Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Om stemdag uit te stel is 'n baie slegte idee

Die poging van die verkiesingskommissie (OVK) om 27 Oktober se munisipale verkiesing uit te skuif tot Februarie 2022 skep ’n gevaarlike presedent.

Dit sal duisende onkapabele ANC-raadslede, wie se termyn van vyf jaar op Dinsdag 3 Augustus reeds verstryk het, toelaat om tot volgende jaar op arm gemeenskappe te teer, en dit sal die ANC leer hy kan ’n verkiesing skrap as dit hom pas.

Die OVK se aansoek om die pas geproklameerde verkiesingsdatum uit te stel, volg op ’n verslag waarin die voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke bevind het ’n vry en regverdige verkiesing is onder huidige toestande onmoontlik.

Sy groot beswaar was dat ’n verkiesing kwansuis lewens sou kos, en dat kiesers en politieke partye nie hul demokratiese regte kan uitoefen terwyl soveel mense siek is en inperkingsregulasies van krag is nie.

Dis bog-argumente wat reeds uitgebuit word deur die ANC.

Die ink op Moseneke se verslag was skaars droog toe sê Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Donderdag dat die ANC eintlik ’n verkiesing in April volgende jaar pleks van Februarie sal verkies.

Dit maak sin vir ’n party wat te bankrot is om salarisse te betaal. Suid-Afrikaners is boonop armer en kwater as in jare en in KwaZulu-Natal, wat naas Gauteng die grootste bron van ANC-stemme is, word die skade van ’n ANC-rebellie laas maand in miljarde rande getel en is die party verskeur tussen faksies wat óf radikaal óf hopeloos is.

Die ANC kán verkiesing hou op 27 Oktober, maar wíl nie.

Ook die OVK het gesê hy was gereed om “suksesvolle verkiesings te hou” teen 1 November, sodat raadslede aanspreeklik gehou kan word vir vyf rampspoedige jare waarin dienslewering volgens die ouditeur-generaal verder verval het, behalwe waar die DA regeer.

Soos met so baie ander aspekte van ons lewens wat sedert Maart 2020 verongeluk is deur politici, gee Moseneke en nou ook die OVK en ANC die virus die skuld vir die uitstel van die verkiesing.

Die OVK sê ’n verkiesing – die samekomste vooraf asook die stemmery self – kan tot ’n massiewe nuwe vlaag Covid-19-infeksies lei.

Maar oor die wêreld heen is 125 veilige verkiesings tydens die pandemie gehou. Moseneke se eie verslag sê “in verkiesings waar verpligte Covid-19-protokols behoorlik afgedwing is, (was) daar geen toenames in infeksies weens verkiesings nie”. Groot byeenkomste vind in die buitelug plaas waar oordrag minimaal is, en die gevaar vir oordrag in stemlokale is presies dieselfde as in die tou vir jou Sassa-toelaag of by Shoprite of die apteek.

Daarom is dosyne tussenverkiesings vanjaar veilig hier gehou.

Teen Oktober sal oningeëntes meestal uit diegene bestaan wat die inenting geweier het – ’n nuk wat regtig nie die res van ons se probleem gemaak kan word nie.
Die agt keer wat die OVK die hof wel gevra het om tussenverkiesings uit te stel, was nie weens Covid-19 nie, maar weens die regering se inperkingsregulasies, wat samekomste verbied het. ’n ANC-minister se regulasie kan kwalik as ’n geldige rede voorgehou word om Suid-Afrikaners van hul stemreg te beroof.

Moseneke en die OVK was voorts bang dat ’n Oktober-stemdag kan saamval met ’n Covid-19-kruin.

Maar selfs die regering se eie Covid-19-projeksies wys dat Oktober in alle waarskynlikheid ’n tydperk van lae infeksies sal wees. Trouens, wetenskaplikes waarsku dat talle nuwe Covid-19-variante teen Februarie 2022 hul verskyning kan maak, met onkenbare gevolge.

Dan is daar die kwessie van die “kwesbares”.

In ’n voorlegging aan Moseneke het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, kommer uitgespreek dat “kwesbare kiesers” dalk ontmoedig kan word om in Oktober te stem uit vrees vir die virus.

Maar 60-plussers – by verre die kwesbaarste groep – kon hulle lank­al laat inent het. Teen Oktober sal oningeëntes meestal uit diegene bestaan wat die inenting geweier het – ’n nuk wat regtig nie die res van ons se probleem gemaak kan word nie.

Jong mense, daarenteen, is nóg geregistreer om te stem, nóg in veel gevaar om weens Covid-19 te sterf.

Moseneke en die OVK betoog voorts dat ’n verkiesing in Februarie veiliger sal wees omdat 67% van die bevolking al ingeënt sal kan wees – die vlak wat nodig is vir kudde-immuniteit. Maar dr. Jacqui Miot van die regering se Covid-19-advieskomitee sê dit is “baie onwaarskynlik” dat Suid-Afrika teen Maart 2022 die 67%-vlak sal haal. Prof. Salim Abdool Karim glo ’n vlak veel hoër as 67% is vir kudde-immuniteit nodig, terwyl prof. Shabir Madhi van Wits selfs waarsku kudde-immuniteit “gaan nie, of gaan waarskynlik nie, in ons leeftyd verwesenlik word nie”.

Sal ons stemdag vir ewig uitstel?

Moseneke en die OVK sê ook hulle vrees ’n lae opkoms in Oktober, terwyl soveel as 62% van kiesers die afgelope jaar in tussenverkiesings gestem het, hoër as die 57,94%-opkoms in die munisipale verkiesing van 2016. Was daardie verkiesings ook “illegitiem”?

Moseneke se verslag is op swak argumente geskoei. Dit pas die onbeholpe ANC soos ’n handskoen.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.