Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: In 40 dae het Cyril berge in SA versit

Dit was gister 40 dae sedert Cyril Ramaphosa verkies is as ANC-president. “40 dae van aksie,” skryf Money­web se Ryk van Niekerk.

En hoe: Op die vierde verdieping van die Lebohang-gebou in Bloemfontein voer die Valke ’n klopjag uit op die kantore van Ace Magashule, Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die ANC. Inhegtenisnemings wink.

In ’n konferensielokaal in Davos, Switserland, doof Ramaphosa die Zuma-kleptokrate se laaste vlammetjie van hoop uit dat duur Russiese kernkragsentrales gebou sal word. Hy onderneem boonop om met erns na die myne se kommer oor die mynbouhandves te kyk, daardie ongesonde fetisj van Mosebenzi Zwane, die minerale-minister wat vir hom ’n gat op die werf van die Guptas gegrawe het.

In dieselfde grondverskuiwende week bevind die hooggeregshof in Pretoria – asof in ’n eggo van wat in die ANC gebeur – ten gunste van Solidariteit en die DA in die saak oor Brian Molefe, die treurpot-Eskomskelm wat graag op perskonferensies grens. Molefe verloor die pensioen wat onwettig maar met die kondonering van minister Lynne Brown deur Eskom aan hom uitbetaal is en moet R10,3 miljoen wat hy reeds ontvang het, terugbetaal.

Dae vantevore het Ramaphosa op ’n brief uit die kantoor van die presidensie van die Republiek van Suid-Afrika aangekondig Eskom se hele direksie word afgedank en vervang – nie deur nog ’n spul Gupta-Brown-marionette nie, maar deur vaardige tegnokrate.

Jabu Mabuza, die nuwe direksievoorsitter, kanselleer sy vliegkaartjie na Davos om Eskom se krisis te begin takel.

Vir dié wat daarop wys dat Eskom ’n belangrike rat in die staatskapingsmasjien is maar nie die enigste een nie, had regter Raymond Zondo ook nuus: Die kommissie van ondersoek na staatskaping sal ’n eng opdrag hê wat Zondo en sy nog ongenoemde ondersoekers in staat sal stel om meestal op Zupta-verwante vergrype te fokus.

Zondo mag dus Absa-Bankorp, die Ruperts en ander obsessies van Black First Land First los.

In die parlement het Anoj Singh, Matshela Koko en ander Eskom-figure ook op ongewoon tawwe vrae van ongewoon veglustige ANC-LP’s moes antwoord in die hoëoktaan-sittings van die komitee wat staatskaping bekyk. Singh het ook bedank.

Die polisie het begin om sy strukture te suiwer – sowel Berning Ntlemeza, die oud-Valke-baas, as Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, is die laaste ruk vir goed gepos.

Gewoonlik wanneer ’n ANC-leier beloftes maak oor ‘regruk’ en ‘skoonmaak’ sit ons jare later nog en wag vir optrede.

Uit die tesourie kom ook bemoedigende geluide: Malusi Gigaba, wat meer ambisie as ruggraat het, het sy designer-mantel geruisloos gedraai en sê nou presies dieselfde goed as Ramaphosa. His new master’s voice.

Gewoonlik wanneer ’n ANC-leier beloftes maak oor “regruk” en “skoonmaak” sit Suid-Afrikaners jare later nog vir optrede en wag terwyl die nasie se erfgoed onder ons uit gesteel word.

Dit is duidelik in die geval van Ramaphosa anders.

Hy doen een van twee dinge: Óf hy breek regtig met die Zuma-era óf hy doen vinnig genoeg net genoeg om ons te oortuig dat hy besig is om met die Zuma-era te breek. In ruil daarvoor kan die ANC die politieke voordeel van demonstreerbare vordering trek wanneer ’n algemene verkiesing iewers in die volgende jaar of wat plaasvind (dalk vroeër eerder as later?).

Selfs al is die frenetiese aktiwiteit in Ramaphosa se eerste 40 dae net ’n poging om Suid-Afrikaners se vertroue in die toekoms so ietwat te herstel, wil ek sê: Hou so aan, meneer Ramaphosa.

Natuurlik sal ons eers tevrede wees wanneer die kabinet gereinig word van Zuma se skoothonde. Natuurlik is ons ongeduldig omdat adv. Shaun Abrahams nog in sy pos is en pres. Jacob Zuma nog nie weer aangekla is nie.

Natuurlik is daar steeds fundamentele geskille tussen Suid-Afrikaners wat glo kaderontplooiing is vernietigend vir die land en mense soos Ramaphosa, wat eens voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee was.

Natuurlik skuld Ramaphosa aan elke boer en elke ander eienaar van eiendom ondubbelsinnige en dringende antwoorde oor hoe ver die volgende regering bereid sal wees om te gaan ten einde eise vir “radikale ekonomiese transformasie” en onteiening sonder vergoeding te beantwoord.

Tog het Ramaphosa in ’n veel korter as verwagte tyd gewys dat dit hy is wat nou in beheer van sake staan in die ANC. Die staat val vinnig in by dié nuwe regime. In 40 dae is noodsaaklike stappe gedoen om ons vertroue te begin herstel dat die regering weer eendag kan funksioneer in die belang van ’n meerderheid eerder as net ter wille van ’n klepto-kliek.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.