Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Resessie in SA kan ANC duur kos by stembus
Waldimar Pelser

Is Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, reg om te vrees wat by die stembus met sy party kan gebeur noudat Suid-Afrika in ’n resessie is?

Godongwana het Woensdag in Luthuli-huis gesê die regering moet dadelik ’n “aggressiewe” stimulusplan implementeer om die groeikoers te verhoog nadat skokdata gewys het die ekonomie krimp, grootliks weens ’n insinking van 29,2% in landbouproduksie op ’n kwartaalgrondslag, laer as wat die suurste doemprofete voorspel het.

In dieselfde week wys data van Standard Bank sakevertroue is op ’n 29-maande-laagtepunt namate bestellings, vervaardigingsuitsette, indiensneming en voorraadvlakke daal – ’n voorspelling van nog “negatiewe groei” vir die res van Cyril se “wonderwerkjaar”.

Teen meer as R15,50 per dollar –

Zuma-vlakke – word Suid-Afrika se buitelandse skuld duurder om te “diens”.

En terwyl pres. Cyril Ramaphosa in China gaan geld leen, praat die markontleders agter bakhande: Ons is nominaal lid van Brics, maar eintlik een van die “Brats” – Brasilië, Rusland, Argentinië, Turkye en Suid-Afrika.

Waar is Nomvula Mokonyane as ’n mens haar nodig het, die kabinetsminister wat in April 2017 ná die soveelste kabinetskommeling gesê het: “Laat die rand val, ons sal hom optel”?

Die mense wat nou glo hulle gaan “grond” kry, en wat boonop geflous is om te dink “grond” is gelyk aan “welvaart”, tel in die miljoene.

Mokonyane het bloot Zuma-dogma verwoord; ’n paar maande vroeër het Collen Maine, president van die ANC-jeugliga, domastrant gesê: “Ons wil hê die rand moet val sodat ons die ekonomie sal beheer wanneer hy weer styg.”

Godongwana is minder ligsinnig en wek selfs die indruk dat die ANC data as bestanddeel wil begin gebruik wanneer hy beleid maak – iets wat in die geval van die ANC só morsig is dat dit die maak van wors in ’n agterstraatslaghuis na ’n wonder van Duitse presisie sal laat lyk.

“Daar is volop bewyse wêreldwyd,” aldus Godongwana, “dat daar ’n korrelasie is tussen sukses by die stembus en ekonomiese prestasie. Daar is geen party wat dit nie in ag sal neem nie.”

In sy pleidooi vir ’n onmiddellike “stimulus”, vergeet hy egter daar is nie geld nie. Dit pla die ANC selde. Toe dr. Aaron Motsoaledi in Junie die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering aangekondig het en gevra is hoe vir die NGV betaal gaan word, het hy gesê dis nie sy probleem nie.

Die ramp wat Godongwana vrees, word ’n werklike gevaar vir die ANC in Mei 2019, want sedert 1994 vaar die ANC slegs goed op stemdag wanneer Suid-Afrikaners se vertroue in die bestuur van die ekonomie hoog is.

Eerder as om vertroue te kweek, word kiesers tans vetgevoer op ’n ongesonde kombinasie van slegte nuus (hoër BTW, hoër werkloosheid, hoër brandstofpryse) en beloftes. Luidens Luthuli-huis se Eskatologie 101 sal toegang tot grond danksy onteiening sonder vergoeding vir miljoene werklose swart mense ’n soort verlossing bring.

Elke belofte wat Ramaphosa maak dat die ANC die Grondwet sal verander want die grond van die land behoort aan “al ons mense”, stoot die verwagtinge op, op, op van mense wat nie ’n ander uitkoms kan sien nie.

Terselfdertyd vermenigvuldig die redes waarom die ANC nie aan die verwagtinge kan voldoen nie.

Eerstens: Negatiewe groei oefen verdere druk uit op leë staatskoffers namate belastinginkomste verder daal, wat nie net beteken dat ’n stimulus onbekostigbaar is nie, maar ook die welsynstaat én die reuse-staatsdiens by die dag moeiliker raak om te handhaaf.

Die tweede rede is dat selfs ’n versnelde, suksesvolle weergawe van die grondhervormingsprojek wat die ANC al 24 jaar versuim om reg te bestuur, nie ons probleme met armoede of werkloosheid kan oplos nie. Die landbou word trouens al hoe minder arbeidsintensief, al hoe meer kapitaal-intensief, en al hoe meer gesofistikeerd. Selfs al verdubbel jy die volgende vyf jaar die getal suksesvolle swart kommersiële boere tot by 10 000, sal jy net ’n geringe indruk op landelike werkloosheid en armoede maak.

Die aantal mense wat nou glo hulle gaan grond kry, en wat boonop geflous is om te dink “grond” is gelyk aan “welvaart”, tel egter in die miljoene.

Derdens is daar ook die moontlikheid dat die ANC, in ’n poging om grondlose mense te paai met beloftes van grond en die markte met beloftes van versigtigheid, só ’n beskeie grondwetwysiging ter tafel lê dat die EFF weier om vir die voorgenome grondwetwysiging te stem, wat die ANC nogmaals as beloftebreker takseer.

As dit agt maande voor ’n verkiesing al duidelik is dat ’n party sy beloftes gaan verbreek, is daar inderdaad rede tot kommer in Luthuli-huis. Leiers wat bereid is om te midde van sulke druk die land bo die party te plaas, is broodnodig – maar nog nie in sig nie.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.