Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Histerie oor DA se taktiek is bespotlik

Die ANC vermoor deesdae meer mense as wat die apartheidstaat het, sê Piet Croucamp die afgelope Woensdag in KN Verslag in gesprek op kykNET in ’n debat oor dáái DA-advertensiebord.

Croucamp lys Thabo Mbeki se verwerping destyds van ’n oormaat wetenskaplike bewyse dat MIV vigs veroorsaak, ’n plat-aarde-geloof wat gelei het tot ’n beleid wat luidens ’n artikel in die Journal of Acquired Immune Deficiency Syndromes (Desember 2008) “meer as 330 000 lewens en sowat 2,2 miljoen mens-jare” gekos het.

Hierby voeg Croucamp Marikana (op 16 Augustus 2012 maai die polisie 34 stakende mynwerkers af) en die Life Esidimeni-skandaal (minstens 144 psigiatriese pasiënte sterf in 2017 ná verwaarlosing op die wagbeurt van die Gautengse LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu).

Op dáái advertensiebord het die DA ook die name gevoeg (in onleesbare letters) van jong kinders wat in onverwerkte riool verdrink het omdat die ANC-regering mos oor die jare meer belê het in Bosasa-kontrakte as in die bou van toilette by openbare skole, veral in die Middeleeuse Oos-Kaap, waar die aktiviste-groep Equal Education raam 2 127 van die provinsie se 5 000 skole net putlatrines het (53 het dit nie eens nie).

’n Mens sou dus verwag dat die vlamme van morele verontwaardiging verlede week aan Luthuli-huis sou lek, daar waar die struggle-adel sit wie se ontplooide kaders verantwoordelik was vir die dood van elke mens wie se naam die DA op hul bord gesit het.

Wie ook al met die idee vir die DA-advertensiebord vorendag gekom het, behoort vanjaar ’n stewige verhoging te kan onderhandel.

Helaas was dit egter eerder die DA wat hom in die beskuldigdebank bevind het. Daar was bloed (of wag, was dit drukkersink?) aan die hande van die party se bemarkingsafdeling, het onberispelik progressiewe stemme geskreeu, want die families van die slagoffers – families wat ’n mens sou kon aanvaar nie juis histories DA-kiesers is nie – is nie vir toestemming gevra om die name van die gestorwenes te gebruik nie.

Van die kritiek wat die heel seerste moes gemaak het – ek sien sommer hoe ’n Dis-Chem-trok met senuweepilletjies by DA-park inry – was dat die advertensiebord “opportunisties” was.

Bid jou dit aan: Opportunisme in die politiek. Dit is skokkend.

Aangesien kritiek op die ANC heeltemal aanvaarbaar is solank dit nie kom van die DA nie (en veral nie van die VF Plus nie, wat soveel wit skuld dra dat hulle die kans verbeur het om hulle oor post-’94-skandes uit te laat), is hierdie “opportunistiese” advertensie oor elke radiostasie in die republiek ontleed en toe letterlik uitmekaargeskeur (ook dáárvan is ’n video) deur misdadigers wat aangekla behoort te word van kwaadwillige saakbeskadiging.

Nadat die kamma-histerie uitgewoed het, soos dit altyd doen, sal die boodskap egter vassteek – nie by wit mense wat in koerante daaroor lees nie, maar by swart mense wat daagliks die minagtende blik van hierdie regering moet verduur: Die ANC vermoor ons . . .

Wie ook al met die idee vir die DA-advertensiebord vorendag gekom het, behoort vanjaar ’n stewige verhoging te kan onderhandel.

Dit is merkwaardig dat ons sin vir moraliteit so swak gekalibreer is dat ons ’n opposisieparty wat “opportunisties” (!) en “onsensitief” optree harder slaan as die regerende party wat die sterftes veroorsaak het, so asof die “geweld van woorde” ooit naby die skade van regte geweld kan kom.

Natuurlik sou dit nooit lank geduur het nie voor die kleine VF Plus – wie se snelle groei in Meimaand se verkiesing talle beroepswedders skatryk gaan maak – ook in die spervuur sou kom vir “Slaan terug!”. Dit terwyl “slaan terug” teen ondrinkbare kraanwater en die verkragting van Eskom en ja, teen ’n regering wat in die geval van Bosasa hoogverraad gepleeg het, iets is wat elke laaste sobere Suid-Afrikaner vra.

Dit is ewe ontstellend dat ons kasueel morele blaam pak op iemand soos Elana Barkhuizen, wat lid is van ’n groep wat die oersonde gepleeg het, en daarom haar grondwetlike reg verbeur het om onskuldig geag te word totdat haar skuld bewys is, terwyl daar steeds ministers in pres. “New Dawn” Ramaphosa se kabinet sit wat leuenaars is, en bedrieërs.

* ’n Kollega sê Vrydag: Daai DA-advertensiebord is nie die soort ding wat uitgedink word deur foendies soos Gwen Ngwenya nie, wat Donderdag as DA-beleidshoof bedank het. Want dit het niks met beleid te doen nie. Dis gewoon goeie kommunikasiestrategie. Die kollega is waarskynlik reg, maar ek dink die DA gaan armer wees sonder Ngwenya, wie se liberale instinkte op kritieke momente heeltemal korrek was. Dit bly egter ’n geldige vraag: Is dit korrekte idees wat verkiesings wen, of eerder ’n bietjie naakte opportunisme?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.