Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ontspan oor die Taliban, sê mans

Dit is opvallend dat dit sedert Maandag se Taliban-oorname in Afganistan slegs mans is wat sê 2021 se Taliban is nie dieselfde barbare wat in 2001 daar ontsetel is nie. Dis mans wat pleit dat ons die “nuwe” Taliban ’n kans moet gee om hulself te bewys; wat die Taliban se beloftes oor gelykberegtiging vir vroue ernstig opneem; en histerie van Westerlinge en angsbevange Afgane wat aan vliegtuigwiele klou om landuit te vlug as ietwat “oordrewe” tipeer.

Die Taliban, u sien, hou hulle nou as ’n gematigde beweging voor: Op ’n mediakonferensie Dinsdag in Kaboel het Zabihoellah Moedjahid, die Taliban-segsman (uiteraard ’n man), belowe die Taliban sal amnestie toestaan aan alle Afgane wat die Amerikaners gehelp het; nie ’n broeiplek vir terroriste word nie; en onafhanklike media toelaat om aan te hou bestaan. By ’n kermis in die stad het bebaarde Taliban-vegters probeer wys hoe skadeloos hulle is deur op stampkarretjies te ry en uitbundig te lag, terwyl Taliban-leiers beloof het om vroueregte te respekteer “binne die norme van Islam”.

Laasgenoemde voorbehoud sal dalk skrale troos bied aan die vroue van Afganistan, wat selfs onder Amerikaanse besetting die tweede slegste plek in die wêreld was om ’n vrou te wees, volgens die 2019 Women, Peace and Security Index, wat 11 maatstawwe gebruik om te meet hoe bemagtig vroue is. Al die lande wat die slegste presteer, het groot Moslem-meerderhede.

Die Taliban se trooswoorde oor Islam en die feit dat hulle vroue aanmoedig om terug te keer werk toe en meisies om terug te keer skool toe en ’n vroue-TV-aanbieder Maandag selfs toegelaat het om met die Taliban-woordvoerder ’n onderhoud te voer, is nie die handelinge van ’n hervormingsgesinde, verligte, moderniserende regering met Westerse neigings nie, maar eerder ’n stamgebonde, diep konserwatiewe en in sommige opsigte primitiewe misdadige bende wat desperaat is om toegang tot dollars en internasionale erkenning te kry.

Taliban-beloftes is min werd. Toe hulle Kaboel 25 jaar gelede vir die eerste keer oorrompel het, het hulle ook gesê hulle soek nie wraak nie en amnestie aangebied aan meelopers van die vlugtende Sowjets.

Graeme Wood, kenner van ekstremistiese Islam, skryf in The Atlantic oor die Taliban se beloftes in 1996: “Die afgesette president, Mohammad Nadjiboellah, was nie met die maak van dié beloftes beskikbaar vir kommentaar nie. Die Taliban het hom gekastreer en luidens berigte sy genitalieë afgesny en in sy mond gedruk, waarna hy aan ’n lamppaal opgehang is . . . Berigte (vandag) uit Afganistan is waarskynlik slegs gerusstellend vir diegene wat nie hierdie geskiedenis ken nie.

“Daar is geen tekens dat leiers van die Taliban gematig geword het nie. Vir die afgelope 15 jaar is hulle konsekwent gewelddadig en vir hul genadeloosheid is hulle ryklik beloon. Die huidige generasie leiers is wreder as hul voorgangers en in sommige gevalle is hul sentimente verhard deur tyd in (die Amerikaanse tronk in) Guantánamo-baai.”

’n Kontak in Kaboel sê vir Wood: “Hulle het die stad binnegekom as ’n seëvierende Islamitiese leër en dis hoe hulle sal optree.”

Die Britse TV-kanaal ITV berig die Taliban het reeds met teregstellings in die straat begin.

Voeg hierby dat die Taliban geen sentrale bevelsmag het wat die dekrete om “nice” te wees oral kan afdwing nie, en dis duidelik waarom ’n vroue-uitsaaier wat by ’n familielid skuil aan die nuusdiens AP gesê het “vroue glo nie die Taliban as hulle sê hulle het verander nie”.

Die Britse TV-kanaal ITV berig die Taliban het reeds met teregstellings in die straat begin. Charlie Herbert, ’n Britse oudmajoor wat in Afganistan diens gedoen het, sê daar is geen bewyse die Taliban is skielik gematig nie: “Hulle wag geduldig tot ons Kaboel verlaat en dan sal die bloedvergieting begin, wanneer daar nie enige joernaliste of buitelanders is om dit te sien nie.”

Nie almal is só skepties nie.

Die hoof van die Britse weermag, generaal Nick Carter, sê die Taliban is maar net “plaasseuns” (“country boys”) wat ’n inklusiewe Afganistan wil hê. “Dit kan wees dat hierdie Taliban ’n ander Taliban is as die een wat mense uit die 90’s onthou,” het hy uit Londen verklaar.

In Suid-Afrika het die Moslem Juridiese Raad (MJR) die “wrede” Amerikaanse besetting veroordeel en gesê hulle glo die Amerikaners se vertrek “sal die weg baan vir ’n nasie om homself te herontdek, te herbou, en te heel van die gruwels van oorlog, besetting en onrus”. Hulle vra die nuwe Afgaanse leierskorps om “diversiteit te koester”, uiteraard binne die eng definisie van daardie woord wat ’n mens in ’n konserwatiewe Moslemland soos Afganistan kan verwag.

Op RSG sê prof. Farid Esack van die Universiteit van Johannesburg (UJ) vrese vir die Taliban is “totaal oordrewe”, dat die organisasie “totaal verskillend” is van Boko Haram, Al-Kaïda en Isis en dat die Taliban verklaar het hulle het “lesse geleer”.

Wanneer die laaste buitelander Kaboel verlaat, sal die vroue van Afganistan uitvind of dit so is.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Iran  |  Wag ’N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.