Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ramaphosa probeer om ons vrese te besweer

Oscar Wilde sou dalk geglimlag het as hy pres. Cyril Ramaphosa Donderdag hoor praat het oor planne vir tablette in skole (een vir elk van meer as 11 miljoen leerlinge teen 2025), ’n dag van afrekening vir korruptes (danksy die Skerpioene 2.0), uitkoms vir Eskom (drie Eskoms pleks van een) en nasiebou (nog, asseblief).

Die Ier het geskryf: “Marriage is the triumph of imagination over intelli­gence. Second marriage is the triumph of hope over experience.”

Laasgenoemde is naastenby wat Ramaphosa kiesers vra – om ondanks hul ervaring te glo dat ’n ANC-regering iets anders as ’n misdaadsindikaat kan wees. Hy belowe dat as jy op die eerste aand van hierdie volgende huwelik saam met hom kooi toe gaan, jy die volgende oggend steeds langs hom sal wakker word eerder as langs die ontbindende liggaam van sy party.

In ’n lang, ambisieuse toespraak het Ramaphosa die vrese probeer besweer van kiesers wat ontnugter is oor die ANC.

Presies tien jaar nadat die ANC in die afwesigheid van Ramaphosa gestem het om die Skerpioene te ontbind – hy was toe nog ’n sakeman – word ’n soortgelyke hoëvlakdirektoraat nou in adv. Shamila Batohi se kantoor gevestig om die getuienis te bekyk wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek aan die lig kom, asook in “ander kommissies en dissiplinêre ondersoeke”.

Dit gee Batohi, wat haar onafhanklikheid sal wil bewys, kans om “staatskapers” te ondersoek danksy wie se hulp Ramaphosa is waar hy is.

Cyril is die eerste president wat suggereer gebrekkige onderrig, pleks van rassisme, is die oorsaak van swart armoede.

John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, merk egter Donderdag op die toets vir dié eenheid – en vir Batohi – gaan kom die dag wat hulle te naby aan Ramaphosa se kring kom en dus nie die kapers nie maar die skurke in die staat self begin arresteer. Die hele ANC het immers ook aanvanklik gedink die Skerpioene was ’n goeie idee.

Ramaphosa het weliswaar in een jaar ontslae geraak van ’n skare Zuma-ministers – Bongani Bongo, Faith Mu­thambi, Nathi Nhleko, Nhlanhla Nene, Fikile Mbalula, David Mahlobo, Des van Rooyen, Mosebenzi Zwane, Lynne Brown en Malusi Gigaba. Dit het op die allerminste gewys dat Ramaphosa kiesers se ongeduld met Zuma se binnekring gesnap het. Maar moeilike toetse vir Ramaphosa se toewyding aan skoon regering lê voor, want die ANC stel tans sy kandidaatlyste saam en in die gange word gefluister dat die lyste vrot van die skurke is.

Sy pogings om die staatsdiens kleiner te maak sal eweneens om den brode deur sy eie kollegas beveg word.

Vrese van beleggers en boere oor grond en eiendomsreg is in dié sin besweer dat die toespraak omtrent glad nie daarna verwys het nie. ’n Opposisieleier het opgemerk: “Dis die een plek waar ek bly is daar is geen konkrete doelwitte nie.” Nietemin duur die onsekerheid oor presies wat van grond gaan word voort, minstens totdat die grondwetlike hersieningskommissie ná die verkiesing sy werk hervat.

Oor die onderwys het Ramaphosa durf suggereer dat jong mense wat nie kan lees nie, sal sukkel om later in die lewe ’n behoorlike inkomste te verdien. Sy voorgangers daarenteen het geglo die enigste rede waarom swart mense armer as wit mense is, is witmonopoliekapitaal en rassisme.

Die plan vir tablette is gek. Wanfunksionele, arm skole, wat eerste aan die beurt sal kom, kort goed opgeleide onderwysers, nie duur tegnologie nie. Dis nóg ’n noodsaaklike nóg ’n voldoende voorwaarde vir sukses op skool. Dis ’n EFF-agtige foefie.

Daar is nog twee gebiede waar Ramaphosa nie oortuig nie.

Eerstens glo hy steeds in die ANC-dogma van staatsbeheer – dat as die ANC net korrupsie kan uitroei, ’n skoon, sterk, sentrale staat sal intree.

Tweedens sukkel Ramaphosa om verby welluidende gemeenplase oor nasiebou te beweeg. Hy het Donderdagaand gesê hy “sien hoe verdeeldheid in ons samelewing toeneem”, onder meer tussen wit en swart, “asof die melk van medemenslikheid wat ons in 1994 in staat gestel het om te versoen, suur geword het”.

Maar hy vra nie waarom nie. Hy sal heelwat respek kry as hy wys hy probeer verstaan waarom veral wit en bruin mense so ontnugter geraak het met die ANC se selfdienende praatjies oor ras en kollektiewe skuld.

In die Schweizer-Reneke-storm was hy stil. Hy het ook Donderdag ’n gulde kans gehad om naas die slagoffers van oop puttoilette by swart skole ook na die brugramp by die oorwegend wit Hoërskool Driehoek te verwys.

Ten minste kyk hy vorentoe: Vir die eerste keer in ’n ANC-leier se staatsrede het die apartheidsverlede byna nie ter sprake gekom nie, en was dit in die eerste plek ANC-agterbankers eerder as wetsgehoorsame burgers wat hulleself afgevra het: Is ons nog welkom hier?

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Staatsrede  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.