Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: O gaats! Ook Cyril is ’n dromer . . .

Gespe jou vas vir Cyril Ramaphosa se Groot Sprong Voorwaarts, geïnspireer deur Jessie Duarte, wat sê die Guptas het niks verkeerd gedoen nie en dat Suid-Afrika se president teen mynboubase moet “opstaan”; Nkosazana Dlamini-Zuma, wat glo kinders word in voormalige model C-skole geleer om die ANC te “haat”; en Xi Jinping, wat meer mag vir homself opeis as enige Chinese leier sedert Mao Zedong.

Met sy Groot Sprong wil Cyril hom en die ganse nasie sierlik lanseer ver verby treine wat brand en vir ure gaan staan na ’n toekoms van blitstreine wat die Kaap en Durban met Musina en sommer ook met die uithoeke van landelike Suid-Afrika verbind.

“Wat van net ’n normale trein?” het ’n DA-agterbanker Donderdagaand in die Nasionale Vergadering geskree by die aanhoor van dié presidensiële fantasie. Die ANC kry nie eens die doenbare reg nie – soos om treine te bou wat op die spore pas kragtens tenders wat nie beknoei is nie terwyl werkende ma’s nie hoef te vrees hulle sal in Mitchells Plain uit brandende waens gegooi word nie. Daarom spits die party hom nou, soos Mao destyds met sy Groot Sprong Vorentoe, daarop toe om die onmoontlike te doen.

Die werklikheid suig.

Kies die droom!

Hier is Cyril: “Ons wil ’n Suid-Afrika hê waar ons ons vermoë tot sy volle potensiaal strek namate ons vorder op die supersnelweg van vooruitgang.”

Ons sit in die Shosholoza Meyl wat duskant Colesberg gaan staan het.

Sy drome vir ’n ruimte-eeuse vervoerstelsel sal geïmplementeer word deur die minister van vervoer, Fikile Mbalula, die nar wat tot dae voor Nasrec nog ’n stoere Zumaïet was.

As “Fiks” se planne dreig om te ontspoor, sal hy kan reken op bekwame toesig deur die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer. Die voorsitter is Mosebenzi Zwane, die Guptaïet op wie se wagbeurt as LUR vir landbou in die Vrystaat die Vrede-melkplaasskandaal gebeur het.

Die eerste stasie waar Cyril, Fiks en Zwane se snelsoustrein sal stilhou, sal nie Kaapstad wees waar die skollies met hul lighters wag nie, maar ’n heeltemal nuwe stad – die eerste in 25 jaar.

Want volgens Cyril is ons bestaande stede “vol”. Terwyl die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) dit as ’n prioriteit stel om bestaande stede se bevolkingsdigtheid te verhoog, in pas met die beste internasionale praktyk, sodat meer mense nader aan hul werkplekke en aan mekaar woon eerder as om soggens ure lank te pendel; en terwyl ons bestaande stede sukkel met basiese probleme soos riolering, slaggate en ligte wat brand, sê die president: “Het die tyd nie aangebreek vir ons om dapper te wees en verby onsself te reik en te doen wat onmoontlik mag lyk nie? Het die tyd nie aangebreek om ’n nuwe slim stad te bou met die tegnologieë van die vierde nywerheidsrevolusie nie? Ek wil Suid-Afrikaners nooi om hierdie vooruitsig te begin verbeel.”

Waarop dr. Mbuyiseni Ndlozi van die EFF skree: “Ons betaal jou nie om te droom nie!”

Dis nie net oor ’n nuwe stad wat ons welmenende president Donderdagaand in sy staatsrede geyl het nie.

Hy het laer lewenskoste beloof terwyl elektrisiteitspryse in ’n dekade met meer as 350% gestyg het.

Hy het ’n onafhanklike Reserwebank beloof terwyl hy twee weke gelede die ANC se beleid bevestig het dat die bank genasionaliseer moet word.

Hy het gesê almal wat elektrisiteit gebruik, moet betaal – basta met boikotte! – terwyl ANC-beheerde stadsrade Eskom meer as R17 miljard skuld.

Hy het gesê geweldsmisdaad sal binne tien jaar “gehalveer of selfs geëlimineer word” sonder om een ekstra sent vir die polisie te beloof.

Hy wy een van sy regering se sewe sleuteldoelwitte aan die verbetering van “Afrika en die wêreld” terwyl Afrika en die wêreld Suid-Afrika gemeet aan byna elke kriterium verbysnel.

Rwanda, Pole, Chili . . . hulle sit in die sneltrein. Ons sit in die Shosholoza Meyl wat duskant Colesberg gaan staan het.

Ramaphosa, geklee in sy pragtige House of Monatic-pak, vra ons moet plaaslike produkte koop terwyl die nuwe minimum loon die koste van plaaslike vervaardiging opstoot en goedkoop tekstielinvoer uit Xi se China klerefabrieke van Soutrivier tot in Newcastle laat sluit.

Hy beloof ’n sobere grondhervormingsbeleid terwyl die adviespaneel wat hom van raad moet bedien, volgens die grootste kommersiële boer wat daarin gedien het, “soos ’n spazawinkel bedryf is”. Cyril droom ook van “ ’n land wat homself kan kos gee” sonder om een keer na die kommersiële landbousektor te verwys.

En hy vra: “Ons wil hê dat die sakewêreld die land se nasionale strategiese doelwitte en maatskaplike oorwegings in gedagte moet hou wanneer hulle besluite neem.”

Ek wens dit het so gewerk, maar sakelui, ryk en arm, klein en groot, word gelok deur die belofte van wins en verdryf deur risiko, net soos gewone Suid-Afrikaners bemoedig word deur konkrete planne vir hervorming, en hul koppe in ongeloof skud vir ’n president wat wil hê dat ons wag vir ’n verskietende ster, ons oë dan styf toeknyp, en vir ’n beter môre wens.

Opposisie-LP’s het hardop vir hom gelag. Dit was tragies om te aanskou.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.