Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Dit stink by die RDK

Te midde van ’n ongekende golf politieke aanvalle op die regbank is die liggaam wat onder meer bekwame regters moet aanstel en die vrotterds dissiplineer self nou vrot van die politiek.

En hoewel die regbank en die verkiesing van regters seker altyd in ’n mate “polities” is, stink die Regterlike Dienskommissie (RDK) al hoe meer na dit wat die onsmaaklikste is in ons landspolitiek.

In 88 onderhoude vir regtersposte sedert 12 April wat Vrydag ten einde geloop het, het die RDK nie net een van die grootste oortreders in die regsberoep ’n vrypas gegee nie, maar ook van die land se beste regslui verguis weens hul politiek, velkleur of godsdiens.

Kom ons begin by die “vrypas”.

Vrydag het die RDK toegelaat dat John Hlophe, Wes-Kaapse regterpresident, help om twee nuwe regters vir die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof, in Kaapstad, te kies.

Dit het die RDK min geskeel dat die RDK se eie regterlike gedragstribunaal (JCT) Hlophe op 9 April skuldig bevind het aan “growwe wangedrag” nadat hy in 2008 twee regters van die konstitusionele hof probeer beïnvloed het om ten gunste van oudpres. Jacob Zuma te beslis.

Die tribunaal het bevind Hlophe het die “Grondwet oortree”; “die onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van die konstitu­sionele hof ernstig bedreig”; en “die publiek se vertroue in die regstelsel in gedrang gebring”. Hlophe is ook voor stok gekry omdat hy twee gerespekteerde oudregters, hoofregter Pius Langa en sy destydse adjunk, Dikgang Moseneke, beskuldig het van ’n “politieke motief” nadat hulle in 2008 alarm gemaak het oor Hlophe se wangedrag. Hlophe is boonop in die beskuldigdebank nadat hy volgens die nasionale vervolgingsgesag nege ernstige regsdwalings begaan het in sy besluit in Februarie om Bongani Bongo, een van die ANC se meer kleurryke staatskaper-LP’s, summier vry te skeld op aanklagte van omkopery.

Die grondwetlike drukgroep Freedom Under Law (FUL), waarvan oudregter Johann Kriegler voorsitter is, het in pleitskrifte gevra dat die RDK Hlophe verbied om aan Vrydag se onderhoude deel te neem omdat dit die integriteit van die onderhoudproses erg sou skaad. Volgens FUL was dit “moeilik om te dink aan ’n ernstiger situasie” vir ’n regter as dié waarin Hlophe hom bevind. Nicole Fritz, FUL se uitvoerende hoof, het op die wrang ironie gewys dat selfs die ANC deesdae verwag dat amptenare opsy staan wat van misdade aangekla word, terwyl die RDK geen stappe doen om Hlophe te skors nie, al is hy reeds skuldig bevind.

Die versuim van die RDK om op te tree het sy reeds verslete reputasie verder bevlek.
Pierre de Vos

Die RDK trek net die skouers op.

Hy “mag” Hlophe nie skors nie, maar kan dié skorsing bloot by pres. Cyril Ramaphosa aanbeveel.

Toe FUL vroeër vir optrede teen Hlophe pleit, het adv. Dali Mpofu SC, RDK-woordvoerder, aan News24 gesê daar is “niks spesiaals” aan die Hlophe-saak nie en die RDK voel “geen druk” om dit af te handel nie.

Die regsgeleerde Pierre de Vos het Woensdag daarop gewys die RDK het verlede jaar die skorsing van regters Nana Makhubele en Mushtak Parker aanbeveel nog voordat die RDK-tribunaal klagte teen hulle aangehoor het en dit is verbluffend dat hy nou skielik beweer hy is magteloos om teen Hlophe op te tree.

“Die vraag,” skryf De Vos, is “waarom die RDK weier om die aansien en integriteit van die regbank te beskerm”. “Is dit ’n geval van vriende of kollegas wat mekaar beskerm of is die RDK besig om homself in politieke faksiegevegte te begeef? ...

“Die versuim van die RDK om op te tree het sy reeds verslete reputasie verder bevlek.”

Die ander tekens van politieke verderf by die RDK was sy hantering van onderhoude met Aubrey Ledwaba, adjunk-regterpresident van die Pretoria-hooggeregshof, regter Dhaya Pillay van die arbeidshof en regter David Unterhalter, van wie nie een die kortlys vir twee vakatures in die konstitusionele hof gehaal het nie. (Adriaan Basson van News24 wys daarop dat dié hof nou, vir die eerste keer, geen wit regter sal hê nie.)

Die RDK-kommissaris Julius Malema – ’n aangeklaagde in talle strafsake – het Unterhalter oor sy “wit bevoorregting” gekap, terwyl nog ’n RDK-lid wou weet of Unterhalter, ’n Jood, sy regterspligte op die Sabbat sou kon nakom.

Toe Malema Pillay kasty omdat sy ’n vriendin van minister Pravin Gordhan is en haar ’n “politieke aktivis” noem, het hoofregter Mogoeng Mogoeng sommer self onder Pillay ingeklim oor haar vriendskap.

Ledwaba, wat destyds teen Zuma beslis het in die “spioenasiebande”-saak en nou voorsit in die saak oor Ramaphosa se bankstate, is deur die RDK-kommissaris regter Mandisa Maya van die appèlhof gevra: “Is jy ’n korrupte regter?” Dít weke nadat Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, gekla het Ledwaba se hof bevind, anders as Hlophe s’n, pal téén die ANC en is daarom “ongetransformeer”. Dit word al hoe duideliker wat ook die RDK met “transformasie” bedoel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.