Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Op sosiale media is die ‘mob’ in beheer
Waldimar Pelser

Op sosiale media staan wit mense deesdae plek-plek as “1652’s” bekend.

Toe adv. Vincent Maleka se verslag oor Ashwin Willemse die afgelope week deur SuperSport bekendgemaak is, het een radio-omroeper wat graag na die lewe deur ’n rasbril kyk op Twitter geskryf: “Ek het elke sin van die verslag oor #AshwinWillemse gelees. Dis ongelooflik hoe 1652 Twitter die VOLLE detail ignoreer” (my vertaling).

“1652 Twitter” verwys na enige wit persoon wat die heersende narratiewe oor ras of maatskaplike geregtigheid uitdaag of kompliseer of wat in ander opsigte nie “progressief” genoeg is nie.

Die aannames oor hierdie losse groep blyk wydlopend te wees.

Aan die een kant word ’n paar werklik ernstige aantygings oor hulle gemaak, soos dat hulle blind is vir swart mense se aspirasies en historiese griewe; wit mense altyd die voordeel van die twyfel gee; net swart rassiste takel of hul kinders nie oor die onregte van apartheid leer nie. Dis verkeerd.

Aan die ander kant kleef die 1652-etiket ook aan daardie wit mense wat bloot moedeloos is oor die her-rassifisering van ons land; aan dié wat opreg in die soeke na gesamentlike narratiewe en oplossings glo; en, les bes, aan dié wat glo dat, alhoewel dit so mag wees dat baie swart en bruin mense elke dag nog subtiele rassisme ervaar, Ashwin Willemse nie ’n billike geleentheid gebruik het om sy kant van die saak te stel nadat hy twee kollegas op regstreekse TV van rassisme beskuldig het en toe uitgeloop het nie.

Sosiale media het ’n plek geword waar haat en agterdog vrye teuels gegee word en ons in mekaar se oë karikature is.

Dis sommer als een groep. Die 1652’s.

Om dié merk te dra is om tot vreemdeling of inkommer gemaak te word wat geen geldige argument na die debat kan bring nie weens jou velkleur.

Dit is soos om swart mense of gay mense afwysend te behandel weens ’n inherente identiteitskenmerk.

Dit is egter nie net die sogenaamde 1652’s wat deesdae stil geskree word nie.

Wits se visekanselier, prof. Adam Habib, wat nou die dag nog plaasmoord-aktiviste met Adolf Hitler vergelyk het, het Maleka van raad bedien oor rassisme vir die SuperSport-verslag.

Omdat hy deel had aan ’n verslag wat geen bewyse van rassisme teen Willemse by SuperSport kon vind nie, is hy gekruisig deur dieselfde hovaardige denkpolisie wat van “1652’s” praat in ’n poging om “retrogressiewe” denke uit te roei. Habib skryf: “I have clarified my participation in the SuperSport enquiry. It is unlikely to satisfy the thoughtless mob (and trolls) for whom racism is a label to settle political scores. To this mob, get off my account. It’s for thoughtful democrats interested in building a better world.”

Die probleem, geagte prof. Habib, is dat Twitter en Facebook allermins ’n forum is vir “demokrate wat ’n beter wêreld wil bou”. Die “mob” regeer.

Sosiale media het ’n plek geword waar haat en agterdog vrye teuels gegee word en ons in mekaar se oë karikature is. Ons elkeen is ’n eendimensionele iets wie se lewenswerk ongedaan gemaak kan word deur die gebruik van een verkeerde woord, bietjie soos die (swart) professor Coleman Silk in die ontslape Philip Roth se roman The Human Stain, wat een dubbelsinnige woord geuiter het, en moes bedank.

Die “mob” waarvan Habib praat, teiken nie net 1652’s nie.

David Brooks skryf in The New York Times (“The Problem with Wokeness”) hoe hy tot niet gemaak is op sosiale media nadat hy in ’n TV-uitsending gesuggereer het dat skietvoorvalle by Amerikaanse skole eintlik ’n kleiner probleem is as wat dit eens was.

“Die diagnose was dat ek iets verkeerd doen deur nie die omvang van die probleem te maksimeer nie. Ek het morele dringendheid gedreineer en die status quo goedgepraat.

“Hierdie denkgewoonte is nou verwant aan wat ons deesdae wokeness noem. Voorheen het jy probeer om die erns van ’n probleem objektief te beskou, dan stel jy ’n oplossing voor wat óf radikaal óf gematig kan wees, konserwatief of liberaal. Jy is geoordeel aan die hand van jou voorstel.”

Nie meer nie, en dit sien ons ook in die Suid-Afrikaanse gesprek.

Vandag word eerder gevra of jy inval by die konsensusbeskouing van die probleem. En of jy kwaad genoeg is.

“Daar is geen gematigheid nie. Dit is altyd goed om ongeregtigheid in maksimale terme te sien. Om te wys op enige versagtende faktore is om naïef of kinderagtig te wees,” skryf Brooks.

Die logika van die denkpolisie bepaal op Orwelliaanse wyse dat alle wit mense verdag is, ongeag wat hulle doen om hierdie land ’n beter plek vir al sy mense te maak; dit dikteer dat Habib ’n hensopper is bloot omdat hy aandadig was aan ’n verslag wat nie tot die gewenste gevolgtrekking oor rassisme gekom het nie; en dit maak van ons siniese heksejagters wat doodgewone mense te bang maak om op sosiale media deel te neem aan die gesprek.

Ons kan swart-wit-denke slegs beveg as ons ons nie self skuldig maak aan identiteitspolitiek nie, andersdenkendes nie stil skree nie, en die rasbril neersit ongeag of bitterbekke jou as ’n “1652” beskryf.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.