Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar: Plan met pensioene is bleddie immoreel

Dit was die kortste wittebrood denkbaar: Woensdag koer ons daaroor dat Tito Mboweni darem nie BTW en inkomstebelasting verhoog het nie. Selfs verligting in maatskappybelasting wink. Sê weer?

Ja, sowaar: Eerder as om belastingbetalers in hierdie ronde die rekening te laat betaal vir jare se kriminele wanbestuur, het Mboweni gekies om ’n klap te plant op die spekvet wang van die heiligste van die heiliges – Cosatu. Cosatu is ’n paradoks: ’n Vakverbond wat lede by die duisende verloor en tog klaarblyklik steeds soms die reg het om moeilike regeringsbesluite te veto wat geneem moet word om die wa deur die drif te trek.

Die klap na Cosatu en ander staatsdiensvakbonde het gekom in die gedaante van ’n aankondiging dat die staatsdiensloonrekening oor die volgende drie jaar met R160 miljard besnoei moet word nadat staatsamptenare vir jare sulke ruim verhogings gekry het – ver bo inflasie! – dat 29 000 van hulle deesdae meer as ’n miljoen rand per jaar verdien.

Net so nodig as die Cosatu-klap was Mboweni se verklaring dat die ekonomie vanjaar met net 0,9% sal groei teenoor die 3,6% gemiddeld per jaar in die 15 jaar ná demokratisering en die 5% per jaar tussen 2003 en 2008.

Selfs 0,9% is waarskynlik ooroptimisties. In sy begrotingsrede in Februarie 2019 het Mboweni groei vir 2019 van 1,5% voorspel, en 2,1% teen 2021. Dit is alles uit die duim gesuig — al die faktore wat vandag lei tot veel laer vooruitskattings was ’n jaar gelede reeds teenwoordig, maar laas jaar is die begrotingsrede drie maande voor ’n verkiesing gelewer, so die ANC moes bietjie bylieg dat die boeke klop. En hier sit ons. In die pekel.

Dit is nie net ANC-kiesers wat soms goedgelowig is nie. Ons sal self naïef wees as ons dink net vakbonde gaan geklap word.

Dit is egter nie net ANC-kiesers wat soms goedgelowig is nie. Ons sal self naïef wees as ons dink net staatsdiensvakbonde gaan geklap word. Die vakbonde self ryg natuurlik reeds morele argumente uit dat dit verkeerd sou wees om van polisielede en onderwysers en rekenmeesters in middelslag-munisipaliteite te verwag om alleen die pak te vat, en hulle het ’n punt: Daar is baie hardwerkende amptenare in die staatsdiens wat voel dat die afgelope dekade se verhogings hulle toegekom het namate die aanstelling van amptenare gestagneer en die werk meer geword het, en van hulle het insgelyks ’n punt. Die nuus hierdie week dat die regering beplan om meer as 10 000 polisielede uit diens te stel, kan vir geen regdenkende mens goeie nuus wees nie. Dit is eerder vir die bestuurders wat die groot geld verdien wat ons al so lank ’n Thatcher-moment toewens.

Nietemin: Natuurlik gaan vakbonde Mboweni se noodsaaklike verraad verwerp. En natuurlik gaan die res van die samelewing ook moet betaal.

Dit was duidelik toe Mboweni se opmerkings oor pensioenfondse Donderdagaand rugbaar geword het.

Hy het naamlik sy naam gevoeg by die van Pravin Gordhan en Cyril Ramaphosa deur aan te dui hy dink Cosatu se plan om ’n reddingsboei vir Eskom uit pensioenfondse te haal, is ’n opsie. Toe die volgende: “As ons die roete inslaan van pensioene, moet dit almal van ons wees. Dit kan nie (slegs) staatsamptenare se pensioene (wees) nie, dit moet alle pensioene wees.”

Soos wat Vrydagoggend in Pretoria duidelik gemaak is deur lesers van hierdie koerant en paneellede wat deelgeneem het aan Rapport Regstreeks is Mboweni se opsies baie beperk. Eskom se skuldlas van R450 miljard is onvolhoubaar. Feit. Iewers moet die staat R250 miljard vind. Feit. Hy kan óf uitgawes besnoei met soveel – en dit gaan nie eens gebeur indien die vakbonde instem tot erge besuiniging nie. Óf hy moet belasting verhoog met soveel, wat hy nie kan doen nie omdat dit ekonomiese groei sal belemmer. Ook dit is ’n feit . . .

Óf hy kan die balans iewers gaan haal: By die geldmarkte, wat te duur is en ons jaarlikse besteding aan rente op staatskuld verby die huidige vlak van R229 miljard per jaar sal stoot (in 2023 haal dit volgens Mboweni R290 miljard!); of deur by pensioenarisse te leen, wat oor een van die grootste finansiële bates ter wêreld beskik, herinner Theo Venter ons. Geld wat hulle weliswaar self gespaar het.

Daar is geen goeie opsies nie. En dit is tragies: Dat hierdie regering ons in ’n posisie geplaas het waar net slegte opsies vir die land oorbly en ons maar net kan veg daarvoor dat die mins rampspoedige opsie gekies word.

Ten slotte: Die feit dat dit dalk nodig gaan word om pensioene te gebruik, verander niks aan die wrewel wat ek voel teenoor skatryk fondsbestuurders wat dit goedpraat net omdat hul eie neseiers oorsee lê nie.

Dis bleddie immoreel.

* Die volgende Rapport Regstreeks vind Dinsdag om 09:30 plaas in die George Arts Theatre op George.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.