Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ken jou plek en salueer die SANW

Die sekurokrate is nou in beheer. So ken jou plek. En salueer as dit jou bas kan red.

Toe pres. Cyril Rama-phosa op 26 Maart soldate by Doornkop in Soweto toegespreek het op die vooraand van ’n inperking waartydens selfs braaihoenders voëlvry verklaar sou word, het hy dit in weermaguniform gedoen. Daar was “niks fout daarmee nie”, het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, gesê. “Daai uniform word gedra wanneer jy werk toe gaan. Die president is die opperbevelvoerder van die gewapende magte.”

Ramaphosa self het die soldate gevra om nie geweld te gebruik nie en gesê die uniform is sy manier om sy “totale steun” vir hul sending uit te druk. “Gaan uit en maak oorlog teen ’n onsigbare vyand, die koronavirus,” het hy gesê. Dit het nie na die regte tyd gevoel om te vra van watter nut ’n R4-aanvalsgeweer is as die eintlike vyand mikroskopies klein is nie.

Terwyl Ramaphosa selfs in uniform allermins militaristies is, kan dieselfde nie van party ministers in die “nasionale bevelsraad” gesê word nie. Nie net die immer veglustige Bheki Cele nie, maar ook Mapisa-Nqakula, wat op 25 Maart oor die gebruik van soldate gesê het: “Dit sal slegs skop, skiet en donner wees wanneer die omstandighede dit vereis. Vir eers is ons nog ’n grondwetlike demokrasie.”

Mapisa-Nqakula het gesê “provokateurs” het ’n “staat van paranoia” oor die weermag geskep deur video’s rond te stuur oor soldate wat wandade pleeg.

Met hierdie kombinasie van leiers – ’n versigtige Ramaphosa en ministers wat van die heup af skiet – is ons gevra om die weermag op straat te aanvaar en hulle die voordeel van die twyfel te gee. Die inperking is immers noodsaaklik, is ons verseker, en dit is darem nog nie ’n noodtoestand nie.

Een gesiene bewaker van openbare sedes wat graag foto’s op sosiale media plaas van mense wat in oefenklere Checkers toe stap, het selfs gewaarsku dat ek en jy ons tog moet gedra, anders word dit dalk tog nodig vir die president om ’n noodtoestand aan te kondig. En dit wil ons nie hê nie?

’n Noodtoestand sou egter parlementêre toesig vereis het oor besluite van die uitvoerende gesag – toesig waarvan daar in hierdie eindelose “ramptoestand” sover min sprake was, die DA se pogings ten spyt.

Die gebrek aan parlementêre toesig is weer geïllustreer toe Ramaphosa Dinsdag besluit het ’n bykomende 73 180 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) word landwyd ontplooi tot 26 Junie om die polisie met die handhawing van “reg en orde” te help, veldhospitale te bou, water te voorsien, die landsgrense te bewaak en met ingenieurswerk en logistiek te help.

Die gesamentlike staande komitee oor verdediging het Woensdag gesit met ’n grondwetlike mandaat om krities oor Ramaphosa se besluit te besin en die weermag aanspreeklik te hou.

Die parlement se navorsingseenheid het in ’n brief die vorige dag gevra dat die komitee in gedagte hou dat dit “ongeëwenaard” is om Suid-Afrika se “totale militêre en reserwesterkte op te roep”; dat dit amper R5 miljard sal kos; en dat die parlement eers op 21 April ingelig is van ’n ontplooiing terugwerkend tot 2 April.

“Lede (van die komitee) kan dalk vra vir ’n gedetailleerde voorlegging oor die ontplooiing. Hoeveel personeel word per provinsie ontplooi, presies waar, en vir watter doel?” het die parlement se navorsers gevra.

In die vergadering het die minister, weermag en ANC-LP’s laat blyk hulle is nie juis vir toesig te vinde nie.

Mapisa-Nqakula het gesê “provokateurs” het ’n “staat van paranoia” oor die weermag geskep deur video’s rond te stuur oor soldate wat wandade pleeg. Sy wil liewer nie praat oor die dood in Alexandra in die naweek van 11 April van Collins Khosa nie, iets waaroor sy baie jammer is.

Volgens ooggetuies en Khosa se prokureurs het soldate hom daarvan beskuldig dat hy op ’n kampstoel buite sy huis (maar op sy eiendom) gesit en drink het (dis wettig). Toe is “bier oor sy kop uitgegooi, sy hande agter sy rug gehou, hy is gewurg, teen ’n sementmuur gegooi, met ’n geweerloop deur die gesig geslaan, in die ribbes gemoker en teen ’n staalhek geslinger” tot hy dood is. Die soldate het volgens Khosa se prokureurs ’n video van die voorval uitgewis.

Ook die top brass het Woensdag ’n spreekbeurt gehad. Lt.genl. Rudzani Maphwanya het gesê niemand sal toegelaat word om die geveg teen Covid-19 te ondermyn nie, ’n doelwit wat gestel is deur die president as opperbevelvoerder van die SANW. “Terwyl ons uitgelok word, sal wetstoepassers niemand toelaat om die president te beledig nie. Ons sal dadelik optree.”

Lt.genl. Lindile Yam, SANW-stafhoof, het gesê: “Die staat is ’n instrument van die regering wat moet verseker dat reg en orde afgedwing word.” Hy het aan die LP’s gesê: “Julle is nie ons kliënte nie. Ons is nie die polisie nie. Ons kry opdragte van die opperbevelvoerder (Ramaphosa).”

ANC-komiteelede kon hiermee nie fout vind nie. Soldate moet die wet toepas. Wat soek mense in elk geval op straat? Anele Gxoyiya het gesê die SANW is ons “laaste hoop”. Dit is “moedswillig” om video’s oor vergrype te versprei. “Ons behoort nie lede van die publiek toe te laat om hulle te gedra soos hulle goeddink nie.”

Toe Pippa Green, persombudsman, op Twitter vra of die massiewe ontplooiing van die weermag eendag onthou sal word as ’n “keerpunt in ons politieke kultuur”, het iemand gesê: “Ja, maar ten minste sal ons nie dood wees nie – en ons het die Grondwet.”

’n Grondwet is ’n kosbare ding, maar van relatief min nut as jy in die loop sou vaskyk van ’n R4. Dít is tot 26 Junie – en dalk daarna ook – baie Suid-Afrikaners se voorland.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.