Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Nie beste óf slegste uitkoms is ’n ramp

Oor ’n week kies meer as 5 240 ANC-afgevaardigdes na verwagting ’n nuwe president vir die party.

Foendies vertel ons dat dit D-dag is – ons moet ons regmaak vir een van twee lotsbepalende uitkomste. Dis binêr: Cyril of ’n ramp.

Volgens hierdie eenvoudige skema is dr. Nkosazana Dlamini-Zuma ’n ellendige heethoof met ’n gemengde rekord in kabinetsposte (onthou Sarafina en “stille diplomasie” jeens Zimbabwe; tog het sy die departement van binnelandse sake in ’n mate reggeruk).

Aan haar nek hang ’n wellustige, maglustige en uitgeslape albatros genaamd Jacob, tot wie se credo van “radikale ekonomiese bemagtiging” sy eksvrou ’n bekeerling is.

As sy wen, wen wanorde: Afgraderings sal reën, die rand sal ’n Steinhoff doen (’n ander woord vir “oor die afgrond val”) en Zuma sal met ’n netjiese bankbalans by Nkandla kan aftree sonder om ooit in ’n hof te moet staan.

Dlamini-Zuma sal omring wees in die ANC se topleierskap met ander “slegte”, “gekaapte” ANC’s soos David Mabuza, Nathi Mthethwa, Ace Magashule en Maite Nkoana-Mashabane.

Tussen ons en bogenoemde rampscenario staan adj.pres. Cyril Rama­phosa (CR17), wat teen Vrydag met 1 859 benoemings voorgeloop het teenoor Dlamini-Zuma (NDZ) se 1 330.

Moet dus nie dadelik weghardloop as sy wen nie. Dit kan die ANC se noodsaaklike ondergang verhaas.

Hy het onverwags goed gevaar in die provinsies waar hy verloor het, en selfs in Mpumalanga 25% van die benoemings op hom verenig. CR17 verteenwoordig die hoop op ’n verlossing uit die aaklige Zuma-nagmerrie. ’n Terugkeer na die waardes van die “ou” ANC.

Hy is nie korrup nie, want hy is reeds danksy SEB-transaksies ryk. Hy omring hom met deugsame here soos Pravin Gordhan. In die oë van daardie Suid-Afrikaners wat glo dat die ANC nog lank gaan regeer, verteenwoordig CR17 ’n uitkoms, ’n selfkorreksie.

Sodra hy verkies word, sal hy die nuutverkose nasionale uitvoerende komitee opkommandeer om Zuma as president te herroep.

Guptas? Dubai toe. Kaderontplooiing? Wat’s dit? Mynboubeleggings skiet op. Elke boer koop ’n John Deere.

NDZ = rampspoed. CR17 = redding, asof ons ganse toekoms afhang van wat oor ’n week of wat by Nasrec gebeur.

Dit is net gedeeltelik waar.

Ja, NDZ verteenwoordig kontinuïteit. Maar selfs sy sal gekonfronteer word met wat die ANC se navorsers al 16 maande aantoon, naamlik dat die party sonder ’n wending van een of ander aard in 2019 die verkiesing kan verloor.

Dit is nie onmoontlik dat ook NDZ weldra vir Zuma sal herroep nie, ofskoon op die elegantste denkbare wyse – hulle het immers vier kinders saam.

Boonop is daar in vanjaar se verkiesing nie “kieslyste” wat afgevaardigdes dwing om tussen twee stelle name te kies nie – NDZ s’n of CR17 s’n.

Afgevaardigdes wat rampspoed

vrees maar die glibberige Ramaphosa nie vertrou nie, kan in ander topposisies “skoner” leiers aanwys soos Paul Mashatile, of selfs Gwede Mantashe, ’n uitgesproke kritikus van Zuma.

Selfs NDZ se ondersteuners, dus, sal in die eeu-oue ANC-tradisie die voordele van ’n kompromis begryp.

Nog ’n rede waarom ’n NDZ-sege nie noodwendig die einde van die (ietwat bedenklike) beskawing in Suid-Afrika inlui nie, is dat sy die kanse van ’n ANC-nederlaag in 2019 opstoot.

Stedelike kiesers sal in al hoe groter getalle wegbly of swaai na die EFF of DA. Kleiner dorpe of stede, Gauteng en dalk selfs die hele Republiek kan onder koalisiebeheer staan.

Afvallige ANC-leiers wat al lank met die fantasie van ’n wegbreekparty flankeer, kan NDZ se aanwysing as ANC-president as die finale strooi beskou.

Moet dus nie dadelik weghardloop as sy wen nie. Dit kan die ANC se noodsaaklike ondergang verhaas.

En Cyril? Vergeet van ’n verlossing.

Onthou dat hy sy ANC-adjunk nie kies nie. Sover loop Mabuza in dié stryd ver voor. Mabuza is wat ’n mens sou kon noem ’n tsotsi. Sy teenwoordigheid in die topses sal ’n bespotting maak van CR17 se pogings om die ANC van kroeks te suiwer.

CR17 sal ’n terminaal siek ANC erf. Selfs die herroeping van Zuma is nie ’n uitgemaakte saak nie. Onthou ook dat Ramaphosa nie net die “goeie” ouens in die ANC sal moet tevrede hou met teenkorrupsieveldtogte nie maar ook die trogvreters met toegewings oor beleid sal móét paai. Dis hoe mag werk.

Botsende belangegroepe sal sy fraai aspirasies frustreer. Die ANC is ’n breë kerk en Cyril is ANC in sy beendere.

In die agtergrond sal die ratte van Zuma se “skadustaat” aanhou draai.

Die ANC sal dalk beter vaar in 2019 onder Cyril as onder NDZ en dit moeiliker maak vir die DA om hom van die post-Zuma-ANC te onderskei, maar hy kan nie die party red nie, net soos jy nie water uit ’n kombuiskraan in Villiersdorp kan tap om die Theewaterskloofdam mee vol te tap nie.

So belangrik as wat die konferensie is, is die slegste uitslag dus nie noodwendig ’n algehele ramp nie, net soos die beste uitslag ons nie sal red nie.

Soos die mense van Metsimaholo het ons reeds begin om vir die era ná die ANC in 2019 voor te berei, en dan maak dit eintlik nie saak wie staan op die sinkende skip se brug nie.

Meer oor:  Leierskapstryd  |  Anc  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.