Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: NGV: Dis ’n mooi ideaal — en dodelik

Die opposisie is alweer histeries oor ’n plan waarmee die ANC sê hy menselewens wil red. En omdat dit juis die opposisie is wat histeries is, sal die ANC weier om na ernstige besware teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te luister. En omdat die ANC sal weier om na besware te luister, sal jy en jou gesin, en ook die gesinne van armlastiges wat, met respek, desperater is as jy, met geld en bloed boet vir die stompsinnige koorsdrome van ideoloë wat graag verkiesings wen. Dis siek.

Die NGV — oftewel die builepes van beleid — is in die kollig nadat Jackson Mthembu, minister in die presidensie, aangekondig het die kabinet het die Wetsontwerp op die NGV van 2018 goedgekeur. Nou kan dit in die parlement ter tafel gelê word sodat opposisie-LP’s tot die groot verveling van ANC-kaders daaroor kan neul. Dan sal ANC-LP’s dit deurdruk, heildronke op mekaar se gesondheid drink, en seker maak hul eie private mediesefonds-premies is op datum.

Mthembu verduidelik die NGV sal “die huidige gesondheidstelsel takel wat slegs 16% van Suid-Afrikaners ­dien terwyl die oorweldigende meerderheid uitgesluit word.” Hy laat na om by te voeg die ander 84% van die bevolking word wel ingesluit deur die openbare gesondheidstelsel, wat so vrot is dat ministers hul eie ylende siekes liewer Mediclinic toe stuur.

Die wet voorsien ook die vestiging van ’n NGV-fonds, ’n tipe fiskale Groot Swart Gat, twee keer so duur as Eskom, sê sommige kenners, wat die enigste aankoper van mediese dienste in die land sal word en aan die minister van gesondheid moet rapporteer.

Toe die departement van gesondheid se begroting voorverlede week aanvaar is, het die minister, dr. Zweli Mkhize, dit so gestel: “Die NGV is ’n manier om goeie gesondheidsorg te bied aan almal deur die beskikbare geld” . . .(waarmee hy bedoel jou geld) . . . “tussen al ons mense te deel. Jou gesondheidsvoordele sal bepaal word deur hoe siek jy is, nie hoe ryk jy is nie.”

Mkhize s’n is ’n mooi ideaal — en ’n dodelike een.

Mooi omdat hy reg is dat armes wat nie mediesefondspremies kan bekostig nie, vieslik versaak word deur die staat se verrinneweerde hospitale, oorwerkte dokters en leë apteke. Dís nie vernaam weens ’n geldtekort nie.

En dodelik omdat hy dit wat nie werk nie, nou wil uitbrei na die opgepiepte middelklas wat hul nerwe af werk om mediese fondse te kan bekostig sodat hul siekes nie van staatsdienste alleen afhanklik is nie, terwyl hy private dienste, wat te duur is maar wat werk, hospies toe wil stuur.

As jy dan nog geld oor het om ook ’n mediesefondspremie te betaal, gaan dié heelwat duurder wees as nou...

Details is vaag, maar ons weet die staat wil bydraes tot die NGV-fonds verpligtend maak — wat beteken dis ’n nuwe belasting — en dit boonop koppel aan jou inkomste. Hoe meer jy verdien, hoe groter jou bydrae. As jy dan nog geld oor het om ook ’n mediesefondspremie te betaal, gaan dié heelwat duurder wees as nou, want min mediese fondse sal die NGV oorleef en minder kompetisie dryf pryse op.

Prof. Alex van den Heever, ’n voorste kenner van gesondheidstelsels by Wits, het verlede jaar in Rapport geskryf die NGV-model en daardie reuse-fonds is “uiteraard vatbaar om gekaap te word”, aangesien die enkele staatsamptenare die “hekwagters vir reusestaatskontrakte” sal wees. Hy sukkel om te sien hoe die NGV, sy fondse en burokrasie “die enigstes sal wees wat in ’n see van korrupsie en skandale ongekaap sal bly en goed sal presteer”.

Eerder as om meer siekes gesond te maak, kan die NGV tot ’n “vermindering in gesondheidsdekking” lei. Hy is bitter bekommerd oor die “gehalte van denke” agter die NGV en die verdere sentralisering van staatsdienste.

Daar is geen teken dat Mkhize óf pres. Cyril Ramaphosa hulle nog ooit aan dié klas kritiek gesteur het nie.

Woensdagaand op KN Verslag in gesprek waarsku dr. Johan Serfontein dat ons klein belastingbasis onmoontlik iets soos die NGV kan finansier en dat wagtye selfs vir basiese prosedures in Eerstewêreldlande met soortgelyke stelsels maande beloop. As Mkhize nou doen wat hy dreig om te doen, naamlik om voort te gaan sonder om te weet wat dit kan kos omdat “menselewens nie in geld gemeet kan word nie”, kan dit volgens Serfontein “die gesondheidstelsel vernietig”. Duisende dokters sal boonop emigreer.

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, sê die staat weier steeds om die bevindinge bekend te maak van sy eie lewensvatbaarheidstudies oor die NGV. “Nog kommerwekkender is die vestiging van nog ’n staatsbeheerde onderneming . . . Die ANC-regering is vasbeslote om gesondheidsorg te nasionaliseer, wat die laaste spyker in die doodskis van ons verswakte gesondheidstelsel sal wees.”

Mkhize sê dis alles die moeite werd, want dit sal tot “maatskaplike solidariteit” lei. Ja, minister: omdat almal ewe veel sal suffer. Ten minste sal jy en jou kabinetskollegas die laataandvlug Londen toe kan haal as jy ’n pyn kry op jou maag terwyl ons in die rye staan.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.