Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Die ANC is die siekte eerder as die kuur

Die regering is beter daarmee om te “verhoed” as om te “voorsien”, skryf die Stellenbosse wetenskaplike dr. Nic Spaull in die Financial Mail.

Ek sou selfs verder gaan: Die ANC-regering is nie ’n entstof nie, maar die virus wat ons siek maak. Die klem is nie op aanspreeklikheid of dienslewering nie, maar op bekamping en beletsels in regulasies wat volgens berekenings deur Sakeliga nou al 1 613 blaaie beslaan.

Terwyl die jongste regulasies die koop van alkohol en familiekuiers strafbare misdade maak, versuim die staat om hospitaalbeddens van suurstof te voorsien en armes van beloofde geldhulp, en kan misdadige kaders doen net wat hulle wil.

“Twee maande nadat minstens vier miljoen Suid-Afrikaners hul inkomste verloor het, het slegs 117 000 die spesiale Covid-19-noodtoelaag teen 31 Mei ontvang,” het Spaull Woensdag geskryf in ’n ysingwekkende opgaaf van armes – swart vroue, meestal – se lyding weens die inperking, waarvan die 17de week gister aangebreek het. Altesame 40% van huishoudings het in Spaull en kie se reusepeiling gesê hul hoofbron van inkomste is sedert 27 Maart daarmee heen. 47% se kosgeld het in April al opgeraak.

Dit strook met Rapport en City Press se April-navorsing, waarvolgens een uit vyf mense net genoeg geld gehad het om kos vir nog een week te koop.

Hoewel die virussiekte self ’n ongekende skok deur die ekonomie gestuur het, is die vraag na baie dienste en produkte verder gerem, en mense dus verder verarm, deur die aard van die inperking: ’n Wrede burokratiese borstrok wat burgers vir net drie weke sou beperk en waarvan die doel was om ’n bietjie tyd vir die hospitale te koop omdat ons wis die Covid-19-storm kóm.

Die pligsversuim laat mens stik.

In geen provinsie waar die ANC regeer, is hospitale egter voldoende voorberei nie, sê die gesondheidsekonoom Alex van den Heever.

Die pligsversuim laat mens stik.

Terwyl meer as 270 000 mense in hegtenis geneem is omdat hulle hul plig versuim om die strande te vermy of van vriende weg te bly, en terwyl miljoene mense gekeer is om ’n inkomste te verdien, selfs in gevalle waar dit veilig gedoen sou kon word, het die staat sy beloftes verbreek om die armstes van kosgeld te voorsien. Op 5 Julie het Rapport se Jan de Lange berig dat net 15% van dié wat kwalifiseer vir die Covid-19-noodtoelaag van R350 teen daardie tyd hul geld gekry het omdat die regering geweier het om die private sektor en banke se aanbod van hulp te aanvaar. Steeds is net R1,2 miljard uit R20 miljard uitbetaal (lees De Lange se rubriek hiernaas).

Terwyl min van ons weet of ons volgende maand nog sal kan werk, en ’n geskatte drie miljoen reeds hul werk kwyt is, is staatsposte meestal gewaarborg en het die SAL Donderdag nog R10,1 miljard gekry. “Ons neem R10 miljard van belastingbetalersgeld weg by hospitale om ’n lugdiens te finansier wat nie kan vlieg nie,” het Marc Ashton opgemerk.

By die SAL en elders word swak prestasie nooit gestraf nie.

Terwyl Ramaphosa op 29 Mei 2019 al belowe het elke kabinetsminister sal ’n prestasiekontrak teken, het dit steeds nie gebeur nie. Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Covid-19 dié week vir die versuim blameer.

Terwyl Ramaphosa spog oor aanspreeklikheid, het hy steeds nie opgetree nie teen die direkteur-generaal van die Staatsdienskommissie, Dovhani Mamphiswana, wat in Desember 2019 die ma van sy kind as hoofdirekteur vir professionele etiek aangestel het.

Terwyl die ouditeur-generaal se jongste verslag massale diefstal in ANC-rade uitwys, het Ace Magashule, sekretaris-generaal, laas Sondag ontken dat die swak ontplooiing van kaders al ooit ’n probleem was, en gesê dat wanneer swart mense uitstyg, “word dit korrupsie genoem”.

Geen entstof kan ontwikkel word vir die virus van korrupsie en straffeloosheid as die ANC dit doog nie.

By ’n roudiens vir ’n kollega Woensdag het die Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Xolile Nqatha, gepleit dat kaders wat tydens die Covid-19-pandemie van wandade verdink word in ’n provinsie waar die gesondheidsdepartement leeg gesteel is en pasiënte met mekaar oor suurstof baklei, uitgelos word.

“Die uitdagings van hierdie koronavirus vereis dat kaders nie gestres moet wees nie, want dit verswak hul immuunstelsel. So, as jy oorweeg om iemand te dissiplineer wat aanspreeklik gehou moet word weens wandade, en as daardie persoon in kwarantyn is omdat hulle siek is, moet nie teen die persoon optree nie. Dit is on-ANC. Dit is nie kameraad-agtig nie. Kom ons behandel mekaar soos kamerade. As jy optree teen iemand wat in kwarantyn is, en daai persoon is gestres, kan sy immuunstelsel die virus nie beveg nie en sal hy doodgaan. Deel van ons hernuwing is om weer te dink oor hoe ons mekaar behandel.”

Só ’n ANC kan nooit die kuur vir ’n land in die waaksaal wees nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.