Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ordentlike mense mág oor beelde verskil

Die aftakel van standbeelde traak my min.

Tog is die bestorming van die beelde van historiese figure ’n saak waaroor ordentlike mense van mekaar verskil – en behoort te mag verskil.

Om een kant of ander kant toe te argumenteer, maak jou nie “regs” of “links”, reg of verkeerd nie. Dit gaan veel eerder oor estetika, kultuur, mag, en ordes wat taan en verrys.

Wou diegene wat die beeld afgebreek het van die filantroop en slawehandelaar sir Edward Colston in Bristol, Engeland, die geskiedenis uitwis, of wou hulle, soos Matthew Parris skryf in The Spectator, nuwe geskiedenis máák? Ek sou dit verkies om Colston uit te los en oorkant hom ’n beeld te plaas van Edmund Morel, wat die slawehandel in die destydse Belgiese Kongo ontbloot het, maar dit is bloot my voorkeur; ek kan my kwalik op ’n beginsel beroep dat die beeld moet bly staan van iemand soos Colston, wie se dade hom vandag sou laat beland het nie op ’n voetstuk nie, maar voor ’n internasionale tribunaal.

Matthew Parris roep die vernietiging van ’n olieverfportret in herinnering wat die beroemde Britse skilder sir Graham Sutherland in 1954 geskilder het om Winston Churchill se 80ste verjaarsdag te gedenk. Die skildery was ’n “meesterstuk” van ’n “figuur wat meteens kwerulant was en heroïes, hardvogtig en uitdagend, vet, met ’n nek soos ’n os, opvlieënd, met ’n suggestie van seer in die oë . . .”

Churchill het gesê dit het hom na ’n dronkaard laat lyk en die skildery in ’n kelder gestoor. Ná die dood van sy vrou, lady Spencer Churchill, het dit geblyk sy het die skildery verbrand (dit was immers hul eiendom om mee te maak soos hulle wou).

Die aftakel van beelde los net die maklike probleme op. Dit bring ’n kits-katarsis maar die harde werk van hervorming lê altyd voor.

Nietemin: Parris se punt is dat kuns emosies aanwakker. “Lady Spencer Churchill se vandalisme was die hoogste huldiging van eerlike portretkuns.” Was dit “reg” of “verkeerd”? In soverre die vernietiging van ’n afbeelding van ’n mens wel ’n morele kwessie is, is daar straks meer morele argumente om beelde af te breek as op te rig.

Dink terug aan Irak in 2003.

Op 9 April daardie jaar het Kadhim al-Jabboeri ’n voorhamer gegryp en aan die voetstuk begin kap waarop die standbeeld gestaan het van Saddam Hoessein in Bagdad.

Amerikaanse troepe het pas die stad bereik. Al-Jabboeri wou die moord deur Hoessein op 14 van sy familielede wreek. Toe die beeld val, het baie Irakiërs dit as ’n simboliese aftakeling beskou van ’n stelsel wat mens-onterend en gewelddadig was.

Die afbreek van die beeld is nie destyds as ’n geweldsdaad of misdaad beskryf deur diegene wat teen die Golf-oorlog gekant was nie. Baie mense het die aftakeling daarvan verstaan, want dit het met hul eie beskouing van reg en verkeerd gestrook.

Insgelyks is dit moeilik om ’n mens te beroep op ’n beginsel waarteen die verwydering van beelde of straatname ter ere van die Belgiese koning Leopold II indruis, wat die destydse Kongo tot 1908 as sy privaat eiendom bestuur het. Die afkap van die hande van werkers in rubberplantasies deur Leopold se private leër, die Force Publique, is deur Christelike sendelinge opgeteken. Die wêreld het behoorlik daarvan kennis geneem met die publikasie in 1998 van Adam Hochschild se boek King Leopold’s Ghost. Die boek is verpligte leesstof vir enigeen wat vandag die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) probeer verstaan, iets waaroor ook Liesl Louw-Vaudran die afgelope week in ’n rubriek op Netwerk24 skryf.

En tog: Die aftakel van beelde los net die maklike probleme op. Dit bring ’n kits-katarsis maar die harde werk van hervorming lê altyd voor en volg trouens selde op revolusies.

Dit is opvallend dat die Westerse lande met die sterkste menseregtekultuur en hoogste lewensgehalte vir ál hul inwoners uitgesonder word deur aktiviste wat die afbreek van koloniale simbole en maatskaplike omwentelings eis. Die VN se indekse oor menslike ontwikkeling wys dat lande wat destyds standbeelde van grillerige heersers in parke gebou het, en wat baie van daardie beelde steeds koester, ook beter na hul mense omsien.

Is hierin nie ook ’n les nie?

Die aftakeling van standbeelde van koloniale heersers of tiranne soos Hoessein was nog nooit die voorspel tot geregtigheid nie, selfs wanneer ons die teenstand teen die beelde begryp.

Dít weet Kadhim al-Jabboeri – die man wat Saddam se beeld afgebreek en jare later aan die BBC gesê het hy kry spyt, die beeld moet terug, want die nuwe regime is selfs erger.

Die ander gevaar van veldtogte soos Black Lives Matter (BLM), wat eis dat nie net beelde nie maar álle kultuurprodukte verwyder word wat enige swart persoon aanstoot gee, is dat dit in die naam van verdraagsaamheid ’n akute onverdraagsaamheid in die hand werk teenoor diegene wat “verkeerd” dink of praat oor die moeilike kwessies van ons tyd – soos ras.

Paniek heers; TV-kanale “suiwer” hul aanbod van potensieel aanstootlike materiaal (Little Britain; Fawlty Towers); kurators verwyder kuns wat dalk kan ontstel; en by The New York Times loop twee ervare joernaliste omdat hulle ’n artikel geplaas het wat krities oor BLM was.

Oor standbeelde mag ordentlike mense verskil. Maar vir die reg om te skep, te skryf, te lees en selfs te lag, sal ons veg omdat dit oor die beginsel van vryheid gaan.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.