Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: President Malema sal eendag besluit wat jy kry vir jou grond

Ons weet lankal die ANC vertrou nie swart mense met grond nie – daarom weier die staat om die titelaktes van plase wat vir grondhervorming opgekoop word aan opkomende swart boere oor te dra.

Nou blyk dit die ANC vertrou ook nie die howe om te bepaal wanneer grond sonder vergoeding onteien kan word nie.

Verlede naweek het die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) na afloop van ’n bosberaad besluit die regering, pleks van die howe, moet kan besluit of jy vergoed word as jou eiendom afgevat word. “Die lekgotla het die aanbeveling ondersteun dat die mag om kwessies te bepaal rakende onteiening van grond sonder vergoeding moet setel in die uitvoerende gesag,” het die verklaring gelui wat Woensdag uitgereik is deur die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Dis seker net ’n misverstand, sal akoliete van pres. Cyril Ramaphosa kreun. Cyril het dan net nou die dag nog in Kimberley gesê “die grond sal terugbesorg word op ’n manier wat ekonomiese groei ondersteun en voedselsekerheid handhaaf”. En Cyril wéét tog wat die ANC met sulke mag sal doen: ’n nulvergoeding sal op arbitrêre wyse bepaal word sodra ANC-staatsamptenare beheer kry. Hierdie regering weet immers regtig net nie hoe nie: Rapport het berig dat die helfte van plase wat die regering opgekoop het vir grondhervorming, nie aan enigiemand verhuur word nie. Geen kos word daar verbou nie.

Maar dis geen misverstand nie. Ramaphosa som die NUK-besluit Maandag só op: “Ons is bemoedig dat die lekgotla besluit het om die aanbeveling te steun dat die mag om die kwantum van vergoeding te bepaal vir grond wat onteien word, in die uitvoerende gesag moet setel.”

Die korrupte ANC-regering sit al 25 jaar wat grond betref op sy hande.

Dit terwyl die bewoording van die voorgestelde wysiging van die Grondwet se eiendomsklousule, art. 25, wat in Desember 2019 vir kommentaar gepubliseer is, dit uitdruklik stel dat net ’n hof sal kan bepaal dat ’n nulvergoeding vir onteiende eiendom betaal word. En om goeie rede: Besluite deur politici word geneem met die belange van politieke party in gedagte, eerder as die belang van geregtigheid, of die sot wat sy plaas verloor.

Maar u sien, die ANC is haastig. Want die korrupte ANC-regering sit al 25 jaar wat grond betref op sy hande.

In Augustus het die konstitusionele hof in ’n saak oor grondhervorming gesê: “Dit is nie die Grondwet, of die howe, of die landswette wat te blameer is (vir die stadige pas van grondhervorming) nie. Dit is die vermoë van die departement (van landelike ontwikkeling en grondhervorming) om te doen wat die wet en die Grondwet van hulle verwag wat aan die wortel van hierdie kolossale krisis lê.”

Die ANC het nog nooit vreeslik van geregtelike toesig gehou nie. Hofsake vat lank en kos geld wat liewer gebruik kan word om honger kiesers na politieke saamtrekke te lok.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat die grondwetwysiging moet formuleer, het soos volg verduidelik hoekom die ANC skielik wil hê ’n ANC-minister eerder as ’n hof moet oor vergoeding besluit: “Ons ervaar die hofprosesse as veeleisend, hulle neem tyd, dit vereis hulpbronne. Maar die uitvoerende gesag is ’n demokratiese regering, gekies deur die mense van Suid-Afrika, en hulle moet regeer. Ons sluit nie die rol van die howe uit nie, ons gee net nie die howe die eerste geleentheid om (oor vergoeding) te besluit nie, want dit sal nog 25 jaar neem, en die mense van Suid-Afrika kan nie nog 25 jaar wag vir die kwessie om opgelos te word nie.”

Dis skreiend, pateties en opportunisties. En Ramaphosa sê hy steun dit.

Die DA-LP dr. Leon Schreiber noem dit ’n “konstitusionele krisis” en sê Ramaphosa en sy makkers wil die mag gryp om jou goedsmoeds van jou eiendom te ontneem. Hy is korrek.

Schreiber se kollega, prof. Annelie Lotriet, voeg by wette moet geskryf word nie met ’n spesifieke regering in gedagte nie – sê maar die Ramaphosa-regering – maar ’n toekomstige regering.

Wat sal ’n pres. Julius Malema met die mag maak om te besluit hoeveel om jou vir jou plaas te betaal? En wat sal ’n ANC-regering doen wat in 2021 ’n munisipale verkiesing moet trotseer, en in 2024 gaan probeer om landwyd nog aan die mag te klou?

Diegene wat Ramaphosa en die ANC die voordeel van die twyfel gee oor grond, is deur vals hoop bedwelm. Hulle loop in hul slaap in ’n brandende huis in.

Die ANC se plan is ’n eksistensiële bedreiging vir hierdie demokrasie en ons ekonomie.

Ek wonder: Sal dié koersverandering deur Ramaphosa en sy kaders genoeg wees om die EFF se steun vir ’n grondwetwysiging te verkry?

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.