Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Fanatiese LP’s se wet het gevolge vir armstes

Die Kredietwysigingswet wat ondanks ernstige waarskuwings deur die sakesektor deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is, kan dit moeiliker maak vir mense wat minder as R7 500 per maand verdien om op skuld te koop of banklenings te kry en hulle afhanklik maak van genadelose township-woekeraars wat as “mashonisas” bekend staan.

Waldimar Pelser

Maar wanneer ideologie pleks van logika wetgewing dryf, regverdig die doelwit – dikwels ’n geldige een – die middele. Die gevolge is beslis nie Ramaphosa en sy party se probleem nie.

Een van die “doelwitte” van die Kredietwysigingswet, wat geskryf is deur die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid en in September 2018 deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, was juis om gewetenlose geldleners te pak wat roekeloos aan armes leen.

Verpligte aftrekkings van laagbesoldigde werkers se lone deur skuldeisers het al rampspoed gebring oor baie gesinne, waaronder dié van mynwerkers wat in Augustus 2012 by Marikana vir beter lone gestaak het. Baie van hulle is aan die einde van die maand sonder ’n sent gelaat – natuurlik omdat hulle self meer geleen het as wat hulle kon bekostig om terug te betaal, maar ook omdat mashonisas sulke hoë rente vra.

Ongeletterde en desperate mynwerkers, en ander mense wat min verdien maar soos ons almal soms moet leen om deur die maand te kom, verstaan dikwels nie wat die voorwaardes van lenings is nie en beland maklik in ’n krisis met agterstallige paaiemente.

Daarom het die parlementêre veelpartykomitee toestemming gekry om die Nasionale Kredietwet te wysig en ook verpligte skuldverligting in die wet in te skryf vir behoeftiges wat in skuldstrikke vasgevang is.

Die komitee het ’n inkomste van R7 500 per maand as afsnypunt gekies omdat skuldberaders gesê het mense wat minder as dit verdien is nie “ekonomies lewensvatbare” kliënte nie.

Onderweg is waarskuwings dat die wet nie in sy doel gaan slaag nie en arm mense kan benadeel, geïgnoreer.

Dié desperate mense gaan geen keuse hê nie as om hulle tot mashonisas te wend nie, wat deur niemand gereguleer word nie.

Waarskuwings soos dat die uiteindelike afskryf van tot R50 000 van ’n individu se skuld die skadelike gewoonte sal vererger waarteen Ramaphosa self in sy staatsrede gepreek het, naamlik om nie te betaal wat jy aan ’n ander verskuldig is nie. Waarskuwings soos dat banke en kleinhandelaars gedwing kan word om tot R30 miljard se skuld af te skryf – naakte onteiening sonder vergoeding van ’n deel van hul skuldboeke – bo en behalwe die verligting wat hulle reeds kragtens die Kredietwet gee deur onder meer rentekoerse te verlaag of slegte skuld af te skryf.

Die tesourie self het geskat skuld van tussen R13,2 miljard en R20 miljard sal afgeskryf moet word en gevra of dit nie “moreel” beter sal wees as van die skuldenaar vereis word om minstens ’n deel van die skuld te betaal nie.

Jy wil tog nie aansporings skep vir mense wat reeds ekonomies kwesbaar is om skuld aan te gaan wat hulle nie kan terugbetaal nie.

Cas Coovadia van die Bankvereniging (Basa) het destyds aan Business Day gesê Basa het aan Ramaphosa geskryf oor die impak op die bankwese. Sy bekommernisse is “verontagsaam”.

Volgens ’n regsmening wat die portefeuljekomitee aangevra het, was die wetsontwerp “vol teenstrydighede, weglatings en vaaghede” en dele daarvan dalk ongrondwetlik.

In September verlede jaar het Hennie Ferreira van Mikrofinansiering Suid-Afrika, die sambreelorganisasie van sowat 1 200 gereguleerde mikro-uitleners, aan Rapport gesê banke en mikro-uitleners gaan bloot ophou om geld aan mense in die lae-inkomstegroep te leen, ’n waarskuwing wat ook gerig is deur Nedbank. Dié desperate mense gaan geen keuse hê nie as om hulle tot mashonisas te wend nie, wat deur niemand gereguleer word nie.

Kenners het gesê sowat 9,5 miljoen mense in die land kan vir die verpligte hulp kwalifiseer.

’n Verslag deur die departement van handel en nywerheid wat die wet se moontlike sosio-ekonomiese impak en die impak op die markte en kredietverskaffers moes bestudeer, is nooit aan die opposisielede van die komitee wat die wet geskryf het oorhandig nie, sê die DA. Soos met die Nasionale Gesondheidsversekering is hierdie wet aanmekaargesit deur mense wat besiel was met ’n idee, maar nie wou ag slaan op die feite nie. Selote en fanatici hou nooit van feite wat hul geloof in ’n saak laat wankel nie. En die “saak” is nie net armoedeverligting nie.

In September het Lindiwe Zulu, ANC-LP, gesê die wet help die onregte van apartheid regstel. Sy het na die DA gedraai en gesê: “Ek weet baie van julle het voordeel getrek uit die geld wat van swart mense ingevorder is, dit is waarom julle die wet nie steun nie. Ons grootouers het gely, want jul grootouers het al die geld gevat.”

As die wet onbedoelde gevolge gaan hê, beskou sy en Ramaphosa dit beslis nie as hulle probleem nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.