Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Die spook van Franco loop weer in Spanje

Selfs al bereik die Zuma-regime week ná week nuwe laagtepunte van vraatsug en magsug, is daar weinig Suid-Afrikaners, behalwe dalk vir Houtbaaise hippies, wat eis dat die gebied waar hulle woon nie meer deel van die Republiek behoort te wees nie.

Aangevuur óf deur die geloof dat dinge sal verbeter óf deur boedeloorgawe, reageer die meeste gegriefde Suid-Afrikaners op Pretoria se minagting van hul regte deur belasting te ontduik, te toi-toi, skole af te brand, vir die DA of EFF te stem of – die rykes se laaste uitweg – Potch vir Perth te ruil.

Terwyl Orania weliswaar met sy eie geldeenheid eksperimenteer en dit selfs à la Bitcoin wil digitaliseer, is daar in 2017 geen werklike aktivisme vir afstigting, selfbeskikking of selfs federalisme nie, al probeer al hoe meer mense om meer selfstandig te lewe en hul afhanklikheid van die mislukkende staat tot die minimum te beperk.

Die meeste Afrikaners, wat met rede voel hul taalregte word misken, beskryf hulself uitdruklik as “Suid-Afrikaners”. En in Limpopo se Vhembe-distrik vier aantygings van etniese voortrekkery al jare hoogty, maar in Vuwani, waar die skole so gebrand het, eien almal mekaar as Suid-Afrikaners.

Madrid sien rooi: Klopjagte keer Katalaanse regeringskantore op hul kop. Aktiviste word toegesluit.

Onafhanklikheidsbewegings kry aftrek wanneer genoeg mense in ’n afbakenbare gebied dieselfde griewe teen ’n sentrale regering deel.

Een so ’n beweging kom vandag in Europa voor sy grootste toets tot nog toe te staan.

Katalonië, die rykste van Spanje se 17 provinsies, het in weerwil van bepalings in dié land se 1978-grondwet ’n referendum uitgeroep waarin Katalane gevra word om te sê of hulle onafhanklikheid van Madrid wil hê.

Van die Katalane se generasies oue griewe – soos oor hul taal – sal by sommige Suid-Afrikaners resoneer.

Reeds in 1714 het Spanje se koning Felipe V die openbare gebruik van Katalaans verbied in skole, die uitgewersbedryf, drukperse en regering.

“Die logika was eenvoudig: Sonder hul moedertaal sal die Katalane nie meer separatistiese denke kan dink nie,” skryf Robert Hughes in sy boek Barcelona, ’n geskiedenis van die Katalaanse streek en sy sjarmante hoofstad.

Toe die diktator Franco in 1939 aan bewind kom, het ook hy nie net die Katalaanse weerstand teen sy bewind wreed beveg nie, maar sy visier opnuut op die taal gerig.

Duisende linkse Katalaanse aktiviste is vermoor en hul lyke in ’n steengroef in Barcelona gestort. Volgens Franco was Spanje ’n eenheid en Katalane wat hierdieander” identiteit in hulle gedra het, is voëlvry verklaar.

In 1966 was Katalaans nog ’n verbode taal. Selfs straat- en winkelname moes in Spaans wees. Franco se regering het plakkate opgesit met die woorde: “Katalaanse hond, praat die Christentaal!” of “Moenie blaf nie! Praat die taal van die empire!”

Ná Franco se dood in 1975 is die gebruik van Katalaans in so ’n mate genormaliseer dat meer jong mense as ou mense dié taal in die 1980’s kon praat.

Geleidelik het Katalaans die voertuig van ’n onafhanklikheidsimpuls geword.

Terwyl die Spaanse regering ’n referendum oor onafhanklikheid in 2014 geduld het omdat dit nie afdwingbaar was nie, het die Katalaanse provinsiale owerhede dié keer besluit vandag se referendum is “bindend”.

Madrid sien rooi: Klopjagte keer Katalaanse regeringskantore op hul kop. Aktiviste word toegesluit, al sê 82% van Katalane in peilings dat hulle die onwettige referendum wil hê (slegs 41% van Katalane sê hulle wil “ja” stem).

Die Spaanse polisie het op 10 miljoen stembriewe beslag gelê en sluit geboue waar stembusse opgerig word. Honderde Katalaanse burgemeesters wat daarvan verdink word dat hulle die referendum wil fasiliteer, word met inhegtenisneming gedreig, en die minister van buitelandse sake het plakkate van die afstigters as “Nazi-agtig” beskryf.

Die propaganda is giftig.

Op 3 September het ’n vrou op Twitter gesê ’n amptenaar van ’n sentristiese Spaanse party is ’n “vieslike teef” wat verkrag moet word. Tien dae later is ’n kandidaat van ’n separatistiese party met die dood gedreig.

Die Katalane sê die spook van Franco loop weer.

Gabriel Rufián, ’n charismatiese 35-jarige onafhanklikheidsaktivis, skryf: “Francoïsme het nie op 20 November 1975 gesterf in ’n bed in Madrid nie. Ons sê dat Franco gesterf het op 1 Oktober 2017 voor ’n stembus in Katalonië.”

Wat is die les hiervan?

Natuurlik kan nasionale regerings nie toegee aan elke eis om onafhanklikheid nie.

Maar as jy wil hê iemand moet voel soos ’n burger van jou land, en sentralisme nie as ’n ontkenning van hul identiteit ervaar nie, moet jy hom en haar behandel soos ’n volwaardige burger van die land, met verskeie oorvleuelende identiteite.

Hardhandige optrede teen burgers met geldige griewe is altyd eerder olie op hul vuur.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.