Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Raskaart, rassisme tog albei verkeerd

In ’n land waar ’n hele staatkundige bestel op die leuen van swart en bruin mense se minderwaardigheid gebou is, was die vestiging van ’n nie­rassige samelewing nie net ’n droom nie maar ’n noodsaaklikheid.

Ontnugtering met hierdie ideaal het egter redelik gou ingetree.

Swart en bruin Suid-Afrikaners, wat deur ’n totalitêre staat beveel is waar om te woon, werk, eet, sit, swem en slaap, het begin vermoed dat die regering wat nou in hul naam regeer ’n misdadige kabaal geword het. ’n Kabaal wat hoop om aan die mag te klou deur swart mense tegelyk te verarm en al hoe meer afhanklik van staatshulp te maak. Party swart en bruin Suid-Afrikaners was boonop agterdogtig oor of wit mense ooit regtig die ongeregtigheid van apartheid waterpas in die oë gekyk het, laat staan nog boete doen daarvoor.

Ook wit mense is ontnugter.

Nie net weens die vrese dat demokrasie in kru meerderheidsoorheersing kan ontaard nie (kyk maar hoe word Afrikaans geteiken); politici het ook al hoe meer begin om ras en rassisme as politieke wapens in te span, iets wat in die Zuma-jare en sedert die geboorte in 2013 van die EFF ’n wrang crescendo bereik het.

Wanneer ’n Julius Malema wegkom daarmee om wit mense gronddiewe te noem en hulle met ’n slagting te dreig (2016) of sê “witheid” moet keelaf gesny word (2018), voel wit mense, hoe ekonomies veilig baie van hulle ook al is, uitgelewer.

Hulle gaan oor tot verdediging.

En nie net die radikales hamer op ras nie. In Junie 2020 verklaar pres. Cyril Ramaphosa “rassisme is aan die toeneem” – sonder om bewyse voor te hou vir iets wat ontstellend is as dit waar is.

Op ’n vergadering met die Thabo Mbeki-stigting in Februarie het Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, dit só verwoord: “In 1994 het die meeste van ons ingekoop in die idee van die nuwe Suid-Afrika. 27 jaar later is baie van ons kwaad, ontnugterde Suid-Afrikaners, en Afrikaners voel vervreemd. Ons word spesifiek geteiken – as ons sê ons is ‘Suid-Afrikaners’, dan word ons gronddiewe, rassiste, kolonialiste van ’n spesiale aard of invallers genoem.”

Terwyl swart en bruin Suid-Afrikaners kla oor hardnekkige ekonomiese verraad, kla wit mense dat hulle slaansakke is.

Selfs Eskom se André de Ruyter is ondersoek die oomblik toe Solly Tshitangano, verkrygingsbestuurder, hom van rassisme beskuldig het.

Dit was alles onsin, het adv. Ishmael Semenya later bevind. Toe News24 se Pieter du Toit oor Tshitangano se siniese gebruik van die rassekaart berig, het die smalende rassesmous Eusebius McKaiser hom ’n “1652 beneficiary” genoem.

Beskuldigings van rassisme en die rassenarratief is al so misbruik dat die woord amper betekenis verloor het. Dit is geen wonder dat baie wit mense wat van rassisme beskuldig word, bloot hul skouers ophaal nie.

Ná jare van rassemanie was dit daarom verfrissend om in Rapport van 6 Junie die bevindinge te lees van ’n peiling deur Markdata vir die Instituut vir Rasseverhoudinge (“Ons kom goed klaar, dankie” deur Gabriel Crouse in Rapport-Weekliks).

Dit het gewys net 3% van Suid-Afrikaners dink rassisme is Suid-Afrika se ernstigste probleem (werkloosheid is loshande eerste) en 80% sê hulle het die afgelope vyf jaar self geen rassisme ervaar nie.

Crouse verduidelik dat die fiksasie van sekere politici op raspolitiek uit voeling is met hoe die meeste Suid-Afrikaners dink oor ras – en mekaar.

Niks hiervan beteken egter dat rassisme altyd ’n fiksie is nie.

In ’n opvolgartikel vertel my kollega Hendrik (Kabous) Hancke hy en van sy fotograaf-kollegas, Deon Raath, Edrea du Toit en Elizabeth Sejake, het die afgelope jaar meer as 42 000 km agter stories aangery – “begrafnisse, hofsake, moordtonele”. Wanneer die fotograaf by hom wit was, eerder as bruin of swart, het Kabous die k-woord “minstens een keer per week” gehoor, soms in ’n “fluisterende toon”. Wanneer Edrea of Elizabeth by Kabous was, was rassistiese taal haas afwesig.

Kabous se rubriek was ’n herinnering daaraan dat hoewel die meeste wit mense moeite doen om nie aanstoot te gee nie, en baie wit mense verbind bly tot nierassigheid, wit mense plek-plek nog aan ’n uitgediende rassehiërargie klou.

Toe ek Kabous se rubriek op Facebook durf deel, het ’n horde onder aanvoering van die eertydse aktivis Rhoda Kadalie egter in verontwaardiging ontplof.

“Wat noem swartes wittes en bruines? Gaan doen ’n paar onderhoude en navorsing en vind uit,” het Kadalie uit Kalifornië (of waar ook al sy deesdae woon) getier. “Beweeg aan. Ons is almal rassiste, sommiges meer as ander.”

As ’n mens nie meer sowel die speel van die rassekaart as rassisme (veral in jou eie gemeenskap) kan veroordeel nie, het ons wragtag ras-mal geword. Ons moet tog as Suid-Afrikaners kan saamstem dat apartheid verkeerd was, én dat vandag se rasfiksasies verkeerd is, al is dit nie op dieselfde manier verkeerd nie?

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.