Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Twitter pla Mmusi meer as stemme

Cyril Ramaphosa jag tans grootwild. Hy wil staats­kapers se koppe teen sy kantoormuur monteer.

Mmusi Maimane skiet Twitter-voëltjies met ’n windbuks. Hy wil plegers van denk- en spraakmisdrywe uit sy party verwilder.

Op Ramaphosa se wagbeurt versuim die Mpumalanga-mafioso David “DD” Mabuza, adjunkpresident van die party, Woensdag om hom te laat beëdig as ANC-LP (dit kan natuurlik weldra blyk dat sy motiewe minder as edel is, maar hy sê hy wil die ANC se integriteitskomitee kans gee om sy kandidatuur te ondersoek).

Ook Baleka Mbete is weg. Malusi Gigaba, oudminister van binnelandse sake, wie se geesteskind die visumfiasko was, wat gelieg het in ’n hof, en wat ’n video van hom en sy grootmeneer rondgestuur het, groet die ANC-koukus die afgelope week. Saam met hom loop Nomvula Mokonyane, wat na bewering bevrore braaihoenders in die Louis Vuitton-handsak rondgedra het wat Bosasa vir haar gegee het, en wie se destydse departement, water en sanitasie, in 2018 onreëlmatige besteding van R6 miljard aangeteken het.

Good riddance, sê Ramaphosa se kamp. Dis asof die ANC skoonmaak, hoewel ons nog moet sien wie Rama­phosa kies vir sy verskraalde kabinet.

Op Maimane se wagbeurt versuim daardie uitgesproke verdediger van liberale waardes, Gwen Ngwenya, ’n briljante jong vrou wat verlede jaar nog beleidshoof was, om haar te laat beëdig as DA-LP (dit kan weldra selfs vir haar kollegas blyk dat haar motiewe edel was, sy wat as ’n politieke risiko beskou is nadat sy verlede jaar gesê het dat swart ekonomiese bemagtiging misluk het).

Maimane, wat ‘Een Suid-Afrika vir Almal’ predik, kry sy koukus nie verenig nie, verloor wit en bruin kiesers, en verveel swart kiesers...

Die DA-LP Ghaleb Cachalia, seun van die struggle-ikone Amina en Yusuf Cachalia, is weer onder ’n tipe sensuur geplaas as ’n ongedissiplineerde kader omdat hy dit gedurf waag het om die uitgesproke Radio 702-aanbieder Eusebius McKaiser te belg.

Chachalia se sonde? Om die bekende uitdrukking “Nothing quite like a woman scorned” in verwysing na McKaiser, ’n gay man, te gebruik. Die relletjie het gekom nadat McKaiser glo oor die radio vir Ngwenya ’n “regse” genoem het en Cachalia vir haar in die bresse getree het.

Ook Helen Zille, wat as premier die doeltreffendste regering gebou het wat Suid-Afrika in 25 jaar gesien het, en wat nou ’n gewone DA-lid is, sal na die DA se federale uitvoerende raad verwys word nadat sy op Twitter geskryf het dat daar ook deesdae iets soos “black privilege” is (sy stel dit onder meer gelyk aan grootskeepse geplunder sonder gevolge).

Good riddance, sê Maimane se kamp. Dis asof die DA-leier oplaas die balls kry om rebelle te isoleer wat teen die DA se spasmas van selfsensuur veg.

Danksy Ramaphosa kry die ANC 650 000 stemme ekstra op 8 Mei, want hoewel sy party gewantrou word, verstaan kiesers wat Ramaphosa belowe om te doen. Hy is die man vir die taak.

Danksy Maimane se oorhaastige kantkiesery in rassetwiste wat gewissel het van Ashwin Willemse tot Schweizer-Reneke, kry die DA 472 000 stemme minder op 8 Mei, want hoewel sy party se prestasie in regering gerespekteer word, verstaan veral wit kiesers ook wat Maimane wil doen, naamlik om klokslag op sosiale media sy eie onberispelike bona fides wat betref anti-swart rassisme ten toon te stel nog voordat hy al die feite het.

Ramaphosa, wat selde oor nasiebou praat, laat selfs sy kritici weer hoop dat ons die ergste kan vermy.

Maimane, wat “Een Suid-Afrika vir Almal” predik, kry sy koukus nie verenig nie, verloor wit en bruin kiesers, en verveel swart kiesers, wat ’n skouspelagtige gebrek aan belangstelling in die DA by die stembus toon. Selfs lojale DA-kiesers twyfel in Maimane.

Maimane, ’n intelligente man van integriteit met ’n mooi droom, is toondoof vir sy eie kiesers se ongemak met identiteitspolitiek wat witheid per se problematiseer. Dit is merkwaardig dat hy DA-LP’s en ’n oudpremier wat die party gebou het, aantree weens ongemak met hulle op Twitter, terwyl hy niemand aanspreeklik hou vir wat die harde verkiesingsdata wys nie, naamlik ’n massale vertrouensbreuk tussen die DA en sy getroue kiesers. Toe Maimane Dinsdag op die trappe van die parlement aankondig dat hy hom glad nie kan vereenselwig met die aaklige dade van die sosialemediaoortreders nie, het Luyolo Mphithi agter hom gestaan. Dieselfde Mphithi wat ’n onskuldige onderwyseres vir die wolwe gegooi het op Twitter sodat hy politieke punte kon aanteken. Die DA het elke wyk wat hy vroeër jare gemaklik in Schweizer gewen het, hierdie jaar verloor. Mphithi is Woensdag as LP beëdig.

“Skade” op Twitter maak vir Maimane klaarblyklik meer saak as skade op die telbord van die OVK.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Mmusi Mai­Mane  |  Wag 'N Bietjie  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.