Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Is EFF se hofnarre die vyand of nie?

’n Op die oog af gedissiplineerde en selfs boetvaardige ANC het Donderdagaand nogal beïndruk in die parlement. Veral gemeet aan die vyand se laakbare gedrag.

Wag ’n bietjie – “vyand?”

Is dit “ondemokraties”, ’n oorvereenvoudiging en tekenend van my eie outoritêre neigings om te reken dat die EFF die “vyand” is – die EFF wat gesing het “moeder juig as jy die boer opdonner”, wat na FW de Klerk gewys en geskree het “hamba, Satan!”, wat ons vir 75 minute moeg gemaak het met ’n stuk voos politieke teater?

Is hulle nie eerder bloot “teenstanders” of “opponente” nie, “mededingers” of “gespreksgenote”?

Is hulle Bolsjewiste wat soos in die Romanof-Rusland van 1917 ’n gebreekte stelsel wil vernietig net om iets erger in die plek daarvan op te rig, of is hulle maar net hofnarre wat die nuwe regerende elite irriteer deur te kekkellag dat ook keiser Cyril kalerig is?

Is hulle die vyand of is hulle demokrate? Jy kan nie albei wees nie.

Die 44 EFF-LP’s, in kitsch rooi uniforms getooi ter wille van die fiksie dat hulle die party vir huiswerkers en mynwerkers is terwyl hulle Moët beter as Black Label ken, is immers almal verkose lede van die parlement.

Hulle is, soos Julius Malema ons herinner het, nie indringers nie, al tree hulle dikwels soos kamma-slagoffers van die stelsel op waarkragtens hulle hul poste beklee.

Donderdagaand was ’n nederlaag vir die rebelle in rooi wat Suid-Afrika teen hulle verenig het.

Die EFF se oneerbiedigheid jeens protokol en konvensie is volgens die party net ’n manier om te vra: Waarom die mite propageer van ’n wetgewer vir, van en deur die mense? Het die wetgewer nie die afgelope dekade pal gebuig na die ANC se wil nie?

EFF-kiesers sal vra: Is dit die EFF wat ’n klug maak van die demokrasie, of die ANC, wat in dasse en pakke en rokke, en plegtig binne parlementêre reëls, die staatskas plunder en parlementêre prosesse gebruik het om Zuma vir ’n dekade teen aanspreeklikheid te pantser?

EFF-apologete vra: Is dit die EFF wie se gebrek aan respek teenoor Pravin Gordhan ons behoort te kwel, of liewer Gordhan en Ramaphosa se verbete geklou aan staatsbeheer; hul inmenging by staatsondernemings; hul huiwering om noodsaaklike afleggings by die SAL of Eskom te oorweeg?

Die motiewe agter die EFF se aanslag op Pravin is onsuiwer – dis kru rassisties – maar is hulle nie reg dat Pravin die een is wat moet verduidelik waarom die ligte nie brand nie?

As ’n mens verbind is daartoe om sin in die EFF se dade te vind, sal jy dit altyd regkry. Die party maak soms geldige punte. Maar Donderdagaand was ’n nederlaag vir die rebelle in rooi wat Suid-Afrika teen hulle verenig het – en dis goed vir die land.

Deur sy party uit die Nasionale Vergadering te lei, eerder as om uitgegooi te word deur die “withemde”, het Malema die ANC na die party van orde laat lyk – iets waarna baie Suid-Afrikaners smag.

Nie net het die speaker, Thandi Modise, die EFF tou gegee om homself aan op te hang nie, maar die ANC het ook verenig agter haar toe sy weier dat die EFF oudpres. FW de Klerk uit die parlement laat boender. Selfs daai tsotsi Ace Magashule en die ANC se woordvoerder Pule Mabe het die besluit verdedig dat De Klerk moet bly.

“Die geskiedenis van hierdie land is vir almal van ons. Daar was ’n apartheidstelsel, maar daar was ook ’n stelsel wat ons almal in hierdie huis laat beland het,” het Modise gesê.

Toe sy verklaar geen verdere punt van orde oor De Klerk sal toegelaat word nie, het elke ANC-LP wat ek kon sien, hande geklap. Selfs toe Corné Mulder van die VF Plus voorstel dat EFF-LP’s beboet word vir hul wangedrag, was daar uit ANC-geledere applous. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, was een van dié wat geklap het.

Opposisieparty het teen die EFF verenig. Dit het gevoel of die grootmense oorgebly het in die parlement.

Ons land sal daarby baat vind as die politieke partye wat Donderdagaand opgekom het teen die Bolsjewistiese EFF meer gereeld en meer berekend saamstaan teen ’n party wat nie daarin belang stel om dit wat verkeerd is in Suid-Afrika reg te maak nie, maar slegs belang stel in mag.

Tog moet ons waak daarteen om die EFF bloot ’n “vyand” te noem en in die proses self nie meer soos demokrate op te tree nie. Dit is tyd dat ordentlike Suid-Afrikaners saamstaan teen hierdie anargiste, hulle isoleer, en hulle demokraties verslaan.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.