Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Klou vas, Mmusi, dis wat almal doen

Die eerste reël van die politiek is om nooit te bedank nie.

Diegene wat so kerm dat Mmusi Maimane hierdie naweek by die vergadering van die Demokratiese Alliansie se federale raad moet bedank omdat die DA swak vaar in tussenverkiesings, of wat sê Maimane moes reeds op die aand van 8 Mei bedank het toe sy party se verliese duidelik geword het, verwag van hom om iets te doen wat geen leier doen nie.

Verbeel jou jy is Mmusi Maimane (dalk staan daar reeds ’n Fortuner in jou garage). Sit in die parlement.

Kyk om jou.

Onder die leierskap van Mosiuoa Lekota het Cope se setels in die Nasionale Vergadering van 30 in 2009 tot net twee vanjaar gedaal. Die party, eens ’n toevlug vir ontnugterde Mbe­ki­iete en allerlei sentriste, is bykans uitgewis. Tog is Lekota nog daar.

Onder die leierskap van Bantu Holomisa het die United Democratic Movement (UDM) se setels van 14 in 1999 tot nege in 2004, vier in 2009 en 2014 en twee vanjaar gedaal, maar daar sit hy nog, al wat oor is van die heel eerste – en hoe dapper! – ANC-splinterparty.

Kenneth Meshoe is nie weggejaag toe die ACDP in 2009 se verkiesing die helfte van sy stemme verloor het nie (die klein partytjie se setels het van sewe in 2004 tot drie in 2009 en 2014 gedaal en vanjaar met enetjie gestyg).

Die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) het in Augustus vir die eerste keer in 44 jaar ’n nuwe president gekies, en nooit durf torring aan prins Mangosuthu Buthelezi se greep op die mag nie, selfs toe die IVP in 1999 ’n yslike nege LP’s afgestaan het, gevolg deur nog ses in 2004, nog 12 in 2009, en nog ses in 2014. Dit was een van die mees dramatiese ineenstortings van ’n politieke dinastie nóg om van 43 setels in 1994 en 10,54% van die stemme tot tien setels in 2014 en net 2,4% van die stemme te val. Tog het niemand Buthelezi se kop geëis soos nou in die DA nie.

Die regte man op die regte plek op die regte tyd . . .

Die enigste partye wat al van hul leiers ontslae geraak het, was die Vryheidsfront Plus, wat in 2001 vir genl. Constand Viljoen vervang het twee jaar nadat dié party ses van sy nege LP’s by die stembus verloor het, en die ANC.

Die besluit in Februarie 2018 om Jacob Zuma te dwing om as president van die land te bedank, het niks met beginsels van enige aard uit te waai gehad nie; dit is gemotiveer deur die vrees dat die ANC se verliese van altesame 30 LP’s in twee verkiesings – 15 in 2009 (279 LP’s tot 264) en nog 15 in 2014 (264 tot 249) – in die volgende verkiesing herhaal sou word.

Selfs Zuma is nooit as ANC-leier verwyder nie – hy was in Desember 2017 by Nasrec nie weer verkiesbaar nie.

So, as Maimane die geselskap wil opsoek van ander leiers op wie se wagbeurt hul partye in die grond in bestuur is sonder dat enigiets met hulle gebeur, is hy op die regte plek. Hy kan boonop rustig slaap in die wete dat sy party se verlies aan sowat 470 000 stemme of sowat twee persentasiepunte gering is teenoor die verliese wat van sy eweknieë al oorleef het.

Maimane het twee opsies.

Die eerste is om te doen wat al die ander doen. Hy kan hom ingrawe, slagoffer speel en ’n koalisie van verwondes saamsnoer wat vir hom vertel hoe absoluut great hy is en dat dit net die verdomde liberals is met hul naïewe koorsdrome oor nierassigheid wat hom wil vervang. Dit sou natuurlik insluit die skrywers van die hersieningsverslag oor die DA se vertoning by die stembus, wat ’n vroeë kongres en die kies van ’n nuwe leier aanbeveel het.

Dit word vir hom ’n eksistensiële roeping om te bly en te veg vir “een Suid-Afrika vir almal” (wat dit ook al vir beleid beteken) en ’n aaklige regressie te keer na die tipe party wat Afrikaanse kiesers lok in Noordwes.

Hierdie eerste opsie is ook vir Maimane beskikbaar, en word trouens dalk vir hom noodsaaklik, as Helen Zille vanoggend gekies word as voorsitter van die DA se federale raad. Maimane sal aan die DA se linkervleuel wil bewys hy was nooit haar maaksel nie.

Maimane se ander opsie is om (vyf maande laat) te doen wat Zach de Beer gedoen het toe die Demokratiese Party (DP), voorganger van die DA, in 1994 net 1,7% by die stembus gekry het, naamlik om te bedank. De Beer het nie gewag vir die party se volgende kongres nie en Tony Leon is by ’n gewone federale raadsvergadering soos die een wat gister en vandag plaasvind as tussentydse leier gekies van ’n party wat onder sy leiding ’n reus in die politiek sou word. Hierdie tweede opsie sal van Maimane vereis om in hom te vind wat geen leier om hom en weinig leiers voor hom kon vind: Die moed om plek te maak vir iemand anders omdat jy net nie meer die regte man op die regte plek op die regte tyd is nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Mmusi Maimane  |  Wag 'N Bietjie  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.