Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Sê nee vir vrees en paniek oor Covid-19

Ons moet pasop om nie so bang te wees vir Covid-19-sterftes dat ons nalaat om te lewe nie. Die risiko om van die siekte te sterf, is vir die meeste mense heelwat laer as wat aanvanklik gereken is. En risiko lê opgesluit in elke sinvolle lewe.

Teen Vrydag is 369 mense in Suid-Afrika weens die nuwe koronavirus dood. Dit kan teen November tot 48 000 styg, sê regeringsadviseurs.

Hierdie syfer is heelwat hoër as die 25 000 wat volgens prof. Shabir Madhi vanjaar weens Covid-19 kan sterf, en die skaars 12 000 wat ’n gesiene groep aktuarisse verwag. Aan die ander kant is dit veel laer as die 351 000 sterftes wat die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise in Maart gesê het kan sterf indien 40% van die bevolking geïnfekteer sou word en min gedoen word om die verspreiding van die virus te keer.

Prof. Alex van den Heever, ’n invloedryke Wits-wetenskaplike, het Woensdag aan News24 gesê epidemiologiese modellering is sowat 25 jaar agter weervoorspellings . . .

Kortom: Ons weet nie hoeveel gaan sterf nie, maar is redelik seker vooruitskattings sal aanhou daal namate kennis oor die siekte verbeter.

In 2005 het die Britse epidemioloog Neil Ferguson bereken soveel as 200 miljoen mense kan weens voëlgriep sterf. 616 is wêreldwyd dood.

Tog verlekker ons ons in vetterige braaivleis, ons stuur die kinders skool toe, ons rook, ons ry vinnig in ons motors.

Tien weke nadat die varkgriepepidemie (H1N1) in 2009 uitgebreek het, is bereken dat die sterftekoers wissel van 0,1% in sekere lande tot 5,1% in ander. Op grond van Ferguson se navorsing het die Britse regering destyds geskat tot 65 000 Britte sou weens varkgriep kon doodgaan.

Net 457 is dood. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het bereken varkgriep se sterftekoers was 0,02%.

Waarom gebeur dit telkens?

Wanneer epidemies uitbreek, word sterftes redelik akkuraat getel, maar net ’n klein fraksie van die werklike positiewe gevalle word getel. Die sterftekoers begin hoog, en daal dan.

As tien mense doodgaan aan ’n siekte waarvoor nog net 100 mense positief getoets is, skop die somme ’n sterftekoers uit van 10%, en as jy dít van toepassing maak op die breë bevolking, lyk die syfers ysingwekkend.

In die geval van Covid-19 styg die aantal sterftes nog, ja, maar die geraamde sterftekoers daal namate dit bekend word hoe baie mense in werklikheid die siekte opgedoen het.

In China het die WGO en die Chinese regering in Februarie gereken die sterftekoers was 2,3% en in Wuhan in Januarie so hoog as 17%. Nou wissel skattings tussen 0,3% en 1% met ouer mense bo-aan die risiko-skaal.

In Frankryk is die geraamde gemiddelde sterftekoers nou 0,7% en in Brittanje niks hoër nie as 0,9%, sê die Centre for Evidence-Based Medicine (CEBM) aan die Universiteit van Oxford. In Ysland, wat die meeste toetse per capita van enige land uitgevoer het, word die persentasie van Covid-gevalle wat sterf gereken op iewers tussen 0,03% en 0,28%.

Op die Diamond Princess, ’n plesierboot met meer as 3 700 passasiers en bemanning, is 712 mense (19%) met Covid-19 besmet en 14 is dood, waarvan die meeste diep in die 70 was.

In Italië, met die tweede oudste bevolking ter wêreld, word nou geraam dat byna nege uit elke tien sterfgevalle ander ernstige siektes onder lede gehad het – tog is almal wat dood is terwyl hulle Covid-19 onder lede gehad het, as Covid-19-sterftes aangeteken.

Die CEBM sê: “In die lig van historiese ervaring, tendense in die data, die verhoogde aantal infeksies in die bevolking en die potensiële impak van die foutiewe klassifikasie van sterftes, beraam ons ’n infeksie-sterftekoers van tussen 0,1% en 0,41%.”

In Suid-Afrika kan Covid-19 inderdaad duisende lewens eis. Vir elke gesin wat geraak word, sal daar pyn wees, soos altyd met ontydige dood.

Op 26 Maart het Statistiek Suid-Afrika sy verslag oor die oorsake van sterftes in 2017 gepubliseer. Dit wys sowat 20 000 mense sterf jaarliks aan griep en longontsteking, soveel as 34 000 aan tuberkulose, 25 000 aan diabetes, soveel as 24 500 aan hartkwale en 5 800 in motorongelukke.

Dis skokkend. Tog beweeg ons vrylik tussen mense wat dalk TB het, ons verlekker ons in vetterige braaivleis, ons stuur die kinders skool toe, ons rook, ons ry vinnig in ons motors.

Mense wat hierdie risiko’s aanvaar maar blootstelling aan Covid-19 ten alle koste wil vermy, kan kies om tuis te bly. Laat die res van ons leef.

Oor die inperking in Brittanje het lord Sumption, ’n oud-appèlregter, aan die BBC gesê: “Ons is daarop geregtig om risiko’s te loop met ons eie lewens, veral wanneer die lewe slegs die moeite werd is as jy aan sosiale aktiwiteite deelneem wat noodwendig risiko behels. Dit is deel van die lewe.”

’n Lewe wat oorheers word deur vrees vir ’n Covid-19-dood is nie vir my die moeite werd nie. En vir jou?

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.