Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Geloof en feite in die weke ná ‘Bird Island’

Nou is Mark Minnie dood, die oudpolisieman wat medeskrywer van Die Seuns van Bird Island was.

Soos met die reaksies op die bewerings oor seks met seuns in die boek self, het baie van die reaksies op Minnie se dood gewys dat ons met groot gemak dit glo wat strook met ons siening van die wêreld, en maklik dit verwerp wat daarmee in stryd is.

Ons bereidwilligheid om iets as die waarheid te aanvaar word toenemend verduidelik deur wat ons gló. In dié sekulêre wêreld gedy geloofsake.

Wat Minnie en die boek betref: In die een “kamp” staan dié wat vuilspel as ’n gegewe aanvaar, want hulle glo – nog voordat hulle die boek gelees het – dat die apartheidsregering inherent boos was en dat alle sondes wat aan apartheidsministers toegeskryf word die waarheid móét wees.

Van hulle glo dat apologete vir dié regering in 2018 steeds die mag en motief het om Minnie stil te maak. Hoe kan die polisie immers nóú al sê geen misdaad word vermoed nie, vra hulle. Waarom sou Minnie homself skiet nadat hy gesê het hoeveel hy na die amptelike boekbekendstelling uitsien? Is dit dan nie ook so, vra hulle, dat Minnie en Chris Steyn se boek maar net die begin van die onthullings was nie? Die volle waarheid sou nog uitkom.

In hierdie “kamp” is daar ook diegene wat die boek se bewerings as ’n wesenlike deel van die steeds groeiende argief van apartheidsmisdade hanteer.

Die mans wat beskuldig staan, was in magsposisies in die NP-regering óf in posisies van invloed in die gemeenskap, met geld en die blink simbole wat tienerseuns se aandag sou trek.

Dit is gevaarlik om terugskouend te sê “ek moes” of “ons moes” – agterna lyk alles altyd moontlik en eenvoudig.

Diegene wat sommige of al die bewerings in die boek glo, verduidelik die feit dat die bewerings nou eers gepubliseer word – en dat slagoffers nou eers na vore begin tree – aan die hand van die spelreëls van apartheid-Suid-Afrika, wat dit vir veral bruin seuns ondenkbaar duur sou gemaak het om na vore te tree. Vermeende oortreders sou die voordeel van die twyfel gekry het en het boonop die mag gehad om seker te maak die waarheid kom nooit uit nie.

Aan die ander kant is daar mense wat oor die skokbewerings teen Magnus Malan en John Wiley en Dave Allen lees en dit alles summier as fiksie verwerp. Die verregaande suggesties dat Minnie die teiken van ’n toesmeerkomplot sou kon gewees het, hoef nie eens ondersoek te word nie, so belaglik is dit. Oor Magnus en kie vra hulle: Waar is die bewyse? Waar is die slagoffers? Waarom het niemand oor hierdie misdade voor die Waarheid-en-versoeningskommissie kom bieg nie? Malan was voorts ’n “gelowige en opregte mens”. Hy was “vredeliewend”, is gesê.

In dié “kamp” word gesê die intelligensiestelsels was destyds só goed dat geheime oor ’n sleutelminister se privaat lewe beslis sou uitkom (eerder as om te glo dat die gehalte van die intelligensiedienste juis daarvoor sou sorg dat die geheime begrawe word).

Hulle ag dit as ondenkbaar dat militêre intelligensie deel sou kon wees van ’n “doodswygkomplot”. Dit is, lees ek, net nog ’n poging om die apartheidsregering slegter te laat lyk as wat hulle was sodat wit mense se grond in ’n daad van historiese regstelling afgevat kan word.

Vir bogenoemde twee kampe is elke bewering teen die ministers óf waar, al is daar baie bewerings wat nie afdoende bewys is nie, óf onwaar weens gebrek aan afdoende bewyse. Ook dít het ’n geloofsaak geword. Dit is swart en wit, goed teen sleg. Binêr.

Daar is wel ook ’n derde kamp.

Hulle sê Rapport het die bewerings só prominent en só onkrities aangebied dat dit die status van bewese feite aangeneem het al het al ons berigte uitgestip dat dit bewerings is.

Die dooies kan hulself voorts nie verdedig nie, is gesê. En as die skrywers van die boek dan so seker was van die “derde minister” se rol, waarom sy naam nie noem nie? As ons by Rapport voorts nie self bewyse kon lewer vir die betrokkenheid van ’n “derde minister” wat genoem word in die boek waaroor ons berig het nie, waarom dit dan hoegenaamd in ons berigte noem?

Vir lesers se aandrang op ’n duideliker onderskeid tussen wat bewese feit en wat met publikasie nog net bewerings was, het ek begrip.

Dit is gevaarlik om terugskouend te sê “ek moes” of “ons moes” – agterna lyk alles altyd moontlik en eenvoudig.

Maar ons moes met groter sorg die bewerings in die boek rangskik het volgens die waarskynlikheid daarvan – en op dag een al duidelik aangedui het watter bewyse vir watter bewerings aangebied word in die boek. Dít sodat lesers duidelik kan sien wat is feit, wat is getoetste bewerings, wat is ongetoets, en wat het die status van hoorsêgetuienis. Alles is nie ewe seker nie.

Bewys al die ontkennings sedert publikasie van die boek dit is fiksie? Natuurlik nie. Is daar diegene wat net te maklik aanvaar Magnus en kie was “goeie ouens” wat nie ’n voet verkeerd kon sit nie? Ongetwyfeld ook.

Ons taak as boodskappers – maar veral as joernaliste – is nie om na feite te soek wat bevestig wat ons reeds glo nie, maar na feite. Punt.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.