Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Nee, Covid is beslis nie net ’n ‘scam’ nie

Gister was die 100ste dag van die inperking. Dit was ook 100 dae sedert die eerste sterfte weens Covid-19 op 27 Maart in Suid-Afrika aangeteken is.

Maar terwyl ons geduld met die inperking taan en miljoene mense nie werk óf eet nie, kry die virus uit China vaart: sterftes trek digby 3 000 (’n verdriedubbeling binne vier weke) en positiewe toetse spring al hoe nader aan die 200 000-kerf teen ’n koers van meer as 8 000 per dag. In Gauteng raak selfs privaat hospitale vol, suurstof raak op, en toetsresultate sloer tot 21 dae, sodat jy dalk reeds gesond is as jy siek was, of siek al was jy eers gesond.

Die Oos-Kaap lyk soos iets uit die Kongo: Die regering het Rapport se berig bevestig dat pasiënte met mekaar baklei om toegang tot suurstof te kry, lykshuise is vol, dokters en verpleegsters word by die duisende platgetrek en die departement van gesondheid is ná 26 jaar van wanbestuur bankrot.

Covid-19 was net die laaste strooi.

In die Wes-Kaap word 10 000 sterftes oor die loop van die pandemie nou voorspel en ware verligting eers in November verwag, het die premier, Alan Winde, Donderdag gesê. Maar omdat die infeksiekurwe daar “platter” is as verwag – met ander woorde minder mense gaan gelyk siek wees as wat aanvanklik gevrees is – lyk dit of die hospitale die toeloop van Covid-19-gevalle behoort te kan hanteer.

In Suid-Afrika is 202 000 mense sover vanjaar weens allerlei natuurlik oorsake dood, sê die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Skaars 3 000 hiervan is tot dusver weens Covid-19.

Die siekte dring meer en meer mense se binnekring binne: Ek moes my laat toets nadat ’n kollega (jonk en gesond) Covid-19 opgedoen het; twee Covid-19-sterftes is in die gang by my ouma se tehuis aangemeld; en ’n tannie van 89 sonder asem of antwoorde het alleen gesterf in ’n koue hospitaal. Toe haar dogter die verpleegster vra wat haar ma se laaste woord was, het sy gesê: “I am sorry, I do not understand Afrikaans.”

As jy iemand weens Covid-19 verloor, klink die vraag of Covid-19 dodelik is waarskynlik verspot en onsensitief.

En tog verskil ordentlike mense se ramings van hoe gevaarlik dit is, net soos ons gewilligheid om ons aan die risiko van infeksie bloot te stel.

Op die een uiterste is mense wat Covid-19 verkeerdelik gelykstel aan siektes wat veel dodeliker is en vra dat die regering Covid--19-brandpunte summier terugplaas op vlak 5.

Op die ander uiterste is diegene soos Reyno de Beer van die Liberty Fighters Network wat beweer dat Covid-19 ’n bedrogspul is. De Beer, wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in die hof gepak het oor die grondwetlikheid van die inperkingsregulasies, het die afgelope week op eNCA gesê: “Daar is iets fout met Covid-19, dis ’n scam. Word wakker, mense!” Toe die aanbieder hom vra of hy iemand ken wat aan Covid-19 dood is, en of hy weet die hospitale is vol, het De Beer geantwoord: “Gee ons die name van die mense wat dood is” en Sally Burdett daarvan beskuldig dat sy bloot propaganda versprei.

Sy aantygings het geen feitelike gronde nie en ondermyn legitieme pogings van mediese personeel en beleidmakers om die getal gelyktydige infeksies in bedwang te probeer hou deur fisieke afstand, die dra van maskers en hande was te bevorder.

Ek glo darem die meeste van ons weet dat die siekte lewens eis, maar loop berekende risiko’s afhangend van ons ouderdom en risikoprofiel.

Vir konteks: In Suid-Afrika is 202 000 mense sover vanjaar weens allerlei natuurlik oorsake dood, sê die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Skaars 3 000 hiervan is tot dusver weens Covid-19.

Maar volgens die MNR se jongste verslag is altesame sowat 4 000 “bykomende” sterftes in die sewe weke tussen 6 Mei en 23 Junie aangeteken – bo die normale wintersterftekoers, waarby die eerste griepsterftes van die seisoen ingereken is.

In die Wes-Kaap was die getal sterftes weens alle oorsake tussen 6 Mei en 23 Junie amper 30% meer as gewoonlik. Ook in Gauteng en die Oos-Kaap styg die weeklikse sterftesyfer vir Junie 2020 ver bo die normale vlak uit, en Covid-19 kry minstens gedeeltelik die skuld.

Maar Covid-19 is nie naastenby so gevaarlik vir jong mense en skoolgaande kinders soos vir ouer mense en dié met bestaande kwale nie.

Landwyd was 2 792 van die “addisionele” sterftes (oftewel 69%) in Mei en Junie onder mense ouer as 60 jaar. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se jongste syfers het Woensdag ook getoon dat 55% van Covid-19-sterftes in dié ouderdomsgroep is.

Maar net 9% van die bevolking is ouer as 60.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê boonop 77% van Covid-19-pasiënte wat in die hospitaal beland, het ’n ander siekte ook, veral hipertensie (59%) en diabetes (48%).

So, as jy wil weet of Covid-19 vir jóú dodelik is, is sowel jou ouderdom as jou gesondheid beduidende faktore.

Wêreldwye syfers gee ook konteks: Terwyl 49 000 mense elke dag aan hartsiektes sterf (nr. 1), 26 000 aan kanker (nr. 2) en 10 700 weens respiratoriese probleme (nr. 3), eis Covid-19 nou sowat 5 000 lewens per dag, wat dit ’n stewige plek onder die toptien doodsoorsake gee, met een genadige verskil: Covid-19, anders as demensie (6 900 sterftes per dag) of diabetes (3 750) sal hom weldra uitwoed, en dan is dit vir eers verby.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Covid-19  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.