Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Moet VSA tapyt vir Kriel en kie uitrol?

AfriForum besoek tans die VSA en Europa om Westerse drukgroepe bewus te maak van plaasmoorde en die gevare van grondonteiening sonder vergoeding. Hul kampanje spruit enersyds uit die hoë vlakke van geweld in plaasaanvalle wat, onverantwoordelik so, soms as ’n “wit volksmoord” beskryf word.

Andersyds is Ernst Roets en Kallie Kriel se bewusmakingsreis gesneller deur die ANC se besluit by Nasrec in Desember om grondonteiening sonder vergoeding “na te jaag”, en die parlement se aanvaarding op 27 Februarie van ’n EFF-mosie wat die Grondwet se eiendomsklousule identifiseer as die “kern van die krisis”.

AfriForum se griewe is dus nie versinsels nie, maar behoort die Amerikaners die rooi tapyt vir Kriel en Roets uit te rol?

Plaasmoorde saai verwoesting in landelike gemeenskappe. Dit is voorts tragies en skokkend dat die regering in woord én daad nie genoeg doen om aan boere te demonstreer dat hul reg op lewe ’n prioriteit is nie. Die gaping wat AfriForum gebruik, is die skepping van ’n wanfunksionele staat en ’n ANC wat na Julius Malema vry en daarom te papbroekig of ongevoelig is om empatie jeens wit boere te toon.

Die feit dat boere spesifiek en landelike gemeenskappe in die algemeen buitengewone vlakke van geweldsmisdaad trotseer, maak egter nie van plaasmoorde ’n “volksmoord” nie.

Die gevaar is eerder dat die proses verbygesteek word deur die onwettige handelinge van politieke opportuniste soos die EFF.

Dit is ’n tipering van die probleem waarvan AfriForum hulle moet distansieer, want dit is feitelik ongegrond. Selfs die mees afskuwelike voorbeelde van moorde op plase kan slegs beskryf word as “volksmoord” deur diegene wat nooit die Jodeslagting of 1994 se uitwissing van die Tutsi’s in Rwanda bestudeer het nie. Wilde beskuldigings van ’n “wit volksmoord” ondermyn die sobere pogings van kommersiële landbou en ander om deur die regering gehoor, verstaan en bygestaan te word. Dit dien nie die boere se saak nie.

Die AfriForum-sending kom ook te midde van Australië se planne om wit Suid-Afrikaanse boere met visums te help. As dit ons regering se hoop was om AfriForum te uitoorlê, moes hulle wit boere verseker het dat hul kennis en lojaliteit as ’n bate beskou word – eerder as om die Aussies te kap.

Die ander rede vir Kriel-hulle se propagandatoer is grondonteiening sonder vergoeding, wat Roets op Twitter beskryf as “rassistiese diefstal” omdat dit die hoë vlakke van wit en lae vlakke van swart grondbesit pak.

Ook hier kan Roets gerus ’n wag voor sy mond (of dan Twitter-vinger) plaas.

Ja, die staat se syfers wat wys dat swart mense minder as 2% van landelike en 7% van stedelike grond besit, is heel waarskynlik bog. En die staat se “oudit” het onder meer geen bevinding gemaak oor die rasprofiel van die eienaars van 67% van die land se grondgebied nie.

Maar dan moet elke kampvegter vir ordelike grondhervorming en elke kritikus van die staat se oudit ook eerlik wees dat baie grond in die verlede deur wit mense (of ’n wit regering) by swart mense afgeneem is op maniere wat gewoon onwettig (of indien nie onwettig nie beslis immoreel) was. Wat nodig is, is ’n breuk met die geskiedenis. Nie ’n herhaling daarvan nie.

Wat die wysiging van die Grondwet betref: Die ad hoc-komitee wat ’n aanbeveling oor ’n grondwetwysiging moet maak, sê hulle oorweeg om aan te beveel dat die Grondwet glad nie verander hoef te word nie.

Maar boere bly tereg bekommerd solank as wat die onsekerheid draal.

Die ANC het dié onsekerheid eens verstaan. In Februarie 2017 het die adjunkminister van openbare werke,

Jeremy Cronin, gevra wat sal gebeur as die EFF eendag aan bewind sou kom: “Wat as ons ’n parasitiese ontluikende elite kry? Dink net hoe onteiening sonder beperkings of vergoeding uitgebuit sou word? En ons weet presies wat sal gebeur, omdat ons net na anderkant die Limpopo hoef te kyk . . .”

Toe swaai die ANC om.

Tog wys die hantering van die aandrang op ’n grondwetwysiging steeds nie dat ons noodwendig afstuur op ’n rampspoedige scenario van radikale wetswysigings en die vernietiging van eiendomsreg nie. In elk geval nie terwyl pres. Cyril Ramaphosa in beheer van die ANC bly nie. Die gevaar is eerder dat die proses verbygesteek word deur die onwettige handelinge van politieke opportuniste soos die EFF.

Daarmee kan gesensiteerde Westerse beleggers nie juis help nie, buiten om agter die skerms aan Ramaphosa duidelik te maak dat die internasionale gemeenskap, net soos elke Suid-Afrikaanse demokraat, van die regering verwag om landswette te respekteer én af te dwing.

As Ramaphosa en die ANC nie wil hê die koers van die gesprek oor grond moet bepaal word deur AfriForum nie, moet hulle begin om op ’n eerlike en dapper wyse te praat met elke Suid-Afrika wat iets het om te verloor in dié saak.

En bowenal met die land se kommersiële landbouers.

Meer oor:  Veldtog  |  Afriforum  |  Buitelandse Beleggings  |  Wag 'N Bietjie  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.