Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: ’n Kis wyn en geloof in ’n leier wat red...

Pres. Cyril Ramaphosa se vloot BMW’s was al amper in sig op die R304 buite die Beyerskloof-wynlandgoed naby Stellenbosch toe ’n boer my vertel hy wag al sewe jaar vir toestemming van die nasionale regering om op sy eie plaas aan die Olifantsrivier ’n dam te bou met R20 miljoen van sy eie geld. Intussen gaan oeste verlore weens waternood.

Dis alles die ANC se skuld, gee die boer toe. Maar op 8 Mei stem hy ANC. Om een of ander rede laat gril die idee van Mmusi Maimane in Tuynhuys hom meer as ’n ANC met 60% in die parlement. In hierdie verkiesing, glo hy, is ’n stem vir die ANC nie ’n stem vir Magashule of brandende boeke nie maar vir die één man wat die visie en mag het om te red wat oor is om nog te red. Die man wat ná nege jaar van meedoen oplaas in Februarie 2018 vir Jacob Zuma gekry het om te bedank, die man wat adv. Shamila Batohi ingekatrol het om die nasionale vervolgingsgesag reg te ruk, die man op wie se wagbeurt die Zondo-kommissie ANC-staatskaping so forensies karteer, die man wat ’n goeie nuwe baas gekies het vir die flenters SA Inkomstediens.

Toe Ramaphosa om 14:15 kom sit, het die eienaar van die plaas, Beyers Truter, na hom gedraai: “Ek glo God het jou aangestel. Ek glo God het jou gesalf, soos wat Daniël ook gesalf is.”

(Ramaphosa hou boonop van pino­tage en sal sy waardeerder-generaal tog sekerlik van uitsoek-plase weghou.)

‘Ek wil vir jou sê ons as boere steun jou en staan agter jou, want sonder jou as president op hierdie oomblik is ons verlore.’

Ná Truter het ander meelewende boere vir die president vertel hoe burokrasie dit vir hulle onmoontlik maak om stukke landbougrond aan hul plaaswerkers oor te dra, hom aan die miljarde herinner wat die taksman uit wynverkope verdien en die 300 000 mense wat net in die Wes-Kaap in die wynbedryf werk, en gevra of jong wit mense in die land moet bly.

Chris Steenkamp, buurman van Vriesenhof se Jan Boland Coetzee, het vir Ramaphosa gesê: “Almal wat vandag hier is, hou van jou. Ons vertrou jou, ons respekteer jou. Ons ken jou sedert die dae van Kodesa. Ek wil vir jou sê ons as boere steun jou en staan agter jou, want sonder jou as president op hierdie oomblik is ons verlore. Jou sukses sal ook ons sukses moontlik maak. Jy kan op ons reken.”

En: “As ’n kommersiële boer van enige ras in hierdie land, wat kan jy vir ons sê om ons toekoms te verseker? Wat moet ons doen om ons toekoms te verseker, ook vir ons kinders en ons kleinkinders? Boerdery is maar ’n familiebesigheid. So, ons wil weet hoe gaan ons van hier af vorentoe? Ons vertrou jou, en ons weet ons wil ook nie ons tyd vergeefs bestee nie.”

In sy kruiperige huldeblyk aan Ramaphosa het Ebrahim Rasool, die oudpremier, gesê ’n stem teen die ANC op 8 Mei is ’n stem vir rampspoed. Hierdie is ’n “Dakar II-oomblik”.

“Ons mag met Beyers saamstem dat presidente, en veral ons president, gesalf is deur God, maar wanneer ons ’n goddelike mandaat het, word dit dikwels bemiddel deur ’n menslike mandaat. Hoe sterk ons sy hand? Daar is baie mense wat dit aan God wil oorlaat om die president te lei, maar ons is nie bereid om self die mandaat te gee nie . . . Ons kan nie ons verantwoordelikheid ontduik om hom ’n sterk mandaat te gee om die magte te beveg, hetsy binne die party, hetsy in die land, of in die wêreld nie. Almal moet vir hom bid. Dit is nie genoeg om te wen nie. Jy moet goed genoeg wen om te kan doen wat gedoen moet word. ’n Swak president gaan nie vir ons help nie. ’n Sterk president gaan vir ons help”.

Applous. Ramaphosa vra die boere om hul wyn uit te voer, maar hul geld en kinders asseblief in die land te los.

Boere moet hulself nie as “eilande” sien nie; ons geskiedenis is “baie hartseer”; grondhervorming is “nooit te vrees nie”; plaaswerkers moet “soos mense” behandel word en nie van plase gesit word nie; die ANC is nierassig; korruptes hoort in tronke; als sal oukei wees; en: die “reservoir van geld waarop Suid-Afrikaanse firmas sit moet ontsluit word”. Die ander geld is immers reeds gesteel.

Ure ná Ramaphosa se pinotage-preek skeur ANC-barbare blaaie uit boeke oor Ace Magashule in Sandton, terwyl ander planne smee om die boeke (en die outeur) op ’n brandstapel te gooi. En dan wonder ek presies wat in die gemoed aangaan van diegene wat glo dat die party wat ons in die waaksaal in gedonner het, ’n leier kan oplewer wat ons kan red.

As jy op 8 Mei ANC stem omdat jy die ANC vrees en verafsku, maar vir Cyril vertrou, en dit boonop doen in die hoop dat hy jou sal pantser teen die noodwendige gevolge van ANC-beleid en teen die ANC se oortuiging dat die meerderheid nou regeer en basta met die res, dan sal jy enigiets glo.

Met ’n uitsig soos dié oor Simonsberg het dit egter Dinsdag gevoel of geloof ’n bietjie makliker kom. En toe Truter ’n kis wyn as dankoffer aan Cyril oorhandig, sê die etiket: Faith.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.