Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Entstof: Dis elke land vir homself

Ons leef deur ’n “entstof-apartheid”, skryf die joernalis Ferial Haffajee: Ryk lande koop miljarde dosisse Covid-19-entstof vir hul bevolkings terwyl arm lande agter in die tou staan.

Wie se skuld is dit?

Haffajee antwoord die vraag gedeeltelik met verwysing na Suid-Afrika, waar die departement van gesondheid verlede week moes bakhand staan by die private Solidariteitsfonds om die deposito vir ons deelname aan die Covax-entstofprogram te betaal. Sy skryf: “Dink net hoeveel entstof sou ons kon gekoop het met die R1 duisend miljard en meer wat weens staatskaping en korrupsie verlore is?”

Dat nie almal gelyke toegang sal hê tot ’n entstof vir Covid-19 nie, is net soos in die geval van die meeste ander skaars hulpbronne dood-duidelik. Geld praat immers.

Oor die vraag “wie se skuld is dit”, en natuurlik die vraag “wat kan gedoen word daaraan?”, is daar minder konsensus. Dit lyk selfs of sommige aktiviste ryk lande wat vooruitbeplan en vroeg belê het in die beskuldigdebank wil sien staan, eerder as hopelose regerings wat nie hul eie mense se belange dien nie en dan “die Weste” wil blameer.

Terwyl Rapport Sondag berig het net 3% van Suid-Afrikaners sal in die eerste ronde iewers in 2021 toegang tot ’n entstof kry, is derduisende inspuitings teen die virus reeds toegedien in Brittanje, Amerika, Rusland en China, meestal danksy massiewe beleggings deur daardie lande se regerings sedert Maart, toe dr. Nkosa­zana Dlamini-Zuma besig was om vindingryke dekrete teen die aankoop van braaihoender uit te dink.

“Hulle koop vir hulle ’n plek reg voor in die ry...”

Volgens die Duke-sentrum vir Globale Gesondheidsorginnovasie in Amerika het ryk en middelinkomstelande reeds sowat 5 miljard dosisse van allerlei entstowwe “gereserveer” vir hul bevolkings deur vroeg al miljarde in die ontwikkeling van daardie entstowwe te belê.

Die Europese Unie, Brittanje en Kanada het reeds sewe sulke ooreenkomste met vervaardigers gesluit vir genoeg entstof om hul totale bevolkings twee, vier en ses keer in te ent. “Hulle koop vir hulle ’n plek reg voor in die ry,” het ’n gesondheidsbeleidkenner by die London School of Economics in ’n artikel oor sogenaamde entstof-nasionalisme aan The Atlantic gesê.

“Entstof-nasionalisme” word in die artikel beskryf as die verskynsel dat lande “hul plaaslike behoeftes prioritiseer ten koste van ander”.

Wat is fout hiermee? Is dit nie elke regering se plíg nie?

Die voordele vir die bevolkings van ryk lande wat vroeg beweeg het en ook van middelinkomstelande wat niks ryker is as Suid-Afrika nie, soos Thailand, is demonstreerbaar.

Die Financial Times het berig Pfizer en BioNTech sal voorkeur gee aan lande wat hul entstof eerste goedkeur, waaronder Brittanje; Moderna mik om Amerika te prioritiseer; en AstraZeneca se eerste entstof gaan Brittanje toe danksy hul vennootskap met die Universiteit van Oxford. Dit maak als sin.

Amerika is veral ’n fassinerende studie in die voordele van ’n regering – onder pres. Donald Trump, nogal – wat dollars op die Covid-19-krisis laat reën het. ’n Rits regeringsdepartemente onder die sambreelprogram Operation Warp Speed – ’n naam wat Bin Laden sou laat bewe het – het in Maart ’n eerste betaling van $456 miljoen gemaak om Johnson&Johnson se kandidaat-entstof te ontwikkel, waarvoor toetsing in Julie in België begin het en wat nou ook in Suid-Afrika in die finale evaluasiefase is.

Trump se regering het sedertdien minstens $11 miljard in navorsing en vervaardigingskapasiteit vir entstowwe by vervaardigers wêreldwyd belê en selfs seker gemaak glasfabrieke kan bybly met die maak van die entstofflessies, als sodat elke Amerikaner wat die entstof wil hê, dit gratis en so gou doenlik kan kry. Bravo.

Ryk lande se drang om entstowwe te ontwikkel bevoordeel boonop die hele wêreld, aangesien miljarde dollars skielik losgemaak is om die komplekse ontwikkelingstrajek van entstowwe op ’n veilige manier te bespoedig – entstowwe wat op die ou end ook in arm lande sal land.

Hoe lank, vra dié arm lande, moet ons egter daarvoor wag?

Wetenskaplikes en beleidskenners wat krities is oor “entstof-nasionalisme” sal beter vaar as hulle die moralisering oor ongelykheid laat staan en liewer op die wetenskap en ekonomie fokus, wat volop redes vir ’n gelyker verspreiding bied.

Elke regering se eerste plig is teenoor sy eie mense. Maar indien die virus onbepaald voortleef in arm lande waar 70% van die bevolking eers oor jare ingeënt kan word weens ’n geldtekort, stel dit ander lande aan herhaalde uitbrekings bloot, want weinig grense is hermeties geseël.

Die koste vir die wêreldekonomie oorskry die geraamde $25 miljard om entstowwe aan alle arm lande te skenk, raam die Rand Corporation. Ryk lande se ekonomieë is boonop tot ’n groot mate geïntegreer met dié van armer lande waar baie fabrieke gesetel is wat produkte na die Weste stuur.

Om ryk lande oor “entstof-apartheid” te kasty, gaan min bereik. Wys liewer waarom ’n billiker verdeling ook in hul eie belang is.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Covid-19  |  Wag 'N Bietjie  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.