Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar: Die linne ruik dan steeds na die oubaas

Toe Jacob Zuma Sondag deur die ANC-topses gevra is om te bedank, het hy vir hulle gesê hy het niks verkeerd gedoen nie.

Die party se nasionale uitvoerende komitee, sy nasionale werkkomitee en die einste topses het immers destyds sy verskoning oor Nkandla aanvaar, al het die konstitusionele hof op 31 Maart 2016 al bevind Zuma het versuim om die Grondwet te verdedig, te handhaaf en te respekteer.

Toe dieselfde hof in Desember 2017 bevind het dat die parlement eweneens versuim het om Zuma in die nadraai van die 2016-Nkandla-uitspraak aanspreeklik te hou, het Gwede Mantashe, een van die “goeies” in die ANC, die DA se dreigemente oor ’n ampsklag teen Zuma as “politiekery” afgemaak.

So onlangs soos Desember – en lank nadat die #Guptaleaks-e-posse begin rugbaar raak het.

Sondagaand het Zuma sy voorheen lojale kamerade ook daaraan herinner dat hy laas maand ingestem het tot dramatiese ingrypings by Eskom, op aandrang van die ANC-president, Cyril Ramaphosa, en natuurlik finansiers.

En hy het daarop gewys dat hy ’n kommissie van ondersoek in die lewe geroep het na staatskaping, wat reeds aangedui het sy fokus sal op Gupta-verwante wandade val en nie mik om ou apartheidskoeie op te grawe nie. Dit kan Zuma en sy familie nogmaals blootstel aan strafregtelike klagte.

Zuma het gesê hy kan daarom nie sien wat “nuut” is nie. Niks het tog verander nie. Waarom moet hy nóú waai?

Die ANC is nog steeds in belangrike opsigte presies dieselfde ANC wat Zuma soveel jare lank  beskerm  het.

Sy ampstermyn strek nog tot iewers tussen Mei en Augustus 2019, wanneer die Onafhanklike Verkiesingskommissie kragtens wet ’n algemene verkiesing moet uitroep.

Dit is ironies dat dit in ’n waterskeidingsweek soos hierdie juis Zuma is wat die waarheid praat as hy sê dat niks aan sy gedrag verander het nie.

Want presies daardie gedrag van Zuma wat kwansuis nou vir sy party die verskoning gee om hom uit te stoot, is al nege jaar lank sy gedrag.

Nooit het dit die ANC gepla nie.

Die party, van sy takvoorsitters tot by Mantashe en Ramaphosa, het hom gepaai. Deur hom teen aanspreeklikheid in die parlement te beskerm, deur sy verskonings oor Nkandla en sy verduidelikings oor die Guptas (nie enduit nie, maar tog) te aanvaar, deur hul aanvalle op die howe te rig eerder as op Zuma self, het die ANC die monster geskep en gevoer waarvan hulle so moeilik ontslae raak.

Elke keer wat waarnemers ’n sug van verligting slaak en vir Ramaphosa loof omdat hy en Paul Mashatile en Manta-she uiteindelik die Zuma-gemors begin opruim, moet ons hulle daaraan herinner dat dit die ANC was wat die gemors gekies het as president.

Zuma het nie verander nie. Wat wel verander het, is die tydsgees: Gewone burgers het eindelik begin sien die keiser is kaal, al het byna die helfte van die afgevaardigdes na die ANC se leierskonferensie by Nasrec in Desember nog entoesiasties vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Zuma se gekose opvolger, gestem.

As slegs 90 afgevaardigdes anders gestem het, was NDZ nou die ANC se president. Laat dit insink: Tot letterlik agt weke gelede het die helfte van ANC-stemgeregtigdes die Zuma-waardes van sinisme, rassemobilisasie en plundery met hul stemme bekragtig.

En nou sing ons asof in ’n kerkdiens lofgesange oor ’n “nuwe” ANC?

Elke keer wat ons juig omdat Rama-phosa erns maak met die stryd teen korrupsie, wanneer ons die Valke sien toeslaan op ANC-hoës, moet ons onthou dat korrupsie nie in die ANC se verlede lê nie. Want selfs die party se meer hervormingsgesinde kaders glo dat die ANC die reg het om vir hom mag en hulpbronne toe te eien deur sy eie mense in sleutelposte te plaas.

A sense of entitlement writ large.

Korrupsie en kader-bevoorregting, asook blinde lojaliteit teenoor jou eie mense, is die ghries in die ANC se rammelende vierliter-trokenjin.

Wanneer Zuma sy sleutel vir oulaas in die posbus by Tuynhuys gooi, nadat hy die pantoffels, die handdoeke, die Egiptiese linne, die bedlampies en die VOC-silwer in sy toksak gegooi het, is die ANC nog steeds in belangrike opsigte presies dieselfde ANC wat die oubaas soveel jare lank beskerm het.

Dit is ’n party wat pal uit twee monde praat: Wat CNN-kykers uit Davos sjarmeer terwyl die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming planne bedink om alle grond in “kommunale” besit te plaas.

Dit is ’n party op wie se wagbeurt psigiatriese pasiënte weens verwaarlosing sterf. ’n Party wat nie genoeg damme gebou het nie en toelaat dat die land se waterinfrastruktuur tot niet gaan, maar wat die afgelope Woensdag met belastinggeld ’n advertensie uitneem in Business Day wat vra dat Suid-Afrikaners moet bid vir reën.

So, kom ons vier wat Ramaphosa reg doen sonder om ons plig as kritiese burgers te versaak. Die gordyne en die linne ruik steeds na JZ.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.