Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Mmusi se skandes: Wat het die DA geweet?

Waarom kom soveel van Mmusi Maimane se skandes nóú uit? Die DA weet tog al jare daarvan.

Trouens, die party weet nie net alles waaroor Rapport berig nie – hulle ken ook ’n hele paar geheime oor Maimane wat steeds geheime is.

So, waarom nóú met die sak patats vorendag kom – of minstens met ’n patat op ’n slag, die een warmer as die vorige?

Maimane se verduideliking is dat diegene wat sy geheime uitlap nie sy visie vir ’n inklusiewe DA en “een Suid-Afrika vir almal” deel nie. Daarom versprei hulle wat hy noem “leuens”. Maar hy kon nog nie een “leuen” uitwys nie en weier om presies die vrae oor gunste en gelde te antwoord wat hy self aan pres. Cyril Ramaphosa stel.

Volgens Power FM het Maimane Woensdag in ’n onderhoud oor die huis van R4 miljoen wat hy in Kaapstad huur, gesê dit is “aanstootlik vir iemand om te suggereer dat die DA se eerste swart leier nie in ’n huis van daardie waarde behoort te bly nie”.

Maar wie het dit gesuggereer? Of is vrae oor geskenke deur glibberige donateurs off limits wanneer dit by Maimane en die DA kom?

Sy bysleep van ras is ’n taktiek wat hy by die ANC leen.

Die DA het die idee gekoop dat swart kiesers swart leiers soek. Hy was onaantasbaar.

Maimane glo sy ras was nog altyd irrelevant – tot nou. Hy glo dit het niks te doen gehad met die party se besluit om hom in 2011 die DA-burgemeesterskandidaat in Johannesburg te maak nie (hy was 31 jaar oud), of koukusvoorsitter toe hy verloor, of DA-woordvoerder dieselfde jaar, federale adjunkvoorsitter in 2012, DA-premierskandidaat in Gauteng in 2013, en federale leier in 2015 nie. Dít was volgens Maimane alles die geldige besluite van ’n kleurblinde meritokrasie.

Maar die kritiek teen hom? Dit moet wees omdat hy swart is.

Hy het dit verkeerd. Dis andersom: Almal weet – want die DA het destyds so gesê – dat die party in 2015 nie net ’n talentvolle nuwe leier gesoek het nie, maar ’n talentvolle swart leier. Daarenteen is daar sover geen teken dat die huidige paleisrevolusie enigiets met ras uit te waai het nie.

Waarvoor daar wel bewyse is, is dat die jong, nuwe leier van die amptelike opposisie jare lank beskerm is teen vrae oor sy karakter en sy politieke simpatieë omdat die party geglo het hulle het in hom die magiese formule gevind waarna swart kiesers soek. Die DA het die idee gekoop dat swart kiesers swart leiers wil hê. Hy was onaantasbaar. Omdat Maimane boonop jonk en charismaties is, het aantygings teen hom in die onderste laai beland en is hardnekkige gerugte gesmoor. Omdat die DA in 2016 se munisipale verkiesing goed gevaar het in Nelson Mandelabaai en boonop die ANC se wurggreep in Johannesburg en Tshwane gebreek het, het Maimane se luitenante ook klagtes oor sy gebruik van rasretoriek teen DA-kiesers geïgnoreer.

Noudat die DA stemme bloei, word die sluise van kritiek oopgetrek en die onderste laaie oopgesluit waarin Maimane se donkerste geheime lê.

Die aantygings dat hierdie nie beginselpolitiek is nie, hou dus steek. Dis opportunisme. Dis paleispolitiek.

Bewerings dat dit alles rassiste se leuens is, strek Maimane egter nie tot eer nie. Een van sy lojaalste kampvegters, die Gautengse DA-leier, John Moodey, skryf op News24: “Die aanvalle op die leier se etiese statuur en karakter is bloot propaganda deur diegene wat gedryf word deur bitterheid, maar veral deur hul blatante onverdraagsaamheid vir diversiteit in die DA . . . Dit is ’n staatsgreeppoging deur rassiste wat agter liberalisme skuil en die vooruitgang teenstaan wat die DA onder swart kiesers gemaak het. Dit is dieselfde groep wat daarvoor verantwoordelik was om die party se veldtog skade te berokken deur hul roekelose twiets en gevegte op sosiale media.”

Laasgenoemde is natuurlik ’n klap na Helen Zille, wat Vrydag onverwags haar naam in die hoed gegooi het om die nuwe voorsitter van die DA se federale raad te word wanneer die raad in Oktober vergader. Sy sal na verwagting te staan kom teen Athol Trollip, soos Moodey ook ’n Mmusi-man, in wat ’n stryd om die siel van die DA kan word.

Want die projek wat onder Zille met rasse skrede vooruit beweeg het, is besig om vernietig te word, nie omdat Maimane ’n swart leier is nie, maar omdat hy nie ’n leier is nie. Hy is eerder die hoopvolle maaksel van ’n DA-kliek wat geglo het hy kan vir die party stemme wen en wat teen hom gedraai het toe kiesers teen die party draai.

Sy hubris, sy fyngevoeligheid en die gemak waarmee hy ondenkend die vlamme van morele verontwaardiging oor rastwiste op Twitter suurstof gee, gee sy teenstanders verdere skietgoed.

Verwag daarom dat die party wat al lankal weet van die huis en die Steinhoff-Toyota nog dinge oor Maimane gaan “ontdek” waarmee hulle eintlik kwansuis nooit saamgestem het nie.

Hy is nou voëlvry verklaar.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Wag 'N Bietjie  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.