Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Die geld is op (maar nie vir almal nie)

‘Die geld is op,” skreeu die opskrifte Donderdag ná die minister van finansies se koddig desperate dansie in die parlement.

Koddig omdat Tito Mboweni byna strykdeur geglimlag het asof hy vir ons iets vertel wat hom uitermate amuseer; desperaat omdat hy soos in soveel vorige toesprake soos hierdie een gesê het wat baie van ons al lankal weet gedoen moet word met die SAL (verkoop dit!), maar wat nie gedoen sal word nie omdat Mboweni geen mag het nie en omdat die wil en ruggraat by sy president ontbreek.

Dalk het Mboweni so skalks geglimlag omdat die geld nie vir almal op is nie.

Besteding aan die behandeling van servikale kanker is met R54 miljoen verminder en die toedeling vir die bou van skole-infrastruktuur is ingekort met R40 miljoen, maar in hierdie boekjaar sal R2,75 miljard gevind word vir die beskerming van baie belangrike persone en vir wat genoem word “statiese en mobiele sekuriteit” – nie ’n sent word aan dié begrotings besnoei nie.

Die geld is nie vir almal op nie.

Mboweni wou ons laat glo minder geld sal voortaan op ministers se wiele geblaas word, en het groot gewag gemaak daarvan dat etlike honderde lede van die uitvoerende gesag geen verhogings moet verwag nie, maar dis ’n fiksie dat die mense wat die gemors veroorsaak het nou daarvoor gaan betaal.

Terwyl die soustrein sonder brieke voortstoom, gaan die land ten gronde en verloor tienduisende mense elke week hul werk.

Die geld is nooit vir hulle op nie.

Staatsamptenare wat dalk glo hulle dien die revolusie deur in ’n ANC-administrasie te dien, is so dikgevreet by die trog dat hulle die armes nie meer verby hul pense kan sien nie.

Altesame 29 000 van hulle verdien nou meer as ’n miljoen rand per jaar, meer as dubbel die getal in 2006, het Mboweni gebieg. Staatsdienssalarisse het die afgelope dekade met 66% toegeneem nadat inflasie in ag geneem is, het hy gesê. Ann Bernstein van die Centre for Development and Enter­prise bereken die gemiddelde salaris in die staatsdiens het tussen 2006 en 2016 met 11% per jaar gestyg.

Dit het grootliks op die wagbeurt van Pravin Gordhan gebeur.

Terwyl die soustrein sonder brieke voortstoom, gaan die land ten gronde en verloor tienduisende mense elke week hul werk.

Vir hulle is daar nie geld nie.

Die afgelope week het die werkloosheidskoers 29,1% bereik – die hoogste sedert 2008, terwyl ongelykheid toeneem, die gehalte van onderwys agteruitgaan, en die regering aanhou geld leen om Eskom en die SAL te stut nadat ’n ANC-rowerelite dit leeggesteel en in die grond in bestuur het.

Want sien, in die oë van die ANC is die geld nooit regtig op nie: Hul eie kaders staan in beskermde arbeid en as die staatskas leeg raak, dan leen mens mos net weer.

Nuwe projeksies wys dat staatskuld, wat nou staan op R3 000 miljard, in die volgende drie jaar met die helfte gaan vermeerder tot minstens R4 500 miljard, sodat ons reeds amper soveel bestee om rente op dié skuld te betaal as aan gesondheid.

Oor die SAL het Mboweni ’n groot waarheid gespreek toe hy sê: “Ons het gekies om die middelklas en rykes te subsidieer om in die land en ander wêrelddele rond te vlieg eerder as om werkers te subsidieer wat sit op ou treine wat dikwels breek, sodat hulle laat kom vir werk.”

Waarom?

Want vir die links-dogmatiese ANC is die eindelose subsidiëring van die SAL ten koste van die armes verkieslik bo privatisering, wat ’n sogenaamd strategiese bate in die hande van die bose privaat sektor sal laat beland.

Die volgende terrein van plundering en verval is gesondheid.

Hoewel Rapport verlede Sondag berig het ’n eenheid in die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het R150 miljoen vir linne gekry – sonder om ’n enkele laken te koop – het Ramaphosa verklaar dat die regering “onherroeplik verbind” is tot dié gek plan.

Soos met al sy vorige gek planne sal die regering hom nie deur waarskuwings oor rampspoed van stryk laat bring nie – al sal Ramaphosa noodwendig op die ou end oor die slegte uitkomste geskok wees.

Dit sal hom loon om na die bevindinge te kyk van Solidariteit se studie oor wat dokters van die NGV sê.

Net 15% van respondente wil in Suid-Afrika bly as die NGV geïmplementeer word. Altesame 85% sê die stelsel kan die land se hele gesondheidstelsel destabiliseer . . .

Een uit vyf sê die NGV is een van die redes waarom hulle begin het om stappe te doen om die land te verlaat.

Sal dit Ramaphosa traak? Sal ons naderende bankrotskap hom laat spyt kry dat sy regering niks, maar niks gedoen het om te keer dat die SAL hoogte en Eskom stoom verloor nie, al was hy vir jare in die sogenaamde Eskom-oorlogskamer in beheer?

Ek is nie so seker nie.

Want terwyl die armes se geld op is en belastingbetalers gewaarsku is om hulle vir verhogings in Februarie se begrotingsrede te staal, is die ANC se geld nooit op nie, want hulle kan altyd nog by die burgery en die gehate internasionale markte leen.

Hierdie regering is nie pro-armes soos wat hy sê nie. Hulle is eerder pro-armoede. Behalwe vir hulleself.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.