Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Die etiket ‘rassis’ tot niet in dié heksejag

Dit was onafwendbaar dat Lindsay Dentlinger, die eNCA-joernalis wat gebrandmerk is as “rassis”, ook met verkragting en die dood gedreig sou word, dreigemente waaroor die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) die afgelope week hul skok en afgryse uitgespreek het, soos hulle natuurlik moet.

Die dreigemente was onafwendbaar want die publiek is reeds vertel dat Dentlinger nie mens is nie, maar rassis, nie vrou nie, maar heks, nie bruin nie, maar wit. Wat maak die feite in elk geval saak?

Toe Dentlinger ontken sy is ’n rassis, het haar kritici soos Middeleeuse kerkvaders alswetend kop geskud en onthou dat dit destyds die ware hekse was wat die hardste geprotesteer het dat hulle nie hekse is nie. Ontkennings van heksery is 400 jaar gelede summier verwerp, net soos ontkennings van rassisme vandag, wat immers bloot bewys jou rassisme is so diep gewortel dat jy salig onbewus is daarvan.

Die skrywer Robin DiAngelo (White Fragility: Why It’s So Hard for White People to Talk About Racism, 2018), wie se denke oor rassisme ook hier gesprekke oor ras besmet het, hou immers vol die “funksie” daarvan om te ontken jy is rassisties, is “om rassisme te verberg en wit oorheersing te beskerm”.

Dentlinger se offerdood op ’n Twitter-brandstapel was dus nie die onbedoelde en betreurenswaardige gevolg van ’n welmenende veldtog teen rassisme nie – dit was die enigste logiese voltrekking daarvan. Sy sou altyd moes sterf sodat haar huigelagtige aanklaers hul eie deug kon vertoon in die gloed van die vuur.

Die eise dat nie net Dentlinger se loopbaan tot niet gemaak word nie, maar dat sy ook moet sterf, het gevolg nadat twee kort video’s op 24 Februarie op Twitter versprei is wat dit laat lyk het of sy slegs vir swart politici vra om hul maskers tydens onderhoude op te sit, terwyl wit mense maskerloos kon voortgaan.

Twitter het in verontwaardiging ontplof. eNCA se verduideliking dat Dentlinger nie rassistiese motiewe gehad het nie, was olie op die vuur.

Die UDM, een van wie se twee (swart) LP’s deur haar gevra is om ’n masker te dra, het gesê haar optrede “het die boodskap uitgestuur dat wit Suid-Afrikaners Covid-19-veilig is en swart Suid-Afrikaners nie”.

Sbu Ngalwa, voorsitter van Sanef, het die volgende dag die eerste ses minute van ’n jaarlikse mediakonferensie met pres. Cyril Ramaphosa gebruik om nie die aanvalle op sy medejoernalis Dentlinger te veroordeel nie, maar eerder by Ramaphosa om vergifnis te smeek vir joernaliste se “onbewuste vooroordeel”: “Ek dink dit is belangrik om te erken dat die woede van diegene wat kwaad is oor hierdie insident, geregverdig is. Die individue wat beledig voel, het ’n reg om kwaad te wees en hulle het ook ’n reg om gehoor te word. Ons moet nie hul gevoelens afwys nie. Die land het ’n donker en pynlike geskiedenis van rassevooroordeel en geweld en dit is nie die plek van enigiemand om te sê mense wat voel hulle is weens hul ras beledig, is kwaadwillig nie,” het Ngalwa gepreek.

Van hierdie walglike laagtepunt af was dit afdraand.

Eusebius McKaiser, Suid-Afrika se hoëpriester van anti-rassisme, het dadelik laat weet “ons moet die produktiewe ongemak normaliseer van die vraag: ‘Is ek ’n rassis?’ #LindsayDentlinger” en sy 330 000 volgelinge geadviseer: “Moenie bang wees om te verken wat iemand se optrede oor hul karakter onthul nie.”

Toe die ANC aankondig hy gaan op 2 Maart landwyd betoog teen rassisme by eNCA se kantore, het McKaiser die datum, plek en tyd van die betogings lustig versprei.

Plakkate met die woorde “Rassiste het geen plek in demokratiese SA nie” en “Corona is nie ’n swart virus nie” is daar vertoon.

As Sanef se voorsitter jou offer in ’n poging om gat te kruip by die president; as McKaiser lesings oor jou hatige siel afsteek op Instagram en Facebook; as die ANC jou tot die gesig van wit opperheerskappy reduseer, moet jy seker iets sê, het Dentlinger teen dié tyd besef.

Op 2 Maart erken sy sy het eNCA se (nuwe) beleid verbreek deur nie vir Pieter Groenewald te vra om ’n masker te dra nie, maar ontken dit was weens ras. Sy het “nie bedoel” om die twee swart LP’s wat sy wel gevra het om hul maskers te dra, te beledig nie, het Dentlinger gesê.

Sy onthul ook: Sy is bruin. “Wat van die onbewuste vooroordeel van mense wat die hele opskudding gebaseer het op die feit dat hul persepsie was dat ek wit is, en daarom rassisties opgetree het?”

Die groot deurbraak vir geregtigheid was ’n ontleding van dosyne Dentlinger-onderhoude op 4 Maart deur News24, wat wys dat sy sedert Oktober 2020 swart én wit politici sonder maskers laat praat het, en swart én wit politici gevra het om hul maskers te dra.

Dit het nie meer saak gemaak nie.

Slagoffers van regte rassisme ween, want die etiket “rassis” het betekenisloos geword. Diegene wat onbillik só genoem word, behoort hul klaers as die ketters te onbloot.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.