Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Piep soos ’n muis? Nee! Brul soos ’n leeu

Terwyl kaders en verspotte kamma-konings hulle in elke ANC-provinsie by die trog van koronavirus-tenders knuppeldik vreet, is Suid-Afrika se grootste maatskappye stil. Hulle piep soos muisies oor diefstal en die rieme irrasionele rampregulasies pleks van om te brul soos leeuwyfies op wie se welpies die hiënas jag maak.

Sommige verwelkom die reëls selfs, al wonder hulle of die miljoene wat hulle in 2018 naïef aan die futlose Cyril Ramaphosa se veldtog geskenk het, ’n goeie belegging was.

Terwyl die manies magsugtige doktor Nkosazana Dlamini-Zuma al vir vier maande binnensmonds bevele prewel wat ganse bedrywe vernietig – soos teen dampie maak of ’n bottel Bolandse rooiwyn koop – val firmas oor hul voete om alles te verwelkom wat ons welmenende herders doen om ons te beskerm teen ’n virus waarteen geen regering sy mense kan beskerm nie.

Toe alkoholverkope sonder waarskuwing weer op Sondag 12 Julie verbied is omdat ANC-covidpreneurs versuim het om die inperking van drie weke wat vier maande geword het te gebruik om vir die koronavirus-kruin gereed te maak, het Groot Constantia, die beroemde wynplaas, laat weet: “Ons wil almal graag weer verkoop, maar ongelukkig lei alkohol tot onverantwoordelike gedrag wat druk op die hospitale plaas. Die welstand van die mense van Suid-Afrika moet eerste kom.”

Dié plaas se bekentenis dat sy produk lewens kos, in ’n poging om sy gedienstigheid teenoor die ANC-opperbevelsraad te paradeer, pleks van om te veg vir sy werkers se reg om kos op die tafel te sit, verdien om deur wynkopers gestraf te word.

Terwyl onwettige drankverkope darem op baie wynplase voortgaan (dank vader), en terwyl die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai) dadelik besluit het om namens wynplase teen die nuwe drankverbod te litigeer, glo die baas van Vinpro, die bedryfsliggaam, dat Saai bloot politieke munt uit die litigasie wil slaan.

Vinpro se strategie? “Gesprekke”.

Sterkte daarmee, manne.

Duskant die wyngordyn is weinig meer veglus te bespeur.

Korporatiewe Suid-Afrika is so bang om aanstoot te gee uit vrees dat ’n minister haar wip, dat hulle nie die mag gebruik wat hulle het nie.

Suid-Afrikaanse Brouerye se strategie teen ’n verbod wat die R140 miljard-alkoholbedryf in die eerste tien weke van die verbod reeds R18 miljard gekos het en duisende gesinne reeds sonder ’n inkomste gelaat het was . . . om ’n mediaverklaring uit te reik. Hulle maak darem daarin die belangrike punt dat die verbruik van ongelisensieerde drank tydens prohibisie opskiet, maar aan brouers wat dink NDZ en Cyril steur hulle aan ’n SAB-twiet, vra ek: Wat rook julle?

British American Tobacco mik darem hof toe.

Elders heers gedwee korporatiste.

Toe Ebrahim Patel tien weke gelede ná ’n nat droom oor staat-sentralisme besluit niemand mag skoene met oop tone koop nie, het die kleinhandelaars – kolosse met tienduisende werknemers – veel verder gegaan as net swyg. Hulle het sommer die regulasies “verwelkom”. Pleks van met tuinvurke opruk teen kleinlike en teenproduktiewe diktate het hulle dánk betuig dat hulle hoegenaamd sake mog doen.

Die beginsel is immers gevestig dat dít iets is waarvoor ’n minister ja of nee kan sê. Woolworths het selfs produkte met geel linte toegespan wat hulle mág verkoop, soos ’n vroom graadtweetjie wat wou sê: “Kyk, meneer, hoe soet is ek. Asseblief, moet my nie weer slaan nie.”

Dit voel soms of korporasies en sakeleiers dit sien as hul morele plig om hierdie (demokraties verkose, maar steeds) mafia-agtige regering se oortredings as die lomp foute te tipeer van iemand met ’n goeie hart wat klaaglik misluk, maar darem hard probeer. Dis asof die korporasies glo dis hul werk om die staat se optrede aan hul kliënte en werknemers te verduidelik eerder as om die legitieme eise van hul kliënte en werknemers aan die deure van die Uniegebou te gaan vasspyker.

Terwyl taxibase en vakbonde verstaan hoe mag in hierdie wilde land werk, neem die privaat sektor die tipe eerbiedige en inskiklike houding teenoor die regering in wat ’n mens inneem teenoor iemand by wie jy dink jy baie diep in die skuld is.

Vergeet dat maatskaplike toelaes – nou nodiger as ooit tevore – net betaal kan word as taks op winste gehef kan word. Vergeet dat die regering hom elke oggend afvra hoe hy dit moeiliker en duurder kan maak om in ons gevaarlike land sake te doen.

Korporatiewe Suid-Afrika weier om die ANC te sien vir wat hy is – ’n misdaadsindikaat – net soos wat die ANC geweier het om Robert Mugabe van Zimbabwe te sien vir wat hy was terwyl hy sy land vernietig het.

Suid-Afrika het die mag gehad om hervormings op Zimbabwe af te dwing, maar “stille diplomasie” gekies. Kyk waar het dit ons gebring.

Korporatiewe Suid-Afrika is so bang om aanstoot te gee uit vrees dat ’n minister haar wip, dat hulle nie die mag gebruik wat hulle het om die regering tot verantwoording te roep nie. Ons maatskappye is “monddood”, soos wat Breyten Breytenbach in 2016 vroom wit mense genoem het wat weier om ook hul burgerskap hier en nou op te eis.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Wag 'N Bietjie  |  Regulasies  |  Tabakverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.