Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Korona: Cele en kie. voel niks vir jou regte

Ek is in ’n mooi stad gehok in ’n huis met lopende water en ligte en internet en ’n skottelgoedwasmasjien en ek is goddank nie alleen nie. Daar’s lekker wyn in die kas.

Ek het ’n salaris. My jonger suster se longkwaal is toe nie “die virus” nie en my pa (87) en ouma (89, uiteraard aan moederskant) is albei in tehuise waar geen geval van Covid-19 sover opgeteken is nie en waar besoekers al van laas week af weggehou word.

Rapport kan gepubliseer word (ons het hard baklei) en elke Woensdag besoek Bhuto, ’n TV-kameraman, my en Wilhelm se huis om ’n intro vir KN Verslag in Gesprek in die sitkamer op te neem – joernaliste mag nog pligshalwe rondbeweeg, al is my weeklikse vlugte na Johannesburg eers verby.

Min om oor te kla wat die siekte en ook die inperking betref soos wat ek sit en skryf op Vrydag. Dit is die eerste dag. Maar dis nie mense met voorregte soos ek wat versmoor word deur die ekstreme regeringsmaatreëls teen die pandemie nie.

Dis mense wat daagliks net-net genoeg geld maak om die aand ’n bietjie pap en dalk selfs vleis vir hul gesinne te koop. Sulke mense wat van die hand na die mond leef en nie reserwes het nie, het gisteraand reeds honger gaan slaap. Dis ook vryskutte minus kontrakte, musikante minus gehore, busbestuurders minus passasiers, huiswerkers minus ’n dagloon.

Die krisis van diegene wat vandag minus ’n inkomste sit, word nie vasgevang in die projeksies van viroloë oor hoeveel mense môre hier siek kan word en in die beelde op CNN uit Italiaanse hospitale nie – hul krisis manifesteer gister en vandag reeds.

Dat die maatreëls – rasioneles soos om tuis te bly en absurdes soos die verbod op sigarette of tydskrifte – afgedwing word deur ’n regering wat in soveel opsigte onbevoeg, arrogant en korrup is, maak die peperduur “kuur” vir Covid-19 ’n selfs bitterder pil om te sluk.

’n Krisis van gister en vandag – soos die krisis van ’n leë maag of ’n plat sak – is altyd, oral, dringender as ’n krisis van volgende week of April wat jou dalk sal tref en dalk nie. Honger laat nie met hom onderhandel nie en is nie ’n abstraksie nie en dalk is dit die punt: Vir miljoene Suid-Afrikaners is die koronavirus steeds iets teoreties, want op die oomblik is dit nie die siekte wat hul lewens bedreig nie, maar die regeringsreaksie daarop.

Dit verwoes die vooruitsigte van smouse en motorwagte en eensame ou mense en kelners en kleremakers en bierbrouers en tydskrifjoernaliste en boekverkopers en skoonmakers in die kantore van regsfirmas en plekaanwysers in bioskope.

Dat die maatreëls – rasioneles soos om tuis te bly en absurdes soos die verbod op sigarette of tydskrifte – afgedwing word deur ’n regering wat in soveel opsigte onbevoeg, arrogant en korrup is, maak die peperduur “kuur” vir Covid-19 ’n selfs bitterder pil om te sluk.

Nee, ek is nie soos die Withuis-nar ’n ontkenner van Covid-19 se poten­sieel verwoestende impak nie. Die virus kan inderdaad miljoene mense in Suid-Afrika besmet en honderdduisende doodmaak, sê wetenskaplikes.

Ek is wel bekommerd dat kritiese vrae oor die humanitêre en ekonomiese impak van die inperkingsmaatreëls as onpatrioties afgemaak word.

Ek is gegrief dat so min mense vra, soos Dirk de Vos op Twitter, wat ons dan in ruil vir die verlies van soveel van ons menseregte gaan kry? Kry ons ’n mindere dodetal? Ek hoop so. Kry ons dit én ’n regering wat baie van die magte agterna probeer behou wat hy met hierdie ramptoestand vir homself toegeëien het? Kry ons dalk net laasgenoemde?

Die vertoning by ’n mediakonferensie Woensdagaand van die minister van polisie, Bheki Cele, Fikile Mbalula, minister van vervoer, en Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, wys dat sommige ministers ’n vulgêre behae put nie net uit hul nuwe magte nie, maar ook uit die gemak waarmee ’n bekommerde bevolking die opskorting van hul menseregte aanvaar.

Sommige stiksieniges het die verlies van hul regte selfs geprys.

“They confuse authority with authoritarianism,” sê my vriend Francois Rabie Donderdagoggend oor Cele en kie toe ek hom in ’n verlate boekwinkel in die Waterfront raakloop. Ons blaas stoom af: oor die rooi ster op Zulu se voorkop, die lapelle op haar skouers – ’n Louis Vuitton-speelgoedsoldaat wat ’n maniese genot daaruit put om mense te hiet en gebied.

“It is the performance of authority rather than the substantive expression of it,” sê Francois. Juis.

Dié opgepofte stommerike maak reëls op wat miljoene mense nooddruftig laat. Die regering het selfs so ver gegaan as om ’n bepaling in die Staatskoerant te publiseer dat niemand “geregtig sal wees op vergoeding vir enige verliese of skade wat spruit uit die bona fide-optrede van enige amptenaar kragtens regeringsregulasies nie” – die gewraakte regulasie 11E, wat die polisie en weermag eintlik vrypas sou gee.

Dit is Donderdagaand herroep.

Pres. Cyril Ramaphosa het hom Maandag soos ’n staatsman gedra en die meeste van ons oortuig dat drastiese stappe in ons almal se belang is.

Ek aanvaar terloops dié punt.

Maar wanneer hy ’n militêre uniform aantrek soos Donderdagaand, vul dit my met diep ongemak. En wanneer Cele en Zulu en “Fiks” bevele blaf asof hulle ’n godgegewe reg het om oor ons te regeer, dan wil ek pleit dat ons onthou dis nie net ons gesondheid wat nou op die spel is nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Covid-19  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.