Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Sien die DA nou keiser Maimane is kaal?

Alan Winde se vertoning as LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme moes die fokus gewees het van Woensdag se aankondiging dat hy die Demokratiese Alliansie (DA) se premierskandidaat vir die Wes-Kaap in volgende jaar se belangrike algemene verkiesing gaan wees.

Winde het immers harde data om mee te spog: teenoor Statistieke Suid-Afrika se nasionale syfer vir Julie van 27,2% is die amptelike werkloosheidskoers in die Wes-Kaap 19,5%. Altesame 640 000 nuwe werksgeleenthede is op Winde se wagbeurt in die provinsie geskep, waar ekonomiese groei van 2,8% vanjaar verwag word teenoor die landwye syfer van tussen 0,7% en 1% vanjaar, aldus Moody’s.

Vroeër die maand het Kaapstad met sy veel kleiner ekonomie Johannesburg as die land se finansiële sentrum verbygesteek – dit volgens die Global Financial Centres Index. Die afgelope week het die Wêreldbank gesê Kaapstad reik vinniger permitte aan ondernemings uit as enige ander Suid-Afrikaanse stad en is nou onder die wêreld se vinnigste 30 in dié verband.

In ’n land wie se mense in elke peiling sê die ekonomie en werkloosheid behoort leiers se topprioriteite te wees, moes bogenoemde syfers Winde die weghol-voorloper in die premiersresies gemaak het.

As Maimane enigsins geglo het Winde is die beste kandidaat, sou hy nie sy eie naam in die hoed gegooi het nie.

En dit was hy klaarblyklik, ook nadat hy voor die DA se Wes-Kaapse keurpaneel verskyn het in ’n siftingsproses wat die DA sê strate beter is as die agterstraat-vuisgevegte plus omkoopgeld wat die ANC klaarblyklik in die samestelling van sy kandidaatlyste gebruik.

Winde se naam is sedert 1 Julie, toe die kandidaatlyste bekend gemaak is, saam met dié van ses ander gebruik: Fazloodien Abrahams, Bonginkosi Madikizela (provinsiale leier), David Maynier, LP, Kelly Baloyi, Jacobus MacFar-lane en Michael Mack. Net Madikizela, Maynier en Winde het ooit ’n kans gestaan. Totdat Maimane self uit die DA-bloute as ’n opsie opgedoem het.

Die Sunday Times het verlede Sondag berig dat Maimane homself benoem het as premierskandidaat, ’n voorreg wat hom kragtens DA-reëls toekom.

Die nuus is begroet met sulke skok deur die DA-leierskap, wat Maimane geglo het toe hy herhaaldelik gesê het sy party kan Gauteng volgende jaar wen, dat hul leier binne skaars 48 uur gat omgeswaai het en Woensdag in ’n tragiese vertoning (gekenmerk deur hubris en tegniese probleme) ewe vroom verklaar het: “Ek het volle vertroue in Alan Winde”. Maimane het bygevoeg dat die besluit om nie meer te staan nie “niemand s’n was nie, dit was Mmusi Maimane s’n”.

Is “niemand” en “Mmusi Maimane” dan dieselfde mens?

As Maimane enigsins geglo het Winde is die beste kandidaat, sou hy nie sy eie naam in die hoed gegooi het nie. Winde betree die verkiesingsveldtog met die wete dat sy partyleier óf reken hy self kon ’n beter job gedoen het óf dat dit nie vir hom saak maak nie, want ambisie is al wat tel.

Waarom het Maimane dit gedoen? Was hy so bang dat sy eie party besig is om te sien die keiser is kaal dat hy vir hom ’n veilige job as Wes-Kaapse premier wou inpalm voordat sy party ’n loesing kry in 2019? Of vertrou hy eintlik nie sy eie party se keuringsproses nie? Of het hy begin wonder of die DA, wat agteroorbuig om niemand aanstoot te gee nie, daarmee kan wegkom om ’n wit man as premierskandidaat te benoem? Dit is immers te midde van die heersende waansin oor ras en gender ’n dapper ding om te doen vir ’n party wat hom so gereeld deur aktiviste op Twitter laat lei.

As Maimane werklik die ambisie gekoester het om skaars agt jaar nadat hy in 2010 by die DA gaan aanklop het om ’n raadslid in Johannesburg te raak ook die pos van premier op sy kerfstok te hê, waarom sy eie federale bestuur nie maande gelede al daaroor in vertroue neem en hulle probeer oortuig dat dit nie net goed is vir sy eie CV nie, maar ook vir die DA?

Of die DA sy geld in die Wes-Kaap op die regte perd verwed het, sal die tyd leer. Winde het ’n lang geskiedenis agter hom en geen swart merkies langs sy naam nie. Dit raak egter al hoe duideliker dat die DA, in sy haas om swart kiesers te lok en in sy vaste geloof dat ’n swart leier daarvoor ’n voorwaarde is, die algemene verkiesing met ’n gedisoriënteerde hoofleier binnegaan.

  • Lees ook die vraag-en-antwoord met Mmusi Maimane hier.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.