Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Dis nie die halaal-tjop wat jou beduiwel nie . . .

Waarom bedien soveel lugdienste nie neute nie al het minder as 1% van passasiers gewoonlik ’n neut-allergie? Waarom word een uit vyf toilethokkies in sekere kantore ingerig vir rolstoele al gebruik veel minder as een uit vyf mense rolstoele? En waarom verkoop sekere supermarkte, in Suid-Afrika soos in Amerika, meestal of selfs eksklusief kosjer- of halaal-kos al is skaars 0,2% van Suid-Afrikaners Jode en net sowat 2% Moslems?

Ek het die Lebanees-Amerikaanse skrywer Nassim Nicholas Taleb se teorieë oor wat hy noem die “diktatuur van die klein minderheid” gaan opsoek na aanleiding van Rapport se hoofberig die afgelope Sondag, waarvolgens sekere Christene by die owerhede gekla het dat hulle “gedwing word om ander gelowe te ondersteun” wanneer hulle halaal- en kosjer-gesertifiseerde kos in Checkers, Spar of Pick n Pay koop.

Taleb hanteer hierdie klaarblyklik netelige kwessie in sy jongste boek, Skin in the Game. Hy skryf dat klein, onverdraagsame minderhede wie se kultuur of geloof eis dat hulle op ’n bepaalde manier leef dikwels hul sin kry.

Toe hy op ’n keer vir ’n Joodse vriend van hom by ’n braai limonade aanbied en waarsku dat hy nie seker was of die drankie kosjer was nie, het die vriend sonder om eers te kyk vir Taleb verseker: “Limonade hier rond is áltyd kosjer.” Hy was reg.

Daar is niks wat ’n niehalaal-eter verbied om halaal te eet nie.

Taleb skryf: “Die kosjer-bevolking verteenwoordig minder as ’n tiende van ’n persent in die VSA. Tog lyk dit of die meeste drankies kosjer is. Waarom? Eenvoudig omdat om ten volle kosjer te word ’n vervaardiger, boer of restaurant in staat stel om glad nie ’n onderskeid hoef te tref tussen kosjer- en niekosjer-vloeistowwe nie, met spesiale etikette, aparte gange in die winkel, afsonderlike inventarisse en spesiale aparte voorraadkamers. Die eenvoudige reël is: ’n kosjer- (of halaal-) eter sal nooit niekosjer- (of niehalaal-) kos eet nie, maar daar is niks wat ’n niekosjer- (of niehalaal-) eter verbied om kosjer (of halaal) te eet nie.”

Dieselfde is natuurlik in Suid-Afrika waar. Almal mág halaal-kos eet.

Dan pas Taleb die reël op openbare toilette toe: “ ’n Persoon met ’n gebrek sal nooit ’n gewone badkamer gebruik nie, maar ’n persoon wat nie ’n gebrek het nie, sal ’n badkamer vir mense met gestremdhede kan gebruik.”

En: “Iemand met ’n neut-allergie sal nie produkte eet wat aan neute blootgestel is nie, maar iemand sonder so ’n allergie kan wel produkte eet wat nie aan neute blootgestel is nie.”

Behalwe wanneer die koste van die vervaardiging van halaal-kos onaanneemlik hoog is, maak dit kommersieel sin vir winkels om die tipe produkte te verkoop wat deur alle klante verbruik kan word, selfs al is dit net ’n baie klein minderheid (in hierdie geval Moslems) wat daarop aandring.

Die keersy is natuurlik ook waar: Dat indien ’n groot genoeg minderheid Christene botweg verseg om halaal-kos te eet al skort daar natuurlik niks daarmee nie, sal supermarkte dit moet begin oorweeg om eerder afsonderlike afdelings vir geloofsgroepe in te rig.

Dat dít ’n uitkoms is waarmee hierdie Christen-stryders teen die “Slamse gevaar” hulle kan versoen, is só verstommend dat daar Rapport-lesers was wat laas Sondag gedink het ons ernstige berig oor die protes teen halaal-kos ’n Aprilgekgrap was.

Dit is nie duidelik hoe algemeen die klagtes oor halaal-kos aanklank vind nie. Maar ek wonder nietemin of dit waar kan wees dat daar Christenkinders is wat vandag grootgemaak word om te dink halaal-kos is uit die bose en aanhangers van ander gelowe gaan boonop reguit hel toe? Of Moslemkinders wat in Suid-Afrika geleer word Christene is ketters (ons weet daar is diesulkes in Saoedi-Arabië . . .).

En oor ras: Kan dit wees dat daar vandag nog wit kinders is in wie se teenwoordigheid hul ouers die k-woord gebruik, of wat slegs rassisme téén wittes ’n onderwerp van bespreking maak ná die hele Vicky Momberg-sage, of wat vertel word dat Suid-Afrika ’n leë land was toe wit mense hier aangekom het, en wat nie geleer word oor die verraad teen swart Suid-Afrikaners by Uniewording nie, en met die Wet op Naturellegrond van 1913, en met die onderduimse afvat van swart mense se stemreg aan die Kaap nie?

Vooroordele oor ras het met die halaal-bohaai dít gemeen: Dat dit elkeen van ons se eie reg is om te besluit om vooroordele in onsself te huisves. Maar dat die oordra van ons eie vooroordele aan die volgende geslag hulle veel meer as ’n halaal-skaaptjop beduiwel.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie  |  Minderhede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.