Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Laat die ‘regses’ die ekonomie bestuur

Waar is die regses wanneer ’n mens hulle nodig het?

Ek praat nie van dwase in groen onderbroeke op perde nie maar van ekonome soos Tito Mboweni en Lesetja Kganyago wat die guts het om te sê dat dit linkses is – van tsotsi’s soos Ace Maga­shule tot gesiene burokrate soos Pravin Gordhan – wat die ekonomie op sy knieë dwing.

Die linkses glo dat ons ekonomie, wat die dinamisme het van ’n louwarm poel bilharzia-water, bruisend en kristalhelder sal word danksy nog ’n mediaverklaring uit Luthuli-huis. Of dat ons sal groei as ons maar net korrupsie kan bekamp.

Linkses glo ’n werk is iets wat jy “skep”. Dís veral die staat se plig, wat tans ’n derde van sy totale begroting vir staatsdienssalarisse gebruik.

So byvoorbeeld het Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, Dinsdag ná afloop van die party se driedag-lekgo­tla aangekondig: “Die lekgotla het ooreengekom om die werkloosheidskoers te verminder van 27,6% tot 14% in die volgende vyf jaar.”

Dis sommer bedonnerd, Ace. Waarom het julle nie al lankal so ’n “besluit” oor werkloosheid geneem nie? Of wag: Eintlik neem julle al jare “besluite” oor werkloosheid deur entrepreneurs se kniekoppe met beswarende beleid te breek en beleggers met hallusinasies oor eiendomsreg die skrik op die lyf te jaag. Daai was ook “besluite”.

Min “staatsgesentreerde beleidseksperimente” kan egter skadeliker wees as die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Linkses glo in “staat-gesentreerde beleidseksperimente”, skryf Anthony Butler Vrydag in Business Day. Verwag nog heelwat hiervan met ’n vroom, hardwerkende en korrupsievrye linkse soos Ebrahim Patel as minister van handel en nywerheid, die voormalige SAKP-voorsitter Gwede Mantashe as minister van minerale bronne en energie, en Thulas Nxesi, wat in 1990 die eerste sekretaris-generaal was van die onderwysvakbond Sadou, as minister van indiensneming en arbeid.

Min “staatsgesentreerde beleidseksperimente” kan egter skadeliker wees as die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Voeg daarom die naam van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, by Butler se lys linkses.

Op sy eerste mediakonferensie Donderdag by die Mamelodi-hospitaal het Mkhize gesê die NGV sal ongelykheid in die gesondheidstelsel uitwis en dat dit geïmplementeer moet word voordat bestaande krisisse opgelos word, waaronder ’n personeeltekort, infrastruktuur wat ingee, ’n tekort aan medikasie en klinieke en die opleiding van dokters en verpleegsters.

Mkhize, ’n “goeie oue”, tel onder die linkse torpedojaers wat 25 jaar se data in ons eie land ignoreer: Die data wys dat sentrale staatsbeheer plus kaderontplooiing plus regstellende aksie tot slegte gevolge vir armes lei. Die NGV, waarsku kenners, kan slegs ongelykheid in gesondheidsdienste uitwis deur die middelklas, wit en swart, te verbied om gehaltesorg op die ope mark te koop. Mkhize sal nooit erken dat hy en sy kabinetskollegas, soos regeringsministers in haas elke ander Afrikaland, na hospitale in Londen of Moembai sal vlieg as private hospitale eendag hier in duie stort omdat daar nie meer winste is nie. Maar ag, dis nooit ministers wat vir mislukte beleidseksperimente betaal nie. Dis ons almal.

Die linkses glo, soos Kganyago die afgelope week te midde van die aanslag op die Reserwebank gesê het, dat jy “ ’n ekonomie wat krimp kan bliksem en kan dwing om te begin om werk te skep”. Nee, maan hy dan: “Werksgeleenthede is die uitkoms van ekonomiese groei.” Groei wat daar nie is nie.

Linkse rassenasionaliste soos Mzwanele Manyi glo dat die privatisering van staatsbates soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens teenrevolusionêr is. Hy glo selfs die bog dat Vuyani Jarana, die oud- uitvoerende hoof van SAL, misluk het in sy taak sodat die publiek sal begin glo “swart mense is ’n mislukking” en om “privatisering te regverdig”.

Magashule het dié twiet van Manyi op 2 Junie herhaal.

Die “regse” Mboweni, daarenteen, het hom al versigtig ten gunste van privatisering uitgespreek en ook Rama­phosa se plan met Eskom sou behels dat private opwekkers van elektrisiteit deel van die oplossing word. Linkse vakbonde wil dié planne dwarsboom.

Magashule, die hoof-gangster in die boek Gangster State, soek nie oplossings vir die ontsettende lyding van arm Suid-Afrikaners in die “neoliberalisme” van Rwanda (groeikoers: 8,5%) of die morsige en dinamiese vryemarkkapitalisme van Viëtnam nie (7%). Hy soek nie lesse oor werkskepping in Helen Zille se Singapoer (2,1%), Israel (3,7%) of, hemele help ons, Donald Trump se Amerika nie (3,8%).

Magashule sou wel in Maart die ANC se feitesending gelei het na Venezuela, waar moeders hulself en hul babas soos honde uit asblikke voer. Dinsdag het die ANC se NUK opnuut hul solidariteit uitgespreek met die mense van Venezuela, Kuba, Wes-Sahara en Pale­stina, plekke met massiewe netto emigrasie. Niemand wil daar woon nie.

Die ANC se ekonomiese denke was nog altyd ’n mengsel van “links” en “regs”. Toe ons ekonomie met 5% gegroei het in die vroeë jare 2000 onder Thabo Mbeki het dit amper gelyk of die neoliberaliste (die “regses”) wen.

Maar die party was nog altyd ook ’n tuiste vir mense soos Nomvula Mokonyane, wat gesê het as die rand val moet ons dit net weer “optel”. En selfs die Pravins van die party – en ja, ook die Cyrils – klou teen wil en dank aan die dogmas van staatsbeheer vas.

Magashule is nie naastenby die grootste bedreiging vir hierdie ekonomie nie. Dis linkse dogma selfs onder Magashule se vyande wat ons groeikoers druk tot by -3,2%.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.