Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ek wonder hoe dink hulle gaan dít eindig

Dit val dalk vreemd op om ’n verband te soek tussen die vlaag plaasmoorde en Malusi Gigaba se mini-begroting van Woensdag. Tog is die kontras tussen twee syfers insiggewend.

Volgens Gigaba se aansuiweringsbegroting sal R86 miljard hierdie jaar aan die polisie bestee word (daar is ook etlike duisend minder polisielede as ’n paar jaar gelede).

Gigaba se syfers wys ook dat die rente wat Suid-Afrika vanjaar sal betaal op ons staatskuld R162 miljard sal bedra – dubbel soveel as wat die polisie kry.

Rente op staatskuld is die prys wat ons vir jare van oorbesteding betaal.

Die koste van oorbesteding, ook op die wagbeurte van lieflinge soos Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene, sou vanjaar R146,4 miljard se rentebetalings gewees het (Februarie-begroting).

Dié bedrag is nou “aangesuiwer” of aangepas tot R162 miljard, en teen 2020-’21 sal ons al soveel geld moet leen net om die boeke te laat klop dat ons R223 miljard in daardie jaar net aan rente op staatskuld sal opdok, wat vloei na daardie Westerse hoofstede oor wie ons eie regering so graag gal braak. Ons kyk mos deesdae Oos.

Teenoor vanjaar se rente op staat­skuld van R162 miljard staan nie net die R86 miljard vir die polisie nie, maar R22 miljard vir basiese onderwys (13,5% van wat ons skuld ons kos), R52 miljard vir hoër onderwys (32%), R160 miljard vir maatskaplike toelae en ’n patetiese R10 miljard (6%) vir die finansiering van grondhervorming, wat die heethoof-politici in elke toespraak eis sonder dat hulle bereid is om ’n donnerse sent daaraan te bestee.

Die ontkenning van basiese ekonomiese wette is in hierdie land op die hoogste vlak de rigueur.

Ek wonder hoe hulle dink en hoop dít gaan eindig.

Eerder as om geld te gebruik om môre se probleme kleiner te maak, deur byvoorbeeld moordenaars te jag, onderwysers beter op te lei of plase te koop, maak ons skuld – ’n las wat die volgende generasie dra.

Die enigste manier om ontslae te raak van staatskuld, wat teen 2020-’21 meer as R3 400 miljard sal beloop, is om met pynlike dissipline, nougesette beplanning en ’n reeks moeilike besluite ’n groeiende ekonomie te bou.

Dit is ons nie besig om te doen nie.

Al wat Woensdag mooi was, was Gigaba se diepblou pak klere, en tot sy krediet het hy nie die krisis waarin ons is met ewe mooi ontwerpersdrag probeer versier nie.

Sy ontnugterende, hou-in-die-maag-toespraak het in skrille kontras gestaan met die woorde in April van Edward Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, wat ná die afgradering van Suid-Afrika se skuld gesê het die kredietagentskappe “doen ons eintlik ’n guns”. In dieselfde gesprek op WhatsApp het nog ’n Zuma-bondgenoot, die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, luidens ’n berig in die Sunday Times gesê: “Dis eintlik beter dat Westerse beleggers onttrek, dan het ons die geleentheid om hulle op ons eie voorwaardes terug te bring, nadat ons ons verhoudings met Afrika en die Brics-lande gekonsolideer het.” Dudu Myeni, die pas afgesette voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se direksie, het bygevoeg: “Ek stem saam, kamerade. Laat die rand val en styg en verrys saam met die massas.”

Dis die tipe plat-aarde-denke, as mens dit hoegenaamd “denke” kan noem, wat in Zuma se binnekring hoogmode is. Die ontkenning van basiese ekonomiese wette is in hierdie land op die hoogste vlak de rigueur.

Vir Gigaba om daarom harde ekonomiese werklikhede met sy ideologies getikte kamerade te deel, was dapper.

Terselfdertyd skrei sy onvermoë om sy eie aandadigheid te erken in die gemors waarin ons is ten hemele.

Met verwysing na staatsondernemings soos Eskom en die SAL wat die afgelope jaar sowat R300 miljard se staatswaarborge ingesluk het, het Gigaba gesê: “As die aandeelhouer is ons moeg daarvoor om in krisisse ingesleep (!!!) te word deur diegene wat ons in diens neem om te regeer en staatsbeheerde ondernemings te bestuur. Dit moet einde kry . . .” (die uitroeptekens is my eie).

Dit was hy, Gigaba, wat minister van openbare ondernemings was toe die volskaalse plundering van staatshulpbronne daar begin het. Dit is letterlik sy handewerk.

Optimiste sal sê Gigaba is deur die harde konfrontasie met die werklikheid gestaal. Dís een van die redes waarom hy geen sprak oor kernkrag gesprook het nie, ’n kontrak wat die nuwe minister van energie, David Mahlobo, dringend wil deurvoer om die Russe gelukkig te hou aan wie Zuma ’n aandeel in die bouprojek beloof het.

Gigaba se onwilligheid om geld wat ons in elk geval nie het nie opsy te sit vir kernkrag kan verreikende gevolge hê vir die ANC se Desember-konferensie, sê Bronwyn Nortje in Business Day.

As Zuma en sy bende vóór Desember al vir Moskou ’n bindende kontrak kon faks, sou die Russe nie so ’n gevestigde belang gehad het in die uitslag van Desember se ANC-leiersverkiesing nie. Maar noudat Gigaba kleinkoppie getrek het, sal Zuma én die Russe moet seker maak dat Desember se wenner vertrou kan word om die kernkragkontrak te teken.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.