Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: ’n Tweede golf van waansin breek

En daar breek ’n tweede golf van gekheid toe wragtag kort voor Kersfees.

In sy meedoënlose monotoon verklaar pa Cyril Maandagaand tydens sy “familievergadering” dat die nasionale regering steeds 100% verbind is tot die uitvaardiging van arbitrêre, irrasionele en selfs ongrondwetlike regulasies sodat ons onthou wie in beheer is terwyl ons tot 3 Januarie in 33 grade Celsius binnenshuis kou aan kalkoen en deur ruite na dolleë strande staar.

Ja, strande – waar ’n haai jou sal eet lank voor jy Covid-19 kry.

Korreksie: Sommige strande. Strande in KwaZulu-Natal sluit net op sekere dae; strande in Kaapstad net tussen 18:00 en 09:00 (wanneer die ’Rona slaap); en alle strande in die Tuinroete en Oos-Kaap sommer op elk van die 19 belangrikste dae van die hele bleddie jaar.

Presies drie maande nadat Ramaphosa in sy vlak 1-ontboeseming gesê het “ons is gereed om ons deure weer oop te maak vir die wêreld, en nooi reisigers om ons berge, ons strande, ons polsende stede en ons nasionale parke te geniet in veiligheid en met selfvertroue”, besluit sy bevelsraad te midde van ’n skerp toename in infeksies van Sars-CoV-2 dat party wye oop strande skielik dodelik gevaarlik is en daarom gesluit word, terwyl selfs die besigste mall of kerk of kroeg se deure oop mag bly.

Om seker te maak stoute toeriste uit Duitsland of die VSA en uit Parow of Polokwane kry die boodskap, stuur Cyril toe Woensdag daai nar in ’n hoed om klein kindertjies met sy groot geweer bang te maak by Macassar en filmspanne uiteen te jaag by Kampsbaai, iets wat hy vermag het met die boerse geblaf van iemand wat ’n baie diep twyfel oor sy eie manlikheid koester.

Soos ons ook gevra het oor die verbod op braaihoender of e-handel of ooptoonskoene vra ons nou: Waarom is die strande toe?

Bheki Cele verbeel hom mos hy is nog kommissaris van polisie en dat hy – ’n politieke ampsdraer – 30 polisielede wat veronderstel is om moordenaars te vang en verkragters te verskrik, mag opdrag gee om ’n filmspan wat sowat R1,2 miljoen per dag in die Kaap bestee, se wettige werksaamhede summier op te skort. Want Cele doen net wat hy wil.

JP Smith, die komkommerkoel Kaapse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Cele se optrede met reg “outokraties” genoem. Dan Plato, burgemeester, raam die verliese reeds op R24 miljoen, want nog 11 rolprentspanne het laat weet hulle skiet nie verder in Cele se verbeelde piesangrepubliek nie, want netnou stuur hy weer sy milisie in.

Intussen word foto’s van swaarkaliberwapens op Clifton se strand die wêreld ingestuur.

Welcome to South Africa.

Aan die Tuinroete en in die Oos-Kaap verloor sommige dorpe tot 80% van hul verblyfbesprekings oor die strand-dekreet, asook honderde miljoene rande wat besoekers ook aan kos en vermaak oor dié Desemberdae sou bestee.

Gastehuise se deure sluit in Nelson Mandelabaai, sê die gastehuisvereniging, terwyl Sibongile Dimbaza van die sakekamer sê dat Rama­phosa se besluit die “naelstring” van ontelbare ondernemings knip.

In Kouga (wat Jeffreysbaai en St. Francisbaai insluit) waarsku Horatio Hendricks, burgemeester, nie net oor “verwoestende” werkverliese nie, maar ook oor die ooglopende gevaar dat mense wat maar mense is nou binnenshuis sal saampak, want die wye oop strande is toe.

Soos ons ook gevra het oor die verbod op braaihoender of e-handel of ooptoonskoene vra ons nou: Waarom is die strande toe?

Enigiemand wat redes soek waarom die besluit gek is, kan luister na dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, wat aan Rapport sê strande tel onder die veiligste plekke waar mense byeen kan kom, solank jy ’n afstand van 1,5 m handhaaf tussen jou en vreemdes. Of na prof. Shabir Madhi van Wits: “Dit maak geen sin om strande te sluit, maar plekke van aanbidding oop te hou nie. Om op die strand te stap sonder ’n masker is nie die grootste probleem nie. Mense wat vergader in plekke met swak ventilasie is die probleem.”

Lees ook Daniël Eloff se puik hofstukke in die aansoek deur die Groot-Brakrivier-sakeforum, Louis Cook en AfriForum, en die DA se hofaansoek in die Kaap. Albei stelle applikante – applous! – haal ook aan uit ’n studie wat op 29 November in The Journal of Infectious Diseases verskyn het, wat ná ’n oorsig van die beskikbare wetenskap tot dié slotsom gekom het: “In vyf studies is bevind dat ’n lae verhouding van aangemelde wêreldwye Sars-CoV-2-infeksies in die buitelug voorgekom het (<10%) en dat die waarskynlikheid van oordrag binnenshuis hoog is teenoor buite (18,7 keer).”

Voeg hierby dat sekere strande oop is maar ander toe; dat beperkte ure tot ’n groter samedromming van mense lei; dat die ekonomiese verliese nie ingehaal kan word nie; en dat Dlamini-Zuma weer versuim het om met belanghebbendes oorleg te pleeg, en ’n mens sien dat nie net ’n tweede Covid-19-golf breek nie, maar ’n tweede golf van suiwer waansin.

* 'n Vorige weergawe van hierdie rubriek het verkeerdelik verwys na Daniël du Plessis eerder as Daniël Eloff.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Strande  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.