Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Dís die les ná 25 jaar van ANC wat regeer

In 1984 se presidentsverkiesing in Zaïre het kiesers slegs twee keuses gehad: vir of teen die kleptokraat Mobutu Sese Seko. Sowat 99% het toe gestem vir die man wat op TV uitgebeeld is as ’n god, wat sy geil, mineraalryke land kaal gesteel het, en tog vir Richard Nixon as vriend getel het omdat hy ten minste teen die kommuniste was.

In Suid-Afrika, 25 jaar nadat almal bo 18 uiteindelik hul duur verworwe stemreg kon uitoefen, het kiesers meer opsies as net die ANC.

Nie dat die ANC gelykgestel kan word aan Mobutu nie, wat absolute mag in ’n staatsgreep gegryp het: Die ANC het tot 1994 geen formele politieke mag gehad nie. Die party het in 1912 ontstaan om ’n onreg teen swart mense reg te stel en het hom in 1994 verbind tot ’n grondwetlike bestel wat foute het, maar betekenisvolle wigte en teenwigte in die fondament van ’n nuwe staat ingemessel het.

Daarom kan ons al vir 25 jaar stem vir wie ons wil, partye stig na willekeur, forums en drukgroepe oor burgerregte vestig, koerante uitgee en die president skerp kritiseer sonder om soos Mobutu se vyande destyds helder oordag tereggestel te word.

Vir 25 jaar al gebruik ons hierdie vryheid van politieke keuse om vir die ANC groot meerderhede te gee.

Die grondwetlike demokrasie se wiele is afgesteel, die petrol is op, die stuurwiel is deur ’n moersleutel vervang en ’n opdraande lê voor.

Die party het by tye goed presteer. Die ekonomie het in 2007 teen meer as 5% gegroei. In daardie jare het ons selfs ’n begrotingsurplus aangeteken. En in die 15 jaar ná 1994 het die moordkoers gehalveer.

Maar al was die ANC se mag nooit absoluut nie, het mag die ANC gekorrumpeer.

Die ANC-regering het miljoene huise gebou, maar die tenders kunsmatig vergroot en aan pelle gegee.

Die ANC-regering het gesorg dat 90% van huishoudings toegang het tot elektrisiteit en 88% tot water. Maar Eskom flikker soos ’n buislig met ’n kortsluiting weens swak instandhouding en beplanning, miljarde rande wat weens korrupsie verdwyn, en ’n uittog van vaardighede weens regstellende aksie en later staatskaping. Net 50% van huishoudings het krane met water binne die huis; die vorige minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, word by die Bosasa-skandaal betrek en het ná onbesonne kabinetskuiwe deur Jacob Zuma in April 2017 gesê: “Laat die rand val, ons sal hom optel.”

Die ANC het hom tot ’n grondwetlike hof verbind maar minag die Grondwet met sulke reëlmaat dat dit te dikwels sedert 1994 aan die hof oorgelaat is om die party en sy boef-leiers tot orde te roep, veral Zuma, wat die Grondwet as ’n irritasie ervaar en verklaar het dat die ANC meer saak maak as die land.

Eers nadat die ANC in 2016 se munisipale verkiesing skaars 41% gekry het in Nelson Mandelabaai, minder as 45% in Johannesburg en ook Tshwane verloor het, en eers toe kredietgraderingsagentskappe ons staatskuld afgradeer tot rommel, en toe galbitter druppels rassehaat reeds in die land se water ingemeng is, eers toe het die ANC met ’n piepklein meerderheid besluit om in Desember 2017 weg te draai van die rampspoed van ’n Nkosazana Dlamini-Zuma en ’n kans te waag met Cyril Ramaphosa. Hy is vandag die enigste rede waarom die ANC op 8 Mei meer as 50% van die stemme verwag.

Die les wat ons uit 25 jaar van ANC-regering moet leer, is dat die party altyd eers tot by die afgrond sal stap voor hy terugtree, en dan net omdat hy homsélf wil red. Die party sal aanhou glo dat “die ANC-staat” alle hefbome van mag in die samelewing vas behoort te hou, selfs al is daar minder korrupsie. Die party is in sy wese agterdogtig oor Westerse lande wat ons grootste handelsvennote is; flankeer openlik met Venezuela en ander boefstate; sal rassenasionalisme op lae hitte op die stoof hou vir die dag waarop dit weer polities bruikbaar word; en sal gematigde kiesers altyd probeer oorreed om dankbaar te wees dat die ANC ten minste nie die EFF is nie.

Die ANC leer stadig uit sy foute.

Die grondwetlike demokrasie se wiele is afgesteel, die petrol is op, die stuurwiel is deur ’n moersleutel vervang en ’n opdraande lê voor.

Die tyd het gekom om te kies tussen die bekende – nog vyf jaar van middelmatigheid te midde van pogings om ANC-foute reg te maak – en ’n onbekende toekoms waarin eerlike regering beloon, goeie idees gevier en ANC-hegemonie verbreek word.

Geen van die twee opsies is sonder sy gevare nie. Maar om te verwag dat die ANC sy aptyt vir eenparty-oorheersing ooit sal prysgee sonder ’n nederlaag by die stembus, is wensdenkery.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.