Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Stop nou die kritiek op Cyril? Twak.

Die regering wil hê ons moet glo die optrede van die nasionale ­bevelsraad oor Covid-19 en van soldate en die polisie tydens die ramptoestand mik maar net om lewens te red. Ons moet dit asseblief in daardie gees aanvaar.

En hulle – ons – hét baie van die regering se dekrete aanvaar: In Rapport en City Press se peiling het 77% van respondente sterk steun uitgespreek vir die eerste inperking wat vanaf 27 Maart vir drie weke sou geld.

Maar diegene wat sedertdien begin vrae vra het oor die sinvolheid van sommige reëls; die bona fides van sekere soldate of ministers; en die sentralisering van staatsmag word al hoe meer in die bek geruk.

Vier gevalle trek my aandag.

Op 27 April skryf ’n prokureurs­firma namens twee advokate ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa waarin hulle “respekvol” vra vir duidelikheid oor die wetlike grondslag van die nasionale Covid-19-bevelsraad, die liggaam wat byvoorbeeld besluit het om die landwye inperking onbepaald te verleng. Wie hou toesig oor die bevelsraad? wou die advokate weet. Kragtens watter wet is die bevelsraad in die lewe geroep? Is die bevelsraad se regulasies dalk ongeldig?

Die regslui het Ramaphosa tot Maandag gegee om te antwoord, by gebrek waaraan hulle sou litigeer.

Die advokate se vrae is nooit beantwoord nie.

Dinsdag het die direkteur-generaal in die presidensie, dr. Cassius Lubisi, só gereageer: “Ons nooi jul kliënte om konstruktiewe alternatiewe voor te stel eerder as om ons met litigasie te dreig. Hul aandrang daarop om al die maatreëls wat geneem is om Suid-Afrikaanse lewens te red en openbare gesondheid te verseker, in gedrang te plaas, strook nie na ons respekvolle mening met hul posisie as amptenare van die hof nie.” Die advokate se vrae is nooit beantwoord nie. Hulle is eerder afwysend daarvan beskuldig dat hulle lewens in gevaar stel deur die optrede van die bevelsraad te bevraagteken.

Dieselfde bevelsraad weier nou om die notules bekend te maak van die vergadering waar besluit is om tabak steeds tydens vlak 4 te verbied selfs al het die president vroeër aangekondig dit sal weer wettig wees.

Die notules is “geklassifiseer”. Twak, man.

Tweede: Sondag het Rapport berig die regering wil die uitdeel van kospakkies landwyd beheer. Woensdag – skuimend om die mond – sê die ANC se Pule Mabe. “Die ANC neem met kommer kennis van ’n groeiende patroon van waninligting in seker dele van die media wat hard probeer om die samelewing se aandag af te lei van die ware bedoelings met die landwye inperking wat afgedwing word deur die regering. Rapport . . . het ’n skreeuende opskrif gepubliseer wat insinueer dat maatskaplike en sake-hulpverlening deur die regering in dié moeilike tyd vir ons land nie bedoel is vir die res van Suid-Afrika se mense nie. Die opskrif en berig kom oor as betreurenswaardig en ontdaan van die waarheid en saai twyfel en dra by tot verdeeldheid in ons samelewing.”

Die regering, aldus Mabe, wys voortdurend dat hy tot eenheid en samewerking oor rasgrense verbind is en die media moet saamwerk, dankie.

Waninligting? Twak, Pule.

Dit is natuurlik juis omdat eenheid en nierassigheid vir Rapport selfs belangriker is as wat dit vir Mabe is, dat ons berig het oor die ANC se beheerssugtigheid oor kospakkies wat gekeer het dat kos honger mense bereik, en oor die verklaarde beleid om hulpverlening aan kleinsakeondernemings aan swart ekonomiese bemagtigingsvereistes te koppel.

Waninligting? Twak, Pule.

Derdens: 24 uur nadat die bedrewe TV-joernaliste Xoli Mngambi en Jane Dutton Maandagoggend op eNCA kritiek uitgespreek het teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en Ramaphosa se u-draai oor tabak het Mngambi en Dutton byna betraand om verskoning gevra dat hulle dit durf waag het om die president en die dokter te takel “in ’n tyd waarin die president en sy span ons lei deur een van die moeilikste tye in ons land . . . Ons vra onvoorwaardelik om verskoning.”

Die twee astrante swernote is sedertdien nie weer op TV gesien nie.

Laastens: Die weermag weier om die soldate wat daarvan beskuldig word dat hulle Collins Khosa in Alexandra doodgeslaan het omdat hy buite sy huis was, te skors. Die regspan van die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê in hofstukke aan Khosa se familie dat die minister se opmerking destyds dat soldate net sal “skop, skiet en donner” wanneer dit regtig nodig is, eintlik net figuurlik bedoel is en tog asseblief nie letterlik opgeneem moet word nie.

Was dit “figuurlik” toe Khosa doodgeslaan is? Twak.

Regslui en Rapport en rebelse joernaliste en die bemoeisieke naasbestaandes van ’n man wat deur soldate doodgeslaan is, moet seblief meer respek toon vir Ramaphosa en die “kollektief” want hulle weet wat die beste is vir ons en doen maar net hul bes.

Twak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.