Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Nou weet Iran waar daai rooi lyn lê

Donald Trump is ’n monster. Erger as die ajatolla self! Só klink een van die eerste lui aannames van die nuwe jaar, en dis maar nog net die 12de vandag. Omgord dus jou lendene: Die intellektueel luies, die politieke lafaards en die kamma-heiliges gaan 2020 tegemoet met ’n arsenaal lui aannames waarmee hulle ons vir die volgende 354 oorblywende dae van die jaar wil bombardeer.

Hul woordmissiele gaan op ons reën soos die Hellfire-missiele wat op 3 Januarie uit Amerika se MQ-9 Reaper-hommeltuig gereën het op die koppe van Kassem Soleimani, die gewetenlose terroris, en sy meelopers.

Maar anders as Soleimani, kan ons dié missielaanvalle oorleef as ons net bietjie nadink oor al die onsin wat hierdie mense eintlik praat.

Lui aanname nommer een van 2020 is dat die Republikeinse Trump, met sy militante taal en gewoonte om te lieg, ’n vyand van alle vredeliewende mense is omdat die aanval op Soleimani die kanse op ’n “Derde Wêreldoorlog” verhoog het.

Toe Trump Iran boonop waarsku dat vergeldingsaanvalle ná Soleimani se dood ’n geweldige Amerikaanse reaksie sal ontlok, waaronder aanvalle op Iranse kulturele skatte, het Alexandria Ocasio-Cortez, die Demokratiese kongreslid, gesê: “Dit is ’n oorlogsmisdaad. Om te dreig om onskuldige families, vroue en kinders, aan te val of dood te maak – wat is wat jy doen as jy kulturele teikens sou tref – maak jou nie ’n tawwe ou nie. . . Dit maak jou ’n monster.” Ook die Suid-Afrikaanse spotprenttekenaar Dr Jack & Curtis het Trump met ’n sekel vol bloed geteken en gesinspeel dat dit maar net sy manier is om seker te maak dat hy oor tien maande herverkies word (dís bykans seker – die Amerikaanse ekonomie is te sterk en die Demokrate te swak vir ’n Withuis-revolusie, al Trump se foute ten spyt).

Onsekerheid oor hoe ver jy jou vyand kan tart, is altyd sleg vir vrede, aangesien jy per abuis ’n oorlog sneller as jy oor ’n lyn trap wat jy nie sien of herken nie.

Waarom is die aanname oor Trump lui? Sy optrede teen Soleimani, het selfs Fox News se Tucker Carlson gewaarsku, kan die onbedoelde maar voorsienbare gevolg hê om Amerika in ’n konflik te wikkel waaruit hy nie kan ontsnap nie, en wat Amerikaners “nóg ryker nóg veiliger” sou maak.

Ian Bremmer van die Eurasia Group het dit Woensdag die beste gestel op CNN, toe dit blyk die konflik met Iran koel reeds af.

Vir te veel jare het Iran nie geweet waar Amerika se “rooi lyn” was nie – waaroor jy slegs trap as jy ’n konfrontasie sóék. Onsekerheid oor hoe ver jy jou vyand kan tart, is altyd sleg vir vrede, aangesien jy per abuis ’n oorlog sneller as jy oor ’n lyn trap wat jy nie sien of herken nie.

Die afgelope jaar, sê Bremmer – geen aanhanger van Trump nie – het Amerika die Iranse ekonomie met sanksies vernietig. Iran het verwoed hierop gereageer met militêre optrede teen Amerikaanse belange regdeur die streek. “Iran het nie geweet waar die rooi lyne was, wat dit was wat Trump sover sou kry om te reageer nie. Hulle het tenkskepe aangeval, hommeltuie – grotes; hulle het 50% van die Saoedi-Arabiërs se olieproduksie vernietig, en Amerika het nie gereageer nie. Toe val die Irannese ’n Amerikaanse basis aan in Kirkoek in Irak, asook die Amerikaanse ambassade in Bagdad, en die opperleier van Iran het die vermetelheid om te twiet en te sê: ‘Julle kan niks doen nie.’ En, jy weet, Amerika, pres. Trump, het gereageer en gewys waar die rooi lyne is en dat hy sal eskaleer, en, om eerlik te wees, dit moes een of ander tyd gedoen word.”

Omdat Iran militêr soveel swakker as Amerika is, was Iran se reaksie op die Soleimani-aanval uiters beheers – ’n lugaanval op ’n Amerikaanse basis in Irak. Geen sterftes nie.

Die gewaande “Derde Wêreldoorlog” is toe nie op hande nie, want Amerika het korrek bereken dat Iran nie op ’n selfmoordsending is nie, en daarom sy reaksies sekuur sou kies.

Die enkele aanval op Soleimani – ’n bondgenoot van Sirië se pres. Basjar al-Assad, wie se magte vandeesweek weer ’n skool opgeblaas het in die stad Idlib waarin vyf kinders dood is – het meer gedoen om reëls neer te lê vir wat aanvaarbare en wat onaanvaarbare gedrag in die Midde-Ooste is as die 542 hommeltuigaanvalle wat geloods is deur oudpres. Barack Obama in sy termyn – aanvalle waarin 3 797 mense volgens die Council on Foreign Relations dood is, en waaroor Demokratiese kritici bra stil was.

So hokaai met die lui idee dat Trump gevaarliker is as wat Obama was en dat geweld altyd geweld baar. Die geskiedenis wys dat ’n geloofwaardige dreigement van geweld, en soms die gebruik van geweld, noodsaaklik is as jou einddoelwit vrede is.

Die wêreld soos dit bestaan het voor Soleimani se dood, was beslis nie “vreedsaam” in die boeke van Iranse opposisie-ondersteuners nie, wat uitgemoor is deur Soleimani en sy makkers; dit was nie “vreedsaam” vir die byna halfmiljoen Siriërs wat dood is in die burgeroorlog nie waarin Iran die Damaskus-regime steun.

Iemand moet per slot van sake die globale spelreëls uitspel, en enigiemand wat sou verkies dat dit Iran is eerder as Amerika, moet hulle afvra waarom meer as 1,5 miljoen Irannese deesdae in Amerika woon, maar geen Amerikaners in Iran nie – ’n totalitêre outokrasie waar vroue geen regte het nie en liberales wat hul regte opeis om hieroor te kla agter tralies beland.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.