Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Dié perdedrolle is nie vye nie, Cyril

In elke krisis versprei opportuniste fopnuus en probeer kwakke wonderkure aan goedgelowiges smous. Dit geld die nuwe koronavirussiekte, Covid-19, asook die ekonomiese krisis waarin Suid-Afrika verstrik is.

Wat Covid-19 betref, het die radio-aanbieder Alex Jones probeer munt slaan uit die pandemie deur ’n tandepasta aan sy miljoene volgelinge te bemark wat die nuwe koronavirus kwansuis “doodmaak”.

“Superblue Fluoride-Free Toothpaste,” wat iets genaamd “nanosilwer” bevat, “maak die hele Ears-korona-familie morsdood,” het Jones Dinsdag op sy program InfoWars gesê.

Op sy beurt het ’n gas op die televisieprogram van die TV-evangelis Jim Bakker daarop gesinspeel dat “Silver Solution” die koronavirus uitknikker.

Die produk is vir ’n ruk in Bakker se aanlyn winkel verkoop.

Terwyl Amerikaanse owerhede die afgelope week vir sowel Jones as Bakker gewaarsku het om dadelik hul bemarking te staak van produkte wat geen bewese impak hoegenaamd op die koronavirus het nie, is Amerikaners vir weke deur hul eie president met bedenklike bulletins oor die virus gebombardeer.

Die ANC verkondig die onwaarheid dat onteiening sonder vergoeding die kitskuur vir die nalatenskap van apartheid is.

Pres. Donald Trump, wat hierdie week eers behoorlik wakker geskrik het oor die potensieel rampspoedige gevolge van die virus en toe sommer besoekers uit Europa verbied het, het verlede maand gespog “alles is onder beheer” en gesê nuusagentskappe soos MSNBC wat waarsku oor rampspoed maak hulle skuldig aan “fopnuus”. (Die 42 gevalle in Amerika op 1 Maart het intussen byna 2 000 geword en stede kom tot stilstand.)

Ondersteuners van Trump soos die radio-aanbieder Rush Limbaugh het gretig meegedoen aan die fopnuus-bombardement deur te verkondig die koronavirus is ’n politieke wapen wat geskep is om “Trump te kelder”, terwyl Jordan Sather, ’n YouTuber, sy volgelinge vertel het Covid-19 is maar net ’n “gier”, dat dit alles “beplan” is, en dat ’n sluk bleikmiddel jou gesond sal maak.

Net soos InfoWars onwaarhede versprei oor wat die “oplossing” vir Covid-19 is, verkondig die ANC dat onteiening sonder vergoeding die kitskuur vir die nalatenskap van apartheid is, naamlik dat te min swart Suid-Afrikaners die grond besit waarop hulle woon. En dit is inderdaad ’n moreel uiters problematiese nalatenskap wat aangepak moet word.

Die verskil tussen Alex Jones en Cyril Ramaphosa is egter dat heelwat meer mense vir Ramaphosa ernstig opneem. Die ANC se swak idees word regeringsbeleid, al is dit kortsigtig en onuitvoerbaar. Die voorgenome Grondwetwysiging is hiervan maar net een voorbeeld.

By herhaling al is die ANC gewaarsku die meeste Suid-Afrikaners wil nie grond hê nie, maar kontant; dat die meeste van dié wat grond wil hê, grond in of naby die stede eerder as landbougrond verkies; dat plase wat oorgedra word na die staat, meestal in onbruik lê; en dat dit onsinnig is om grond sonder vergoeding te onteien en dit dan in staatsbesit eerder as in die besit van hulpbehoewende en bekwame landbouers te plaas.

Die ekonomie krimp en beleggers vlug; tog beur die ANC voort met ’n plan wat eiendomsreg in Suid-Afrika minder eerder as meer seker maak.

In City Press skryf Martin van Staden van die Vryemarkstigting: “Die geskiedenis leer ons dat grondhervorming – as ’n maatskaplike verbetering – slegs daarin geslaag het om waardigheid en ekonomiese groei te bewerkstellig wanneer dit gepaardgegaan het met ’n respek vir private eiendomsreg. Ons sal dom wees om hierdie les te ignoreer.”

Waarom sien slim mense so maklik raak dat Alex Jones twak praat oor sy tandepaste, maar dan vreet ons die ANC se grondplan vir soetkoek op?

AfriForum se Ernst Roets het dit die afgelope week by ’n openbare sitting oor die grondwetwysiging in Soshanguve só beskryf: “Die ANC se najaging van onteiening sonder vergoeding is niks meer as ’n set om meer mag en plunderingsgeleenthede te ontsluit nie.” Hoe kan enigeen wat die feite ken hieroor met hom stry?

Ons moet pasop om in die najaag van die waarheid nie net mense te ontbloot wat op die oog af narre is nie, maar ook kwaksalwers ontbloot wat pakke en dasse dra en perdedrolle as vye aan ons probeer verkoop.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Onteiening  |  Wag 'N Bietjie  |  Covid 19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.