Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ja, barbare is los, maar wraak sal ons nie red

Die barbare is nie by die hek nie, hulle is lankal en nog steeds tussen ons, en hulle daag ons uit om self barbare te word.

Die barbare verkrag meisies soos Janika Mallo van Mitchells Plain (14) en verbrand in die Oos-Kaap ’n 84-jarige ouma as “heks”; hulle steek ’n vrou met ’n mes en kap dan haar lyk op om soos vleis in plastiek te verpak (Lynette Volschenk, 32); hulle lei studente soos Uyinene Mrwetyana (19) in lokvalle of val hulle in hul woonstelle in deftige veiligheidskomplekse aan.

Die barbare maai ook op plase sonder enige vrees om gevang te word en hulle klim helder oordag deur die vensters van voorstedelike huise.

In Katlehong jaag die barbare ’n Zimbabwiese ma uit haar huis.

In Pretoria onderwerp die barbare Zambiërs en Malawiërs en Nigeriërs – skuldiges en onskuldiges deurmekaar – aan boendoeverhore.

In Jeppe in Johannesburg jou ’n skare gewapen met knopkieries en sambokke die minister van polisie uit wat hulle in Zoeloe probeer paai. Hulle wil die orgie van geweld teen sogenaamde indringers voortsit.

In reaksie op die barbare wat vroue en buitelanders deur hel sit, raak ons radeloos en gooi ons die hekke oop wat ons eie demone op hok moet hou.

Ons soek wraak: Op die internet teken 575 000 mense ’n petisie wat vir die doodstraf vra in gevalle van “misdade teen vroue”. Die minister van justisie, Ronald Lamola, sê die kabinet sal eise vir ’n referendum hieroor bespreek. Die nuwe IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, sê: Bring die doodstraf terug.

Ons soek ’n opskorting van grondwetlike regte: Die president van die ANC-vroueliga, Bathabile Dlamini, vra vir ’n wet wat moet seker maak dat diegene wat beskuldig word van verkragting en ander geweld teen vroue nooit borgtog kry nie. Die bewyslas behoort boonop nie meer te val op die staat wat beweer dat ’n misdaad gepleeg is nie, maar op die beskuldigde, wat sy eie onskuld moet bewys.

As ons gaan toelaat dat die demone van eiereg, wraaksug en growwe veralgemenings oor mans of buitelanders uit hul hokke kom, gaan ons probleme as nasie vererger.

Veroordeelde verkragters moet chemies gekastreer word, sê die liga.

Ons kan die misdadigers nie eens vang nie, maar ons wil dié wat ons wel vang swaarder straf. In sy toespraak Donderdagaand sê pres. Cyril Rama­phosa: “Ek sal aan die kabinet voorstel dat alle misdade teen vroue en kinders strenger minimum vonnisse moet kry. Ons stem saam dat die staat borgtog moet teenstaan vir verkragters en dié wat vroue en kinders vermoor.”

Dit sluit vermoedelik dié in wat in hegtenis geneem en later vrygelaat word omdat hulle óf niks daarmee te doen gehad het nie óf omdat die staat nie bewyse kon vind nie.

Ons soek die reuk van vlees wat brand: Nadat die gemeenskap van Khayelitsha die huis afgebrand het van die man wat daarvan beskuldig word dat hy Uyinene van Ikeys vermoor het, skryf Siv Ngesi, ’n gewilde rugbykommentator en TV-aanbieder: “Die verkragter . . .se huis is afgebrand deur die gemeenskap. Ongelukkig was hy nie in die huis nie!”

Ons wil ook wegdoen met die idee dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bewys is en ons onderneem om alle vermeende slagoffers te glo. “I believe survivors,” sê die DA-jeug op Twitter.

Ook in die gesprekke oor aanvalle op buitelanders verwerp ons rasionele gesprek en nuanse. In Suid-Afrika is alle buitelanders óf skuldig aan iets – volgens die moordbendes in Gauteng – óf onskuldig en almal hier welkom, as jy na Julius Malema of Ramaphosa luister.

Ons politici sien die gaping om Afrikane te paai deur eerder teen ’n nuwe vyand te draai.

Thulas Nxesi, minister van arbeid en werkskepping, sê xenofobiese geweld is als die “elitistiese vryemarkstelsel” se skuld, wat buitelanders toelaat om hul arbeid teen minder as die minimum loon te verkoop. Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, maan swart Suid-Afrikaners om hul woede nie uit te haal op swart mense nie – hulle moet liewer wit mense teiken.

Julius Malema, die EFF-leier, spreek sy ondersteuners toe en sê: “Ons woede is op die verkeerde mense gerig. Soos ons almal, verkoop ons Afrika-broers en susters hul arbeid teen ’n lae prys om te oorleef. Die eienaars van ons welvaart is witmonopoliekapitaal; hulle weier om dit met ons te deel. Die regerende ANC beskerm hulle.”

Ook David Makhura, premier van Gauteng, reik na populisme toe hy sê buitelanders moet verbied word om “sekere tipe sakeondernemings” in townships te bedryf.

Dis so gek.

Hierdie regering gee die barbare in die samelewing al so lank vrypas om te steel en te verkrag en te moor, soms met opset en soms uit blote onbevoegdheid, dat niemand meer die staat se waarborge glo dat reg en orde weer afgedwing kan word nie.

Die regering het al lankal ophou probeer om immigrante te dokumenteer en weier om met Suid-Afrikaners te praat oor die vlak van immigrasie wat vir die samelewing aanneemlik is. Wanneer chaos dan losbars, verval hulle in soetsappige gemeenplase oor Afrika-eenheid sonder om hul eie aandeel in die probleem raak te sien.

As ons gaan toelaat dat die demone van eiereg, wraaksug en growwe veralgemenings oor mans of buitelanders uit hul hokke kom, om van die soeke na nuwe sondebokke nie te praat nie, gaan ons probleme as nasie vererger. Wetstoepassing is die sekerste manier vorentoe.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.