soms polisie-uniforms dra.

Hulle lewe korter as hul wit Suid-Afrikaanse landgenote – maar ook 15 jaar korter as swart mense wie se lewens in Amerika nou in die kollig is.

Dit ruik na siniese politiek wanneer die ANC, wat soveel beheer het oor die lewensverwagting van swart mense hier, hom uitlaat oor die lot van swart mense ver hiervandaan teenoor wie die party nie aanspreeklik is nie.

Dit pas egter die ANC om oorwegend kapitalistiese Westerse regerings vir morele kritiek uit te sonder terwyl lande met anti-imperialistiese geloofsbriewe soos Venezuela of Iran die ANC se oordeel gespaar bly.

Die ANC se gepreek oor polisiegeweld teenoor swart Amerikaners val ook op as vals omdat die party steeds nie die dood op 11 April veroordeel het van Collins Khosa nie, wat in Alexandra doodgeslaan is in ’n onderonsie met soldate van die SANW.

In ’n godskreiende manifestasie van identiteitspolitiek en die ANC-regering se oorlog teen aanspreeklikheid is Khosa se dood in ’n interne weermag-ondersoek aan geslagsongelykheid toegeskryf, en die soldate vrygeskeld.

Die ondersoekpaneel het bevind die oorsaak van die botsing tussen Khosa, die soldate en metropolisielede was “geslagsongelykheid en uitlokking, spesifiek die gebrek aan respek teenoor twee vroulike soldate deur twee mans”.

Ten minste het Khosa daarvoor geboet, nè?

Tweedens oor Dlamini-Zuma: Volgens die ANC is dit die demoon van rassisme asook “vrouehaat” wat agter aanvalle op die minister skuil – ’n sentiment wat klakkeloos deur een van die land se voorste sakejoernaliste nagepraat is. Ek wonder of die ANC ook glo rassisme en vrouehaat was die rede vir regter Norman Davis van die hooggeregshof in Pretoria se striemende aanval op Dlamini-Zuma, wie se Covid-19-regulasies volgens die hof irrasioneel en ongrondwetlik is . . .

Terwyl daar wel plek-plek nare klanke van rassisme in twiets oor “NDZ” was, is dit mos bog om alle aanvalle teen haar met verwysing na haar ras en geslag eerder as haar gebrek aan bevoegdheid te verduidelik.

Sommiges sien rassisme en seksisme in alles raak en berokken só die stryd teen rassisme en seksisme waar dit wel manifesteer groot skade.

In ’n verklaring Vrydag het die Nelson Mandela-stigting byvoorbeeld gesê “betogings in reaksie op die dood van swart mense in optrede deur die polisie of weermag – George Floyd in die VSA, Collins Khosa in Suid-Afrika . . . – is aanduidend van ’n groeiende woede wêreldwyd oor hardnekkige wit heerssugtigheid en die gebruik van staatsgeweld om dit in stand te hou. Soos wat die geval in Suid-Afrika wys, vind ’n mens sulke geweld selfs in lande waar swart mense die hefbome van mag in die regering en die staat vashou.

“Dit is duidelik dat 26 jaar van demokrasie in Suid-Afrika steeds nie kon verseker dat swart lewens ewe veel saak maak as wit lewens nie. Dit is tyd vir ’n sober beoordeling van ’n geharde wit heerskappy in ons land, in die VSA en wêreldwyd.”

Khosa se dood het niks met wit rassisme of seksisme uit te waai nie, net soos Dlamini-Zuma nie sleg genoem word omdat sy ’n swart vrou is nie.

As ons ’n beter land wil bou, sal ons moet ophou om rassisme en seksisme as ’n verduideliking te gebruik vir alles wat hier by ons fout is.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.