Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Die stem van rede was dié keer die DA s’n

Diegene vir wie dit belangrik is dat almal moet weet dat hulle nie soos Steve Hofmeyr is nie en beslis nie van hom of sy musiek hou nie al is hulle wit, en wat terselfdertyd glo dat niemand wat wel hou van Hofmeyr se musiek hom enige plek in die Republiek van Suid-Afrika moet kan hoor sing nie, het ’n taamlik moeilike week gehad.

Foto’s uit die Suid-Kaap het naamlik gewys dat die stadsaal van George Donderdagaand stampvol was tydens Hofmeyr se optrede as deel van sy toer “Skree”.

Onliberale, paternalistiese aktiviste wat deesdae ’n eng begrensde manier van leef en dink probeer afdwing op almal om hulle, en in wie se koppe daar maar een manier bestaan van Suid-Afrikaner wees, wou slange vang.

Die goeie opkoms by Hofmeyr se konsert moes vir hulle opnuut klinkklare bewys gewees het daarvan dat Gauteng se surplus wit rassiste almal vir hulle vakansiehuise langs die Tuinroete gaan oprig het sodat hulle onverstoord na die gesing en skree (sy woord) van ’n sanger van Hofmeyr se kaliber kan luister.

Hofmeyr se mense het amper nie hul konsert gehad nie.

Die DA-beheerde George-stadsraad het vroeër besluit om sy diskresie te gebruik om die huurkontrak vir die munisipale perseel te kanselleer. Dít nadat ’n party wat volgens die DA heeltemal ander waardes het as hy, die ANC, gesê het die stadsraad behoort niks te doen te hê met Hofmeyr nie.

Iewers in die DA het iemand toe halt geroep. Die stem van rede – en die

Here weet mens moet deesdae stemme van rede vier waar jy hulle hoor – was dié van Bonginkosi Madikizela, die DA se Wes-Kaapse leier.

Hoe moet ons dan optree teenoor dié wat aanstoot gee, wat seermaak, wat die hok skud, wat haat?

“Die munisipaliteit het sy besluit herroep, aangesien dit indruis teen die beginsel van vryheid van assosiasie soos verskans in ons Grondwet,” het hy in ’n verklaring gesê. “Ofskoon die DA nie Hofmeyr se politieke sienings steun of onderskryf nie, is dit belangrik dat ons nie in die lokval beland om mense die ruimtes te ontsê om met mekaar om te gaan soos wat die apartheidsregering gedoen het nie. In 1994 het Suid-Afrika gesamentlik onderneem dat ons altyd gelei sal word deur die Grondwet, selfs wanneer ons sienings van mekaar verskil.”

Die gort was mos ook gaar toe Rapport, wat deur die jare dikwels deur Hofmeyr se ondersteuners van vieslike goed soos liberalisme beskuldig is, onlangs ’n artikel deur Hofmeyr gedra het waarvan die inhoud feitlik geensins ter sprake was toe die publikasie van die stuk gekritiseer is nie. Die feit dat Hofmeyr die skrywer was, was vir die kritici erg genoeg. Hulle glo dat om lastige en selfs aanstootlike sienings te smoor tot ’n netto vermindering van haat en onreg in die wêreld lei.

Dieselfde mense het waarskynlik die kabinet se besluit van voorverlede Donderdag verwelkom om die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haat­spraak goed te keur.

Vroeë weergawes van die voorgenome wet, waarvan die presiese bewoording steeds nie gepubliseer is nie, het die definisie van haatspraak tot so ’n mate uitgebrei dat jy in ekstreme gevalle drie jaar tronkstraf opgelê sou kon word as jy iemand beledig op grond van hul geslag of ras.

Of iemand natuurlik vir jou.

Ons is soms vinnig om ander hul vryhede te wil ontneem wanneer

daardie vryhede uitgeoefen word op ’n manier wat óns aanstoot gee, maar lugtig wanneer die reeds relatief magtige staat vir hom nog magte wil toe-

eien om óns vryhede mee te beperk.

Dit is daarom nodig om te vra watter beginsel ter sprake is sodat ’n mens nie in die slaggat van dubbele standaarde trap nie. Die beginsels wat hier ter sprake is, is vryheid van assosiasie en vryheid van uitdrukking, binne bepaalde grondwetlike perke.

Die vraag wat hierop volg, is wat ons posisie behoort te wees oor beperkings op sangers se vryheid om op te tree, koerante se vryheid om te publiseer, lesers se vryheid om soos volwassenes behandel te word in ’n oop, robuuste gesprek, en, les bes, ’n mens se vryheid om hatige gevoelens teenoor jou naaste te huisves en selfs te verwoord.

Is dit wys en produktief om Hofmeyr te ekskommunikeer omdat hy die samelewing se heersende norme skud, soms op maniere wat baie van ons met afgryse vervul?

Is dit wys en produktief om te litigeer elke keer wat Julius Malema hatige opmerkings teen wit mense maak – Malema wie se rasretoriek Hofmeyr na ’n woke progressive laat lyk?

En indien die antwoord dan nie lê in stilmaak en ekskommunikasie nie, hoe moet ons dan optree teenoor dié wat aanstoot gee, wat seermaak, wat die hok skud, wat haat?

Daar is voorbeelde van spraak wat verbied word deur ons Grondwet, soos opsweping tot geweld (weer is Malema ’n veel beter voorbeeld as Hofmeyr, wat aansienlik minder mag as hy het). Maar daardie drempel moet hoog lê. Die beste teenvoeter vir aanstootlike spraak en vir dom argumente, veral oor ras, is nog meer vryheid van spraak, en beter argumente.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.