Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Moet ’n taboe ook teen die wet wees?

Die nuwe taboes is oral.

’n TV-advertensie van Chicken Licken, waarin ’n swart man in 1650 uit Suid-Afrika vaar om Europa te “ontdek”, is deur die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde verbied omdat dit met kolonialisme spot sonder om ook duidelik te maak hoe skadelik kolonialisme was.

Kunstenaars wat taboes oortree, kry dwarsklappe van ’n sensuurhonger publiek: In 2008 is Zapiro gekasty weens sy spotprent van Jacob Zuma wat die regstelsel verkrag; in 2012 is Brett Murray se The Spear verniel om einste Zuma se “eer te beskerm”, terwyl Blade Nzimande, Jackson Mthembu en Gwede Mantashe ’n boikot eis van City Press, wat ’n afbeelding van die skildery gepubliseer het, en ANC-ondersteuners eksemplare van die koerant verbrand; Ayanda Mabulu is gekruisig toe hy in 2016 vir Zuma in ’n seksdaad met ’n Gupta-boetie uitgebeeld het; Anton Kannemeyer van Bitterkomix-faam kan sy politieke werk omtrent nie meer in Suid-Afrika vertoon nie omdat dit ook met stereotipes van swart mense spot.

Op die kampus van die Universiteit van Kaapstad word 23 kunswerke in 2016 verbrand omdat dit radikale studente-aktiviste aanstoot gee en word die Deense joernalis Flemming Rose die kampus belet deur die visekanselier, Max Price, wat bang was Rose se teenwoordigheid sal grief en verdeel – Rose het lank gelede spotprente van die profeet Mohammed in die koerant Jyllands Posten gepubliseer en daarmee ’n taboe in Islam verbreek. ’n Kampus moet vry wees van gevaarlike idees . . .

Die outoritêre NP-regering wou ook van Suid-Afrika ’n veilige ruimte maak.

Goeie, wit Christen-kiesers is teen sekstonele en kommunistiese propaganda beskerm – en geïnfantiliseer.

Regeringsensuur was in 1963 al op die wetboek. Soveel as 40 wetlike definisies het bepaal wat “ongewensde” materiaal was. In 1974 is klaers oor sensuur selfs die reg op appèl ontsê. Die Publikasieraad wou ’n sogenaamde Christelike lewensuitkyk bevorder en het selfs wetenskaplike navorsing, kuns en godsdienstige geskrifte gesensureer wat die heersende konsensus kon bedreig. Obseniteite, godslastering en enige en alle bedreiging vir “staatsveiligheid” was taboe.

Dit wys dat daar al hoe meer idees is wat vandag as te gevaarlik beskou word om uit te druk sonder ernstige gevolge.

In 1974 is ’n bundel met protespoësie deur Breyten Breytenbach asook André P. Brink se Kennis van die aand verbied en in 1977 Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein!, wat die dapper Akademie vir Wetenskap en Kuns in weerwil van owerheidswense tog in 1979 met die Hertzogprys bekroon het, ’n prys wat Rapport borg.

Die uitgewer Koos Human het die klimaat destyds beskryf as een van “megalomanie, banaliteit, verdrukking en leuens”. Politieke skryfwerk wat krities was oor apartheid, is met reëlmaat voor 1974 verbied, skryf David Welsh in The Rise and Fall of Apartheid. Enige geskrif deur iemand wat beperk was deur die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme van 1950 was úít.

In 1996 het ons groter vryhede verkry om te besluit wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Dit was juis omdat die grondwetskrywers besef het dat dit nie diegene mét mag is wie se spraakvryheid tipies bedreig word nie, maar diegene sonder mag. Ikeys se prof. David Benatar verwoord dit soos volg: “The test of freedom of expression and academic freedom is whether non-dominant views can be freely expressed.”

Die voorbeelde hierbo wys dat daar al hoe meer idees is wat vandag as te gevaarlik beskou word om uit te druk sonder ernstige gevolge. Ons soek weer beskerming teen dit wat seermaak en is uiters onwillig om “non-dominante” idees aan te hoor en te debatteer.

Tog skaaf elke samelewing voortdurend aan konvensies oor reg en verkeerd. Die Israelse geskiedkundige Yuval Noah Harari skryf in Sapiens dat die mensdom voortdurend reëls formuleer wat nie noodwendig in harde feite gegrond is nie: “Ever since the stone age, self-reinforcing myths have served to unite human collectives. Indeed, Homo sapiens conquered this planet thanks above all to the unique human ability to create and spread fictions.”

Dié fiksies, wat dien as samebindende idees, manifesteer ook in taboes.

Ek betreur dat ’n hof hierdie week ingemeng het by elkeen se reg om iets aanstootliks te doen, naamlik om die 1928-vlag te vertoon. Maar daar is legio redes waarom ons samelewing post-’94 tog die taboe teen die ou vlag omarm het, met soveel sukses dat die vlag selfs vóór regter Phineas Mojapelo se uitspraak omtrent nie gesien is nie.

Dit is goed en selfs belangrik om sensitief te wees vir hoe ons swart landgenote die ou vlag sien. Geen samelewing kan bestaan sonder gebare van welwillendheid nie, net soos geen verhouding knaende oor-en-weer beledigings kan oorleef nie. Die probleem is dat iemand wat sy reg gebruik het om die ou vlag te vertoon, vir die wêreld gewys het hoe agterlik hy is. Nou gaan hy minder sigbaar wees.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.