Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ons durf nie gesus word deur optimisme

’n Man wat saam met my in die raad van trustees dien van die Rapport Onderwysfonds is Dinsdag amper deur sekuriteitswagte hier by ons gebou in Auckland Park in hegtenis geneem omdat hy twee moeë landsvlae wat voor die gebou gehang het ondanks die besware van verskrikte wagte gestryk, oor sy skouers gedrapeer en opgedra het na my kantoor.

Dis nie dat Piet Steyn gewens het ’n ander vlag wapper daar nie. Maar vlae moet skoon en heel wees. Dit was ’n patriotiese protesdaad: “Dis ’n nasionale simbool. Ons moet die vlag met respek behandel,” sê Piet, wat al jare lank landsvlae in sy bagasiebak rondry sodat hy vodde vlae kan vervang.

Onlangs nog sou Piet se patriotisme vreemd opgeval het, want die land was so aan flarde soos die vlae wat hy stryk en Jacob Zuma was die president en dit was moeilik om ’n uitweg te sien.

Verlede Woensdagmiddag nog het dit gelyk of Zuma wou baklei. ’n Groot sakeman het my vertel hy het ’n weddenskap aangegaan dat die rand oor drie maande baie van sy waarde sou verloor namate die “twee sentrums van mag” in die ANC en die Uniegebou mekaar verrinneweer.

Toe word Cyril Ramaphosa beëdig as president. En toe lewer Ramaphosa sy staatsrede. En toe gaan stap hy op die promenade in Seepunt en gesels met ooms en tannies. En toe verander iets.

Skielik was daar hoop dat ons “nie dieper in die modder wegsink nie”, skryf Colin Hoffman in reaksie op my vraag die afgelope week: Watter hoop, indien enige, bring Ramaphosa?

Ons moet net nie hierdie warm gevoel verwar met patriotisme nie, wat ook van ons vereis om waaksaam te wees.

Hoop dat die president nie meer ’n verleentheid vir hom sal wees nie, sê Hennie Neuhoff. Hoop vir Peet Bothma vir ’n “kleurlose Suid-Afrika”. Hoop op die herstel van ’n “mate van verstandigheid” in hoe die ANC dink, aldus Chris Klopper. Fiskale dissipline, sê Annemarie van Wyk. Hoop dat hy die land “soos ’n besigheid sal bestuur”, skryf Ilza Roggeband.

“Hy het die atmosfeer van hopeloosheid oor die land verdryf,” sê Amanda de Lange. “Hy is ’n feilbare mens en dit sal tyd neem om verandering te sien, maar hy bied vir ons opsies wat ons vir nege jaar nie gehad het nie.”

Ramaphosa is “die held wat die draak se kop afgekap het”, skryf Johan Schoeman, en daarom help hy die verwagting skep van ’n “beter toekoms”.

Hy’s nie ’n “tipiese Afrika-stamhoof” nie. Hy het net een vrou. Hy is nie korrup nie. Hy ag hom nie bo die gepeupel nie. Hy boesem vertroue in.

By ’n noordelike universiteit waar agterdog en verwyt en rasseretoriek die bande tussen wit en swart kollegas begin uitrafel het sodat net enkelinge dit naderhand in die teekamer gewaag het, is die teekamer skielik vol.

Flip Buys skryf: “Cyril se verkiesing en sy uitskop van Zuma het weer ’n positiewe gees in die land laat posvat. Dis wonderlik om nie meer hoef te aanskou hoe ’n korrupte en onbevoegde president deur die staatsrede stamel nie.

“Cyril skep ’n dinamiese en bekwame beeld, wat hoop vir die land bied. Tog is dit nie net Zuma wat die land op die rand van die afgrond gebring het nie, maar die ANC. . .”

Nog ’n “tog” van Gwen Bezuidenhout: “Hy gee beslis hoop, al is dit net oor die feit dat hy stiptelik is, ’n man van karakter, en ’n uitmuntende strateeg. Maar hoop is soos reënwolke. Dit bring nie uitkoms voor dit goed reën nie.”

Ek hoop ook. Dit voel so goed. Ek kan nie anders as om van Ramaphosa te hou nie. Ek het waardering vir wat hy projekteer, vir die feit dat hy lui rasseretoriek vermy. Ek dink hy het die vermoë om hierdie skip minstens ’n bietjie van koers te laat verander.

En tog moet ons nie suinig wees met kritiek nie. Ons móét krities wees. Dit was nie trots en hoop wat ons die afgelope dekade van algehele rampspoed gered het nie, maar skeptisisme.

Ons mag Ramaphosa as mens re­spekteer én vra: Wat is die teenstrydighede in ANC-beleid – selfs in Ramaphosa se toesprake – wat keer dat ons ekonomie groei? Hoeveel nuwe werk kan hy skep as hy voortdonder met onteiening sonder vergoeding? (Antwoord: Niks, terwyl baie werksgeleenthede vernietig kan en sal word).

Niemand is immuun teen wat hy verteenwoordig nie en simboliek maak saak maar soos Azad Essa Woensdag skryf in The Star oor die nuwe trefferfliek Black Panther: Ons moet nie “geflous word deur simboliek bo substansie nie”. Ons moet ag slaan op die vermaning van Gareth van Onselen dat ons te obsessief is in hierdie land met “grootmeneer-politiek”, want dit kan ons blind daarvoor maak dat dit juis Ramaphosa se ANC was op wie se wagbeurt BTW verhoog moes word om ons van bankrotskap te red.

Vertroue in Ramaphosa voel lekker, en ons het rede om meer van hom te verwag as van Zuma.

Ons moet net nie hierdie warm gevoel verwar met patriotisme nie, wat ook van ons vereis om waaksaam te wees, want Suid-Afrika is nie ’n monargie nie: Dit is ’n pluralistiese konstitusionele demokrasie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Toekoms  |  Vlag  |  Hoop  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.