Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Mogoeng Mogoeng: Regter of politikus?

In Mei 2018 het hoofregter Mogoeng Mogoeng vyf joernaliste genooi na sy ampswoning in Sandhurst, Johannesburg, om oor die lot van die land te praat.

Vier van die vyf wat op Vrydag 22 Junie aangetree het vir die “verkennende en informele” dialoog was Afrikaans.

Dit was die derde in ’n reeks gesprekke wat op Mogoeng se versoek met Afrikaanssprekendes gereël is.

Die eerste groep het Mogoeng besoek onder leiding van dr. Theuns Eloff, die oudrektor van die Noordwes-Universiteit wat al die ekstra myl vir versoening in hierdie land gestap het. Die groep het wit, bruin en swart Afrikaanse taalaktiviste ingesluit.

Die tweede groep het leiers uit die landbou ingesluit en die derde afvaardiging was ons s’n.

In die gesprekke het Mogoeng ’n opregte bekommernis uitgespreek dat rasseverhoudinge aan’t uitrafel was en dat ook die grondkwessie konflik in die hand kan werk.

Onthou, dit was Junie 2018: Die ANC het pas aangekondig die Grondwet se eiendomsklousule moet gewysig word.

Mogoeng se uiteenlopende Afrikaanse gaste het met hom hul eie bekommernisse oor versoening, nasiebou en rasseverhoudings gedeel. Hulle het hom van die hegte bande tussen Afrikaanses van verskille rasse vertel en ’n les gegee in die geskiedenis van Afrikaans as ’n swart taal, het een van die teenwoordiges my dié week vertel.

Maar nou maak die hoofregter daarvan ’n gewoonte om buite die hof uitsprake te maak wat klink soos dié van ’n politikus.

Mogoeng het die indruk geskep van ’n man met ’n roeping om die groot vrae van nasieskap en ras te takel terwyl die burokrasie en ekonomie op die wagbeurt van die ANC vergaan.

Ek onthou dat ek bemoedig was dat Mogoeng soveel oor versoening en die voorwaardes vir vrede nadink en dat hy boonop belangstel in wat dié klompie Afrikaanses, nogal, van landsake dink. Maar ek was ook bekommerd dat hy kon dink dit was wys om mense na sy huis te nooi terwyl party van hulle organisasies verteenwoordig wat al voor hom in die konstitusionele hof gestaan het – of nog mag staan.

Kontak tussen regters en litigante buite die hof is gevaarlik omdat dit die reputasie van regters as objektiewe arbiters in die oë van die publiek – en van litigante – kan ondermyn.

Die risiko’s hiervan het pas weer geblyk toe dit rugbaar word dat die Maties-rektor, prof. Wim de Villiers, tydens ’n konstitusionele hofsaak oor Afrikaans kontak gemaak het met Edwin Cameron, toe nog ’n regter van die konstitusionele hof.

De Villiers wou Cameron werf as die volgende kanselier terwyl Cameron ’n saak oorweeg het waarin Stellenbosch Universiteit ’n party was.

Nietemin: Uit eerbied vir die redes wat Mogoeng in Junie 2018 gegee het vir die uitnodiging aan ons – ’n eerlike gesprek oor ’n land met groot probleme – het ek agterna nie ’n woord oor ons vergadering gerep nie. Ek glo dat Mogoeng gedoen het wat hy gedink het is reg, al het sy ingryping gevoel soos iets wat ’n president eerder as ’n hoofregter sou doen. Ek wou ons gasheer, die regter, nie kompromitteer nie.

Maar nou maak die hoofregter – die verpersoonliking van die oppergesag van die reg – daarvan ’n gewoonte om buite die hof uitsprake te maak wat klink soos dié van ’n politikus. Hy sien glad nie wat fout is daarmee nie.

Op 23 Junie 2018, ’n dag nadat ons by hom was, het Mogoeng in ’n toespraak aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum die welbekende onregte van kolonialisme toegelig deur aan te haal uit ’n toespraak van die Brit lord Macaulay uit 1835 – ’n toespraak wat nooit gelewer is nie.

’n Google-soektog sou gewys het dat dit fopnuus was. Ondanks nuusberigte op News24, PoliticsWeb en in Rapport oor Mogoeng se versuim om sy feite na te gaan sodat hy ’n politieke punt kon maak, is sy gewraakte toespraak, vrot van die feitefoute, steeds op die webblad van die hof te kry. Dis nooit gekorrigeer of gerepudieer nie.

Ook in hofuitsprake is Mogoeng se aktivisme duidelik. Soms belg dit sy eie kollegas.

In AfriForum se Pretoria-straatnaamsaak in 2016 het Mogoeng opdrag gegee dat “alle vredeliewende en versoenende Suid-Afrikaners . . . die Afrika-filosofie van ubuntu moet omarm”.

Regters Froneman en Cameron was so onthuts dat hulle gevra het of Mogoeng bedoel dat iemand wat versuim om ubuntu te omarm die beskerming van die Grondwet verloor. Mogoeng het dit so laat klink, het die twee regters geskryf.

Maar Mogoeng die biddende prediker-politikus stoom voort.

Voorverlede Dinsdag het Mogoeng luidens ’n berig in City Press by die sakeskool Gibs gesê: “Dit maak nie saak of julle kies om my ’n politikus te noem nie; ons leef in ’n land waar daar vryheid van uitdrukking is.”

Vrydag het Mogoeng weer geskop teen die idee dat hy hom moet inhou net omdat hy ’n regter is, en volgens Eyewitness News gesê: “Daar is regtig baie min wat ’n regter doen . . . wat nie polities van aard is nie.”

Verlede Saterdag het hy in ’n toespraak vol verdagmakery en aktivisme in Soweto by die publiek gepleit om die regbank “fyn dop te hou”, want “ek is in die versoeking om te sê ek weet nie van enige ander regbank ter wêreld wat soveel mag het soos ons nie”.

Die publiek moet hierdie uitnodiging van Mogoeng aanvaar.

Regters beklee ’n spesiale plek in die regstaat en maak daarom aanspraak op ons respek. Politici daarenteen is op geen sulke eerbied geregtig nie.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.