Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Kritiek op Islam word nie geduld nie

Wat behoort ’n samelewing te doen met mense wat nie sy taboes respekteer nie?

Vir primitiewe samelewings was en is die antwoord eenvoudig: Maak hulle dood.

Oor Godlastering lees ons in Levitikus 24:13-15: “Die Here het toe vir Moses gesê: ‘Vat die man wat gelaster het, uit die kamp uit. Laat almal wat hom hoor laster het, hulle hande op sy kop sit, en laat die hele gemeente hom daarna met klippe doodgooi. Sê dan vir die Israeliete: Elkeen wat vir God laster, sal die straf daarvoor kry. Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry.”

Straf vir Godlastering het later ietwat in Christelike samelewings versag.

Toe Martin Luther in 1517 sy 95 Stellings aan die kerkdeure in Wittenberg vasspyker, is hy met ’n pouslike bul veroordeel, later verban, en sy boeke – maar nie Luther self nie – verbrand omdat Luther dinge gesê het wat “weersinwekkend was vir vroom ore”.

Vandag nog kan ’n mens baie oor ’n gemeenskap leer deur te kyk wat hy met sy “ketters” doen.

Toe die Franse onderwyser Samuel Paty in September ’n spotprent van die profeet Mohammed aan sy leerlinge wys, het ’n jong Moslem-man hom onthoof.

Dit was vyf jaar nadat die hele redaksie van die satiriese koerant Charlie Hebdo deur Islamiste vermoor is in Parys nadat soortgelyke spotprente gepubliseer is.

Soveel as 300 Franse is die afgelope paar jaar deur Islamiste geslag, waaronder ’n 70-jarige vrou en twee ander in Oktober in ’n katedraal in Nice.

Vegter se gewraakte argument was allermins omstrede: Die Bybel is immers as regverdiging ingespan in Europeërs se gewelddadige projek van ekstraksie, oorheersing en Kerstening.

Die gebruik van geweld in reaksie op die belastering van Mohammed – of op die allerminste dreigemente van geweld – het ’n algemene verskynsel in die Weste geword. Een van die bekendste gevalle hiervan was die ajatolla Khomeini van Iran wat in Februarie 1989 die Britse skrywer Salman Rushdie ter dood veroordeel het weens beledigende uitbeeldings van die profeet in sy boek The Satanic Verses.

Uitgewers oral het sedertdien die fatwa geïnternaliseer. Kritici van Islam – en veral diegene wat poog om die godsdiens te reformeer en moderniseer – word as “Islamofobe” afgemaak.

Julie Burchill, die Britse skrywer van die boek Welcome to the Woke Trials: How #Identity Killed Progressive Politics, se boekkontrak is laas maand gekanselleer nadat sy die profeet in ’n twiet beledig het.

Dit is overkill, reken ek, maar gelukkig leef sy nog. Niemand het immers ’n absolute plig om iemand anders se geloof te respekteer nie, al verkies almal van ons dit natuurlik dat ons geloof nie beledig word nie.

In Suid-Afrika is Christelike taboes ook in November gebreek. Heftige kritiek is egter gelewer met die pen eerder as met die swaard.

Talle Rapport-lesers het beswaar aangeteken teen ’n rubriek waarin Loftus Marais spottend oor die kitsch van Kersfees geskryf het.

En die webblad The Daily Friend is gekap nadat Ivo Vegter in ’n rubriek gevra het waarom die onderwys en selfs wetenskap deurloop onder eise dat dit “dekoloniseer”, maar die Christelike godsdiens word sulke eise gespaar. Ernst Roets van AfriForum het ’n onvoorwaardelike onttrekking van die artikel by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) geëis, wat geweier is.

Vegter se gewraakte argument was allermins omstrede: Die Bybel is immers as regverdiging ingespan in Europeërs se gewelddadige projek van ekstraksie, oorheersing en Kerstening. Vegter was ook reg dat baie arm Afrikane deur welvaartpredikers soos Shepherd Bushiri uitgebuit en belieg word.

Nietemin: Sommige lesers het Vegter se gekrap waar hy gereken het dit jeuk – net soos Marais s’n – as “godslasterlik” ervaar. In ’n redaksionele kommentaar het die IRV gesê hoewel dit verstaanbaar is dat kritici sê dit is onbehoorlik om Christenskap aan te val, is die lug van opponerende menings ’n noodsaaklike voorwaarde in enige ware soeke na die waarheid.

“Aanstoot moet liewer gegee en dan heftig weerlê word as om enige onderwerp te vermy op grond van ‘onskendbaarheid’. Dít is die grootste toets vir vryheid van uitdrukking . . .

“Die impak van godsdiens was onpeilbaar groot. Dít was nêrens duideliker as in die siniese regverdiging van die apartheidstelsel nie.

“Om godsdiens noukeurig te ondersoek, is geregverdig, selfs as lesers die substansie verag, of die manier waarop dit gedoen word. Christenskap het die meeste volgelinge wêreldwyd. Dit is voorheen gekritiseer en sal weer gekritiseer word. Christene sal terug-argumenteer, soos hulle moet.”

Hoewel ek van Roets verskil dat Vegter se rubriek God bespotlik gemaak het, is hy reg dat Islam se taboes deesdae oor die algemeen in die Weste met groot ontsag hanteer word, terwyl kritiek op bepaalde Christelike geloofsartikels in Westersgesinde samelewings toegelaat en selfs verwelkom word.

’n Mens wonder of die ongeduld met kritiek op Islam ooit van binne-in ’n Reformasie uitgedaag sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.